Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie het vanjaar baie belowende spelers gelok, maar Kapenaar Qden Blaauw het almal onder die klavier ingespeel om die algehele prys te verower. Ons het met die 15-jarige musikale wonderkind gaan gesels. 

Vertel ons iets oor jou agtergrond – waar gaan jy skool, in watter graad is jy, en hoe lank speel jy al klavier?
Ek is 15 jaar oud en het begin klavier speel toe ek agt was. Ek gaan skool by Reddam House Durbanville en is tans in Graad 9.

Is daar nog musikales by die huis? Vertel ons bietjie van jou gesin.
Nee, glad nie! My pa is in die rekenaarwese en my ma is ’n professor aan Die Universiteit van Stellenbosch; hulle is geensins musikaal nie. Ek het maar per toeval begin klavier speel. Ek het eendag vir my ma gewag na skool toe ek hoor hoe die kinders klavierlesse in een van die klasse kry. Ek het toe my ma gevra of ek ook kan begin. Sy het my ingeskryf by die skool (Welgemoed Primêr) waar ek my eerste lesse gekry het. Ek het ’n jonger sussie wat ook geensins belang stel in musiek nie – sy bak graag koek en wil eendag haar eie bakkery besit.

Watter rol speel musiek in jou lewe? Speel jy enige ander instrumente?
Ek speel ook viool, maar spandeer nie genoeg tyd daaraan nie. Musiek is baie belangrik in my lewe – ek geniet dit verskriklik om op te tree en om gehore te vermaak. Dit help ook baie met my konsentrasie op skool. Ek was ook bevoorreg om al twee keer oorsee te gaan optree… musiek stel my in staat om baie nuwe vriende met dieselfde belangstellings van oral in die wêreld te ontmoet.

Hoe het die oorsese optredes gebeur?
Die eerste keer was in Pole as deel van die Allianz Junior Musiekkkamp. Ek is gekies as een van 10 jong pianiste wêreldwyd vir ’n week se meesterklasse by vooraanstaande Duitse professors. Die laaste aand het ons opgetree in Warskou, waar ons ook Lang Lang International Music Foundation meesterklasse gedoen het.

Die tweede keer is ek genooi na Duitsland vir meesterklasse aan die Universiteit van Mannheim en ook in vier konserte opgetree het. In een van die konserte het ek opgetree saam met die Duitse polisie-orkes.

Het jy al voorheen kompetisies gewen? Indien wel, op watter oorwinning is jy die trotste?
Ek het al verskeie kompetisies gewen, onder meer die Samro Hubert Van Der Spuy-kompetisie, die Johan Vos Piano-kompetisie en die Peter Kooi-Musiekkompetisie. Elke wenslag was vir my spesiaal, maar die Atterbury-kompetisie was my eerste een in  Pretoria en ek sou dit en die  Samro-kompetisie uitsonder omdat hulle albei groot nasionale kompetisies is.

Het jy gedink jy staan ’n kans om hierdie een te wen? Was dit die eerste jaar dat jy deelneem; en wat reken jy het die beoordelaars laat besluit om vir jou die algehele prys toe te ken?
Dit was my eerste keer in die Atterbury-kompetisie; en ek het gereken as ek hard oefen ek ’n kans sou staan om goed te doen. Die beoordelaars het gewoonlik sekere goed waarna hulle kyk in so ’n kompetisie. My onderwyser sorg gewoonlik dat ek baie goed voorberei is in alle aspekte en ek dink die beoordelaars het miskien besluit dat ek die stukke goed geïnterpreteer het.

Watter van jou stukke wat jy gespeel het was jou gunsteling, en hoekom?
Ek dink my gustelingstuk vir die kompetisie was die Chopin Ballade, want dis ‘n baie moeilike stuk is en dit was die eerste keer dat ek dit uitgevoer het. Ek sien gewoonlik baie daarna uit om nuwe stukke uit te voer.

Watter een was die moeilikste om baas te raak?
Juis die einste Chopin Ballade, omdat ons nie baie tyd gehad het om dit voor te berei nie. Ek het dit vir die eerste keer gespeel in die derde ronde van die kompetisie.

Watter kategorieë het jy alles gewen, behalwe die groot prys? En wat was jou totale prysgeld?
Behalwe die algehele prys het ek ook die volgende pryse gewen: beste vertoning van ’n romantiese stuk; beste vertoning van ’n barokstuk en beste vertoning van ’n klassieke stuk. Altesaam het ek prysgeld van R 51 750 losgeslaan.

Wat het jy met jou prysgeld gedoen?
Ek het ’n paar “earpods” vir my foon, en bietjie klere gekoop. Ek het ook vir my sussie ’n present gekoop en vir my ouma ’n paar rand gegee. Die res van die geld het ek gespaar om te help om my klavier te restoureer.

Oefen hou jou sekerlik baie besig; het jy tyd vir enige ander stokperdjies; wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek kuier graag saam met my vriende; en ek speel ook graag rekenaarspeletjies.

Wat vorentoe vir Qden? Wat is die plan na matriek?
Na matriek wil ek graag oorsee in musiek gaan studeer. Ons is juis tans besig om te kyk watter goeie opsies daar is. Ek sal graag eendag ’n konsertpianis wil word.