Die aap is uit die mou en terug in die boom! Hy sit in die mik, langs ‘n blink nuwe boomhuis!

Vir die afgelope paar maande het verbygangers in 16de straat, Pretoria, gesien hoe twee okkerneutbome ekstra vertakkings kry – en nie in die vorm van hout nie, maar van glas en staal.
GROOTfm 90.5 skiet die hoogtes in, in hul reistog na die sterre! Die GROOT-span mik eersdaags nie noodwendig na ‘n wyer verspreidingsgebied nie, maar ‘n hoër een. ‘n Splinternuwe satelliet-ateljee geleë in The Village in Hazelwood, Pretoria, bekend as die GROOT Boomhuis, word binnekort offisieel ingehuldig.

Volgens Armond Boshoff, Uitvoerende Direkteur van Atterbury Groep SA, het die ligbulb-oomblik gespruit uit gesprekke tussen Atterbury Groep CEO, Louis van der Watt, en die Bloudruk Groep se Uitvoerende Hoof, Hardus Zevenster – waarvan GROOTfm 90.5 ‘n groot deel is.

Volgens Boshoff het hulle gesels oor die moontlikheid van ’n mobiele ateljee wat gereeld vanaf die Old East Precinct tydens ‘n maandelikse mark, of selfs weekliks in The Village, kan uitsaai. “Soos dit met hierdie tipe gesprekke gaan wanneer ’n mens eers opgewonde raak oor ’n ding, was daar ’n voorstel van ’n permanente studio vir GROOTfm 90.5 in The Village”, sê Boshoff. “Hardus was dadelik saam met ons opgewonde oor die gedagte.” Dié gedagte, word toe ‘n boomhuis.

Boshoff is van mening dat dié boomhuis, net soos GROOTfm 90.5 en The Village, uniek is. ‘n Wenresep vir sukses!

“Vir ons as leier in Afrikaanse media in Pretoria, is dié satelliet-ateljee belangrik sodat GROOTfm 90.5 die hartklop van Pretoria prakties kan voel. Die GROOT Boomhuis gee vir ons die geleentheid om op ‘n daaglikse basis met ons luisteraars kontak te maak, in vennootskap met die Atterbury Groep wat besig is om ‘n gesogte kuier-omgewing in Hazelwood te vestig. Dit gaan beslis ‘n unieke geleentheid skep waar luisteraars die energieke en dinamiese uitsending van beide die oggend- en middag-spitsverkeer-uitsendings: Die GROOT Brekfis en Die GROOT Trek van GROOTfm 90.5, fisies te kan beleef”, sê Zevenster.
Verder is Zevenster opgewonde oor die assosiasie met die Atterbury Groep en alles wat dié innoverende groep beplan in en om Hazelwood se The Village-ontwikkeling. Die uitnemendheid waarmee die GROOT Boomhuis ontwerp en gebou is, beklemtoon GROOTfm 90.5 se toewyding teenoor die Afrikaanse gemeenskap om ten einde dié gemeenskap met uitnemendheid te dien – van uitsaai tot insaai.

Hoofargitek van Anthrop Architects en van die GROOT Boomhuis, Leon van der Westhuizen, vertel dat hy opdrag gekry het vir ‘n “container”-struktuur wat as ‘n satelliet-ateljee tussen twee bestaande okkerneutbome opgerig en aangewend gaan word. Met die klein balkon, vorm die ateljee ‘n visuele verbintenis met The Village tydens uitsending, vir toekomstige kunstenaaroptredes, interaksie met verbygangers en ‘n mooi uitsig van The Village. Volgens Leon was die grootste uitdaging die posisionering van die “container”-studio, wat ondersteun word deur vier stewige staalkolomme met groot oorhange. “Dit skep letterlik die gevoel dat die studio in die lug hang tussen die takke”, sê Leon.

‘n Elegante spiraaltrap, geklee in vertikale houtlatte, lei jou na die ingang van die studio. Die struktuur skitter in die vroeë-oggend se ooste-son met staal- en hout-skuifskerms wat handmatig beheer word om die buite-lig uit te hou, of om die buitelug in te laat.

GROOTfm 90.5 is oorstelp oor die nuwe avontuur wat hulle te wagte is in die GROOT Boomhuis. Dit verteenwoordig alles wat hulle is: groei, vooruitgang en bou. Die argitektuur verteenwoordig die presiese simboliek waarna GROOTfm 90.5 die afgelope agt-jaar streef en sien die GROOT-span uit daarna om nog hoër hoogtes te bereik. Luisteraars kan binnekort uitsendings vanaf die GROOT Boomhuis verwag.