Dit bly maar ’n opdraande stryd om die tandarts-dienste waaraan die Triomfkliniek se pasiënte so ’n dringende behoefte het, aan die gang te kry, want tandheelkundige toerusting is duur. Die goeie nuus is dat ons reeds deur ’n weldoener-tandarts genader is wat sy hulp gratis wil beskikbaar stel. Ons gesels met dokter Gys de Necker van Johannesburg, oor die uitdagings, en hoekom hy sterk voel oor terugploeg in die gemeenskap.

Jou praktyk is in Johannesburg… Hoe het jy by die Triomfkliniek uitgekom?
Ons het praktyke in Melville, George en Century City in Kaapstad. Lizz Meiring is ‘n pasiënt van my en het my gevra om betrokke te raak by die Triomfkliniek – ek weet sy was seremoniemeester by die onlangse Triomfkonsert om geld in te samel vir die kliniek.

En wat het jou laat besluit om betrokke te raak? Hoe gaan jy dit bewerkstellig?
Alles is nog nie gefinaliseer nie, maar ek sal heel waarskynlik beurte maak met ander tandartse om sessies  te kan doen.

Wat is nog nodig by die kliniek voor jy operasioneel kan wees? Wat is jou raad om die Triomf tandekliniek behoorlik aan die gang te kry?
Daar is nog net ‘n stoel, en voor mens pasiënte kan sien moet dit volledig toegerus word met materiaal, instrumente, ‘n suierpomp en ‘n kompressor.

Vertel ons bietjie meer van jouself? Wat doen jy as jy nie mense se tande regmaak nie?
Ek woon in Linden en werk in Melville, en vlieg ook gereeld George en Kaapstad toe. Ek het ‘n passie vir tandheelkunde en het die Akademie vir Gerekenariseerde Tandheelkunde en ook die Akademie vir Metaalvrye Tandheelkunde gestig. Ek is al 38 jaar getroud met Marietjie, wat ook by die praktyk se finansies betrokke is. Sy is ook ‘n craniosakrale terapeut en ‘n Pilates-instruktrise. Ons het drie volwasse kinders, een is ‘n geoktrooieerde rekenmeester, een ‘n argitek en die laaste ‘n Frans-opgeleide fyngebak-sjef. Ek is ook ‘n amateur versamelaar van Suid-Afrikaanse kuns, oefen en draf graag en het vroeër jare ook die Comrades gedoen.

Wat is die grootste tandheelkundige knelpunte vandag?
Ek spesialiseer in die TM-gewrig, wat nie in Suid-Afrika vir tandheelkundestudente geleer word nie. Baie meer mense en veral jong kinders haal verkeerd asem en dit beïnvloed hul kaakontwikkeling en algemene gesondheid.

En wat verwag jy gaan die grootste probleme by Triomf se pasiënte wees?
Ek ken nie die area by die kliniek nie, maar ek vermoed ons gaan baie kinders sien wat dringende aandag nodig het omdat hul dalk nie goeie mondhigiënie het nie.

Is mense nog steeds so bang vir tandartse? En hoe hanteer jy dit – wat is die geheim om mense op hul gemak te sit?
Ek dink nie mense is meer vandag so bang nie  omdat hul danksy die internet baie meer ingelig is. Die “tricks of the trade” is ‘n baie lang gesprek!

Hoekom dink jy is dit belangrik dat private instansies en individue betrokke raak in agtergeblewe gemeenskappe met geriewe soos die Triomfkliniek?
Ongelukkig is tandheelkunde baie duur – onthou, geen tandarts kan ‘n pasiënt behandel sonder gespesialiseerde toerusting nie, en daarom is dit vir die gewone mense soms net te duur om goeie tandheelkunde te bekostig. Dit is ‘n opvoedingstaak met mondhigiëne en kinders. Soms is daar nie goeie voorbereiding van die ouers in die agtergeblewe gemeenskappe nie. Die staat het net eenvoudig nie die kennis en die geriewe in tandheelkunde nie, daarom dink ek dit is belangrik om tyd af te staan aan agtergeblewe gemeenskappe. Ons praktyk behandel al jare lank kinders van die kinderhuise.

Ons verwelkom enige bydraes tot die aankoopfonds vir die tandheelkundige toerusting wat broodnodig is, en enige tandartse wat dalk toerusting het wat nie meer in gebruik is nie, word genooi om die kliniek te oorweeg as ‘n waardige ontvanger. Skakel gerus vir Zahn Hulme of Karin Dercksen by 012 4711600, of kontak Zahn by [email protected]