Een van die mooiste aanhalings oor digkuns kom van die Engelse digter William Wordsworth. “Poetry,” het hy geskryf, “is the spontaneous overflow of powerful feelings: it takes its origin from emotion recollected in tranquillity.” In ons tweede aflewering oor Atterbury se Capital Poetry Project, stel ons twee digters bekend en deel hulle gedigte wat vir Cool Capital 2014 op plekmatjies gedruk is en by Atterbury se Lynnwood Bridge en The Club winkelsentrums se restaurante gebruik is.

Die biennale kom op 16 November tot ‘n einde so maak seker jy versamel almal, en staan ‘n kans om te wen! Klop aan by die restaurante in Lynnwood Bridge en The Club en begin bymekaarmaak!

 

Gedagtes by die Voortrekkermonument

Marius Crous

skaar saam voor die doosradio
vir die groot gekwaak van onse liewe leier
kwaak-kwaak
kwaak-kwaak
kwakekwaak kwaak

sal die doosradio verskulp
van binne spiraal op spiraal maak
vir die opklouterslag van die duisend miertjies
vir die opvreet van die suikerbrein

fries op fries wit zoeloes met pluime
wat assegaaie swaai en waseile skeur
steekassegaaie in kindertorsos
oopvouende vroue met kappies vir gesigte

wat roer daar onder in die senotaaf
daar onder in die poel van lig
nou dat die ysskots om die pole smelt
gaan die son steeds dingaan verdrywe?
Voorheen in Guillotine 2 verskyn. Beskikbaar by Graffiti Boeke en Protea Boekwinkel teen R30.

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]

Oor die digter: Marius Crous het drie digbundels die lig laat sien. Sy debuutbundel Brief uit die Kolonies het die Universiteit van Johannesburg se debuutprys gewen in 2003. Hy is ‘n dosent in Afrikaans aan Nelson Mandela Metropolitan University en het sy eerste doktorsgraad in 2002 aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf terwyl hy voltyds by die parlementêre vertalingsdiens Hansard gewerk. Sy tesis was oor Antjie Krog. Hy het in 2013 nog ‘n doktorsgraad, in Engels, aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.

Wat is jou konneksie met Pretoria? Wat het aanleiding gegee tot hierdie gedig?
Ek kom eintlik net in Pretoria vir kongresse en het een keer die monument besoek. Dit laat my altyd aan ‘n moerse box-draadloos uit die ou dae dink en toe het ek maar met daardie idee gespeel…

Wat is jou opinie van die biennale en spesifiek die Capital Poetry Projek en openbare kuns?
Anders as byvoorbeeld die Nederlanders wat selfs poësie op hulle vulliswaens sit, is ons hier ter lande maar baie sku vir die poësie, miskien omdat mense dink dis moeilik. So enigiets om die digkuns wyer bekend te stel, moet mens aanprys.

Is jy altyd aan die skryf? Waaraan werk jy op die oomblik?
My derde digbundel, Vol draadwerk, het in Oktober 2012 by Protea verskyn. Op die oomblik werk ek nog aan gedigte en loop rond met die idee om ‘n roman te skryf. Maar ek is ‘n lui skrywer; ‘n Sondagskrywer…

 

CC_Placemats-3

emigrant

Christa F. de Vries

‘n lewe luier ligjare ver
soek son in stede klipryk kil
doolhofdwaal deur drome – lank gelede –
van blomtapyte bome bloupers
krone waar Meintjieskop se klokkeklank
wyd deur Arcadia klink, Sunnyside verby,
dof oor rant en dal verdwyn. Pretoria-
stad speel Vivaldi vier seisoene immer
sondeurdrenk, silwer dansende fonteine|
– suidwaarts, huiswaarts –
Pretoria plek van pers verlang
omvou hier doolhofdrome
offer teer verlange op jou pleine
– sarkofaag heilig Suiderkruis –
as ‘n vliegtuig deur jou wolke breek.

 

CC_Placemats-4

In jou Pretoria

Christa F. de Vries

Perstapyt vir jou gerol Pretoria Tshwane-stad
jou wese luier waar dalekronkeldraal
– naelstring nuut gebind –
jou uterus amnionsakberge rante ewig blou
jy daarbinne veilig vasgehou
sing luid jou stadsakkoorde
spuit silwerson vesuviusfonteine
kruipend klouter jy koppies, kantrant tot rantkant
ver oor die Magalies ysterrooi verby
– Magnoliadal Meintjieskop –
waar blomprag vrylik bloei, Uniegebou-klokkespel
luidkeels klink klankesielsdiep dring
ek soek, my Pretoria, soek my lief iewers
tussen sandsteenpilare vryheids-amfiteater
– kleine koepel weergaloos –
het jy hom gesien, gewaar, my persblou Tshwane –
hier nou my geliefde, in jou verewig halleluja
singluid jou stadsakkoorde
spuit silwerson vesuviusfonteine

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]

Oor die digter: Christa de Vries is ‘n sielkundige en maatskaplike werker wat aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het en haar studies in Brittanje voortgesit het. Sy is ‘n kenner in die veld van hipnoterapie en persoonlike stres- en veranderingsbestuur en tree as ekspert-getuie op in familie-, siviele en kriminele howe in Suid-Afrika. In Engeland het sy ook gewerk as assessor in die Departement van Justisie en is die skrywer van ‘n boek oor die impak van emigrasie, genaamd “Ripples on a global Pond – coping with change when you or your loved ones emigrate”. Sy is getroud en het een dogter, Tanya, wat in Engeland woon. Skryf is haar stokperdjie, al vir amper 14 jaar, en sy skryf heel eenvoudig omdat dit vir haar lekker is sê sy!

 

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#9772b2″ corner_color=”#562d87″ ]WEN! Maak al 14 Capital Poetry Project gedigte bymekaar en wys ons op Twitter ’n foto van jouself met al 14 plekmatjies, gemerk #CapitalPoetry14 en @AtterburyTrust. Sluitingsdatum is 20 November, en die beste foto op ons tydlyn wen ’n geskenkbewys vir enige vertoning by die Atterbury Teater.[/gdlr_styled_box]