Die Triomfkliniek steun op die welwillendheid van vrywilliger-medici wat goedgunstiglik van hul dienste gratis aan die behoeftige pasiënte skenk.  Wie is hierdie engeldokters? Vandeesmaand fokus ons op Dr Pieter du Plessis, ’n spesialis-dermatoloog wat elke week een of twee Triomfkliniek-pasiënte heeltemal gratis behandel vanuit sy hipermoderne eenheid by die Club Surgical Centre in Hazelwood, Pretoria.

Dr Pieter, hoe het jou betrokkenheid by Triomfkliniek gebeur; wanneer het jy hiermee begin, en hoe gereeld sien jy Triomfpasiënte?
Ek ken Dr Marc Roscher al jare en toe hy begin het met die Triomfkliniek, het ek deur ons gereelde kontak daarvan gehoor. Deur ons gesprekke het ek verneem van die erge velkankers onder die Triomfpasiënte wat geen ander heenkome het vir behandeling nie omdat hulle nie mediese sorg kan bekostig nie. Ons multidissiplinêre velkankereenheid is die enigste van sy soort in Gauteng en ons spesialiseer in die verwydering van komplekse velkankers, en daarom het ek besluit om ons hulp aan te bied. Dr Roscher verwys die moeilike, komplekse gevalle na ons toe, en ons het onderneem om minstens een pasiënt per week te help, soms as die tyd dit toelaat en die geval is baie ernstig, twee per week.

Vertel ons meer van die Mohs-tegniek, ons verstaan dis ’n besonderse metode om velkanker te behandel?
Die Mohs-tegniek is die mees effektiewe snykundige metode vir die verwydering van velkanker in die wêreld. Die gewas word meestal onder plaaslike verdowing saam met ’n baie dun lagie van die omringende gesonde weefsel verwyder. Die verwyderde weefsel word dan onmiddellik, op die plek deur die Mohs-snydokter in ’n Mohs-histologie laboratorium geprosesseer, terwyl die pasiënt oorgeplaas word na die saal. Danksy die Mohs-metode is daar geen raaiwerk waarvolgens die dokter moet besluit of al die kwaadaardigheid verwyder is nie – hy kan 100% van die gesnyde area rondom en onder die gewas sien; en baie akkuraat met hierdie beelde sien of daar enigsins iets van die gewas agtergebly het. Indien daar wel nog kwaadaardigheid bespeur word, kan die pasiënt direk teruggebring word na die teater om wat agtergebly het baie akkuraat te verwyder sonder om aan enige gesonde omringende weefsel te raak. En as die Mohs-prosedure wys dat alles skoon is, kan enige nodige rekonstruksie dikwels sommmer op dieselfde dag gedoen word.

Die eindresultaat is dat mens so seker moontlik is dat die hele kwaadaardigheid verwyder is met die kleinste moontlike insnyding. Ek het die spesialisopleiding in 2013 deur ’n American Society of Dermatologic Surgery Fellowship in Amerika ontvang om te kwalifiseer as ’n Mohs-sjirurg, en toe ek terugkom in SA deur die baie tydrowende en duur proses gegaan om hier Gauteng se enigste Mohs-eenheid te begin – ons was inderdaad die heel eerste Mohs-eenheid buite Amerika wat die groen lig gekry het van die Amerikaanse organisasie om nuwe Mohs-sjirurge plaaslik, in ons eenheid op te lei. En nou lei ek een nuwe spesialis per jaar op in die Mohs metode. My eerste Mohs “fellow”, Dr Nivana Ramlachan, het na afloop van haar opleiding by die eenheid aangesluit, en tans is Dr Tshepo Mokwena besig met sy opleiding.

