Atterbury ontwikkelingsbestuurder Gerhard van der Westhuizen is ’n man met ’n missie. Sedert 2015 bied hy ’n jaarlikse gholfdag aan om geld in te samel vir liefdadigheid. Hy vertel meer daaroor.

Herinner ons, waar het die idee vir die gholfdag ontstaan?
Ek en my vriend Rayno het beide kanker oorwin en het daarna besluit dat ons dit jaarliks sal vier deur ’n gholfdag vir al ons vriende, familie en kollegas te hou. Gedurende ons behandeling het ons besef dat dit ’n redelike duur oefening is en ons was seker dat daar mense daar buite moet wees wat nie die mas finansieël kan opkom met die onkoste hiervan nie. Die doel van die dag is om geld bymekaar te maak om te skenk aan sulke behoeftige kankerlyers of die families wat deur die simpel siekte beïnvloed is.

Hoeveel geld het jy oor die jare al ingesamel – het jy rekord gehou?
Jip, ons het in totaal R1,755 miljoen ingesamel oor die laaste vier jaar… en elke sent is weggegee!

Wanneer is vanjaar se gholfdag gehou, en waar? En wie wou jy vanjaar help met die insameling?
Hierdie jaar se gholfdag is op 22 November gehou by die Pretoria Country Club. Ons was weer in staat om verskeie mense te help; onder andere, soos elke jaar, het ons ‘n bedrag aan die Atterbury Trust geskenk vir die goeie werk wat hulle doen; en dan was daar ook ’n vier-jarige meisietjie wat dringend ’n beenmurgoorplanting moet kry.

Het jy vanjaar enigiets anders gedoen as verlede jaar – is daar lesse wat jy uit vorige jare se proses geleer het, wat jy nou kon toepas?
Ons is bevoorreg om hierdie jaar se gholfdag by die Pretoria Country Club te kon hou. Dit is beslis een van die beste bane in Gauteng en die reëlings het seepglad verloop. Die grootste les wat ons oor die jare geleer het is dat daar is baie mense wat wil bydra en hulp gee.

Hoeveel geld het julle vanjaar ingesamel?
Ons het sover R530 000 ingesamel, en die donasies kom steeds in.

Kon enigiemand inskryf en deelneem? Hoeveel plekke is elke jaar beskikbaar?
Die dag is ’n uitnodigingsbyeenkoms en is dus nie regtig oop vir die algemene publiek nie. Ons nooi elke jaar die spelers wat ons passie deel om ’n daarwerklike verskil te maak. En al 144 plekke is weer vanjaar binne 48 uur gevul.

As mense meer inligting wil hê, met wie moet hulle in aanraking kom?
Enigiemand is meer as welkom om my te direk te skakel indien hulle meer inligting oor die dag wil hê. My nommer is 082 301 5278.