Dis sowat ’n maand sedert VivA se nuwe Woordeboekportaal-app geloods is met ’n skolekompetisie wat Atterbury help borg. Die hoogs kreatiewe inskrywings stroom in, vertel projekbestuurder Marlie Coetzee…

Hoeveel inskrywings was daar sover vir die skolekompetisie?
Die skoolkinders is gaande oor die kompetisie en dis ongelooflik om te sien hoe kreatief en kunstig die Suid-Afrikaanse jeug is – ons het al meer as 160 inskrywings van regoor Suid-Afrika ontvang!

Hoe werk die kompetisie en wie kan inskryf?
Leerlinge word genooi om ’n Afrikaanse idioom (of twee) af te stof en dit op ’n unieke manier visueel of grafies voor te stel. Dit kan ’n prentjie wees wat hulle teken, ’n foto wat hulle neem, ’n video wat hulle maak, of enige eie skepping wat hul digitaal aanmekaarsit. Hulle skryf dan in deur hulle ontwerp op Instagram te plaas met @viva_Afrikaans en #viva_afrikaans, #idioom en hul #skoolnaam in die boodskap.

Hoe kies julle die wenners?
Die inskrywings word elke week vir die kunstenaar en ons medewerker Diek Grobler aangestuur en hy wys die weeklikse wenner aan. Ons kondig elke Vrydag ’n wenner aan, tot Vrydag, 4 September, wanneer inskrywings vir die universiteitsbeurs wat Atterbury Trust borg, sluit. Ons kontak dan die skool en tref reëlings met die leerling se Afrikaanse onderwyser om Vrydag tydens die Afrikaanse periode die goeie nuus aan die wenner oor te dra. Sy of haar foto en dié van haar wenkunswerk word dan op VivA se Instagram- en Facebook-platforms geplaas, en daardie middag op ons mediavennoot, RSG, se Tjailatyd word dit ook aangekondig.

Hoe werk die pryse?
Daar is elke week T-hemde, selfone en tablette en ander koel pryse op die spel, en die wenner van ons groot prys ontvang natuurlik Atterbury se studiebeurs ter waarde van R150 000. Leerlinge moet in graad 11 of 12 en by ʼn opvoedkundige instelling geregistreer wees om in aanmerking te kom vir hierdie prys. Hulle mag vir enige studierigting van hul keuse inskryf met die prys, solank hul in Afrikaans studeer. Die wenner sal op Vrydag 18 September aangekondig word. Verder kry die skool met die oulikste, oorspronklikste en/of meeste inskrywings nog ’n verdere R15 000 kontantprys met die komplimente van Atterbury Trust – dankie julle!

Ons het ’n voëltjie hoor fluit dat daar nog kompetisies sal wees?
Ja, daar is ook ’n kompetisie vir Afrikaanse onderwysers: die onderwyser moet een van die volgende Afrikaanse idiome kies en dan moet hulle Afrikaanse klas dit grafies uitbeeld: 1) Hoe meer siele hoe meer vreugde; 2) Vele hande maak ligte werk; 3) Almal oor een kam skeer; 4) Die kinders sit en tande tel; of 5) Uithaal en wys.
Die beste inskrywing sal ’n volledige leerstel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se verklarende woordeboeke ontvang ter waarde van R8 450! En ons moet weer vir Atterbury Trust dankie sê, want die prys word geborg deur Atterbury Trust en die WAT. Die sluitingsdatum van die kompetisie is ook Vrydag, 4 September.

Wie het die pryse gewen tot nou toe?
Maritza Jacobs, wat in Graad 11 is aan Curro Heuwelkruin, met haar interpretasie van “Hy beweeg teen ’n stink spoed”;  Hanri Hattingh, in Graad 12 aan Oranje Meisieskool met “Maak ’n berg van ’n molshoop”; Werner Bronkhorst, in Graad 8 aan Pretoria Boys High School met “Al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelik ding” en “Lekker is net ’n vinger lank.” En ook David Augustyn wat in Graad 11 by Stellenberg Hoërskool is, vir sy weergawe van “Van ’n padda vere probeer pluk.”

Volg VivA op Instagram https://instagram.com/viva_afrikaans/  en “like” die blad op Facebook https://www.facebook.com/vivaafrikaans

Viva