Hoekom het jy besluit om van jou tyd beskikbaar te maak vir Triomf? Dit is so ‘n wonderlike gebaar.
As die enigste Mohs-eenheid in Gauteng, en enigste ware multi-dissiplinêre Mohs- en rekonstruksie-fasiliteit in Afrika, kan ons komplekse gevalle behandel, en mens wil tog as dokter ook teruggee en net eenvoudig mense help. Dit gaan ook beide kante toe – die Triomfpasiënte gee indirek terug deur ons die geleentheid gee om op baie gevorderde kankers wat komplekse ingrype nodig het, te opereer, en te leer. Hoe ons dit by die kliniek hanteer is dat die “fellows” fokus op die Triomfpasiënte, en ek is daar om te help met die moeilikste dele. Die Triomfpasiënte kry presies dieselfde behandeling as al die ander private of mediese fonds-pasiënte, en al die personeel in die eenheid, tot die rekonstruktiewe sjirurge met wie ons saamwerk, gee hulle tyd gratis vir die Triomfpasiënte. Daar is vier rekonstruktiewe spesialiste, Drs Japie de Wet, wat vanaf die begin deel van die eenheid was, en al met vele Triomfpasiënte gehelp het, Stefan Rawlins, Liana Volkwyn, en Nicolette Landman. Die verskaffer van die Clinisut steke wat ons gebruik, Acacia Medical, het ingestem om die steke vir die Triomfpasiënte te borg; Club Surgical Centre het aangebied om die hospitaaldienste wat die pasiënte nodig het, gratis te verskaf – hulle word opgeneem en soos enige ander betalende dagpasiënt gehanteer. Ons wonderlike laboratorium-bestuurder, Ilze Lambrecht, het aangedring om verder te help en sy het begin om uit haar eie sak te betaal vir die voorskrifte van antibiotika, pleisters en pynpille wat na die prosedure vir die pasiënte voorskryf word, om seker te maak die mense word agterna reg ondersteun om gesond te word.

Hoe lank is julle al in die Club Surgical Centre?  Wat maak hierdie fasiliteit vir jou ideaal vir die werk wat julle doen?
Nadat ek teruggekom het van die VSA waar ek Mohs-snykunde bestudeer het, het ek vir vier jaar ’n Mohs mikrografiese snykunde-eenheid by die Life Brooklyn Daghospitaal bestuur, waar ek 3000 Mohs-operasies uitgevoer het. Ons het in September 2018 na die Club Surgical Centre getrek – die fasiliteit is pasgemaak na ons behoeftes, so dit is perfek vir alles wat die Skinmatters Mohs Micrographic and Reconstructive Surgery Unit aanbied.

Hoeveel Triomf-pasiënte het jy al gehelp, en wat is die tipieseprobleme wat jy behandel met hulle?
Ons is al so twee jaar lank betrokke en het al omtrent 100 mense wat deur die kliniek verwys is, gehelp. Die pasiënte het almal komplekse velkankers wat tipies meer gevorderd en verwaarloos is as die gemiddelde pasiënt wat ons andersins behandel. Dit is juis omdat hierdie mense nie kan bekostig om sommer dokter toe te gaan nie, en baie langer loop met iets wat potensieël gevaarlik is. Teen die tyd dat ons hulle sien, is die kankers ver gevorderd, en ingewikkeld om te behandel omdat meer ekstensiewe snywerk nodig is.

Wat is die ernstigste prosedure wat jy nog op ‘n Triomfpasiënt uitgevoer het, en hoe het dié persoon herstel?
Ons het al baie erge gevalle gehad, soos die oom wat velkanker op sy kopvel gehad het, wat toe in sy kopbeen ingegroei het. Jou kopbeen het in werklikheid twee lagies been met sagte weefsel tussenin, en hierdie kanker het sy wortel in daardie buitenste laag ingestuur. Ons moes die buitenste laag van die kopbeen oopkap om die kanker te verwyder. Dit behels ‘n proses waarvolgens ons ’n spesifieke Mohs-salf aan die plek smeer en dit dan verbind, en die pasiënt loop ses weke lank daarmee – dit maak die been sagter. Na ses weke het ons toe onder plaaslike verdowing die beskadigde deel van die kopbeen met ’n hamer en beitel uitgekap, terwyl die pasiënt by sy positiewe was, en ons heeltyd verduidelik het wat ons doen. Ons het toe die verwyderde weefsel volgens die Mohs-metode getoets om seker te maak dat ons al die kwaadaardigheid gekry het, en toe ’n veloorplanting gedoen om die gat te herstel. Die pasiënt het heeltemal gesond geword.

Ons moes ook al byvoorbeeld iemand se hele oor verwyder omdat dit deurtrek was van kanker, en iemand anders se hele neusvel, en daarna is rekonstruktiewe sjirurgie gedoen om die pasiënte ’n nuwe neus en minstens werkende oor te gee.

Wat is die mees bevredigende terugvoering wat jy onlangs van ‘n pasiënt gekry het?
‘n Pasiënt van Bela-Bela wat met kanker gediagnoseer is en nie die operasie kon bekostig nie, het vir sy plaaslike koerant ’n pragtige bedankingsbrief geskryf vir ons span nadat ek, bygestaan deur my kollega Dr Tshepo Mokwena, hom geopereer het. Dit was ‘n lang operasie, maar dit was ’n groot sukses… dit in sigself was bevredigend, maar sy openbare bedanking het so baie vir ons beteken.

 Vir enige navrae oor Skinmatters, kontak [email protected], 012, 001 9876