20 November 2018, 20:00 – 21:30

R140 – R160

DIE WÊRELD… NÁ DIE REËN

Joshua na die Reën se unieke musiekstyl en strelende stem boei luisteraars reeds sedert die eerste note van sy debuutalbum, Joshua na die Reën, in 2014. Ghoema-musiektoekennings vir Nuweling van die Jaar en Beste Kontemporêre Manlike Kunstenaar, asook ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Beste Nuweling, ’n Woordfees-toekenning vir Beste Solo-Kunstenaar en temaliedjies vir verskeie flieks, televisieprogramme en -veldtogte, was maar net die begin van ’n suksesvolle loopbaan wat baie vinnig vlam gevat het. Vanjaar word hierdie sukses gevier met ’n nuwe vrystelling uit dié talentvolle musikant se eie pen.

Hoendervleismooi is die perfekte woord om Joshua na die Reën se splinternuwe album, Die Wêreld Binne My, op te som.

Anders as die eerste CD, wat meestal gegaan het oor hoop en droom, is Die Wêreld Binne My se liedjies meer persoonlik en handel dit oor die wêreld binne elkeen wat daarna luister. “Oor die ‘Heuwels & Berge’, die ‘Stof & Sterre’ die ‘Droogte’, die tye wat dit voel of alles ‘Stroomop’ is, die tye waar ’n mens droom en dan ook die mooi in dit alles… die goeie sowel as slegte tye en sal dit jou om elke hoek en draai inwag.”

Die CD bestaan uit sestien oorspronklike introspektiewe snitte, waarvan die lirieke almal al ’n jaar terug reeds voltooi is, maar met tyd gegroei en ontwikkel het tot volwaardige treffers wat lewens kan verander. “Alhoewel hy nie ’n liedjie wil uitsonder as sy gunsteling nie, glo hy dat luisteraars – buiten vir die titelsnit – ook baie gaan hou van Stroomop, Stof & Sterre en Dromers. Die temalied van die gewilde fliek, Vir Altyd, met dieselfde naam, asook Voshaarnooi, wat spesiaal vir die fliek Ballade vir ’n Enkeling opgeneem is, maak ook deel uit van die speellys.

Een van Joshua se jarelange drome word ook met die nuwe vrystelling verwesenlik, nl. om die opname in samewerking met die TUKS Camerata-koor te doen.

Joshua na die Reën het, buiten vir Huisgenoot Skouspel, al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen, Die Heuwels Fantasties en nog vele ander gedeel

As kunstenaar, glo Joshua dat musiek die krag het om emosie weer te gee, wat jy nie altyd in woorde kan uitdruk nie, en Die Wêreld Binne My is die perfekte voorbeeld hiervan. Dit bou voort op Joshua na die Reën se wenresep en is ’n versameling roerende sielsmusiek, wat jou sal nooi om jou hart oop te maak en saam te reis deur al die aspekte wat van jou mens maak.

20 November 2018, 20:00 – 21:30 Atterburyteater