Zahn

Zahn Hulme is die uitvoerende trustee van Atterbury Trust

Kinders is geskenke uit die hemel en Zahn Hulme glo jy moet al hulle lewensfases met dankbaarheid omarm. Binnekort is die kleinspan groot en hunker jy na die spesiale tye saam as gesin.

Alles was mooier in daardie begintyd. Die maan was helderder, die lenteblomme meer en ons gesinnetjie van drie volmaak.

Ek kan steeds die verwondering onthou wanneer ek snags met die klein lyfie op my skoot gesit het.

Later was ons gelukkig om nog ’n seun by te kry. Eers het ek gewonder of ’n mens net soveel liefde vir ’n tweede kind kan hê. Maar die oorvloedige liefde vir die nuwe aankomeling was net vanself daar in my hart. Ons gesin het ’n nuwe dimensie bygekry.

Gesinsgeluk word in konneksie gevind. In die eerste plek om geborge te voel in my verhouding met my man.

Ek is gelukkig om ’n man te hê wat kan sê wat in sy hart is. Ek weet dat ek en ons seuns sy kosbaarste geskenk is. Hy was nog altyd bereid om opofferings te maak en wil net die beste vir ons gee.

Dis belangrik dat julle twee steeds dinge saam doen om mekaar se harte te hoor. Om vroegoggend saam te oefen of om aan die einde van ’n lang dag op die stoep te sit met ’n glas wyn in die hand.

As werkende ma was dit vir my ononderhandelbaar om in die middae by my kinders te wees. Hulle moes weet ek sou alles los en daar wees as hulle my sou nodig kry.

Ma moes baiekeer met haar rekenaar op die skoot sit en tennis of krieket kyk. Maar ek was daar om hulle oog te vang ná ’n goeie ses, ’n uithaler vangskoot en ’n barshou op die tennisbaan.

Ek kon daar wees om hulle ná skool op te laai en eerstehands te hoor hoe die dag was. Ek kon in hulle oë sien as dinge nie so vlot verloop het nie. Ons kon saam oor ’n snaakse storie lag.

Alledaagse geluk spruit uit ’n lewe van dankbaarheid. Vir goeie tye met hartsmense, vir die mooi rondom ons, vir gesondheid en geleenthede. Ek probeer altyd goed wees vir almal wat my pad kruis, met ’n sagte woord, ’n glimlag en respek.

Dit is belangrik om die alledaagse spesiaal te maak. Rituele as gesin is só belangrik – om saans saam ’n lekker bord kos te eet. Pluk ’n blom of blaar uit jou tuin, steek ’n kers aan en kyk mekaar in die oë. Dis julle tyd om die wêreld uit te sluit en teenwoordig in die oomblik te wees.

Ons seuns is nou studente en een van die lekkerste dinge as hulle vakansies tuis is, is om om die etenstafel te kuier. Veral noudat hulle self entoesiasties kos maak en met interessante geregte eksperimenteer.

Kinders bring jou gou aarde toe, veral as jy jouself en die wêreld soms te ernstig opneem. Ek geniet my seuns se humor – hulle hou daarvan om met hulle ma te spot!

Ouers alles gee om aan hulle kroos geleenthede te bied. In ’n gesin moet daar egter ook wedersydse opoffering wees.

Kinders moet verantwoordelikheid binne gesinsverband leer. Dit is goed om van kleins af sekere huis takies aan hulle te gee. Hulle kan tafel dek, troeteldiere versorg, die swembad skoonmaak of help kar was.

Dis só belangrik om al die fases van ’n mens se lewe te geniet. Baie keer raak ons vasgevang in die sleur van elke dag en wens dat ’n bepaalde tyd net kan verbygaan. As die kinders net klaar is met kleuterskool of laerskool of hoërskool!

Koester eerder elke fase en die alledaagse vreugdes. En sê elke dag dankie vir jou hartsmense.

Hierdie artikel verskyn in die Mei 2020 uitgawe van Finesse. Lees meer op Finesse se Voelgoed webtuiste