Vir 39 gholfjoggies is die gras nie net groener aan die anderkant van die draad nie, maar sommer tot dóér anderkant die speelveld nadat elkeen van hulle ’n splinternuwe bril ontvang het.

Hierdie 39 manne van die Pretoria Country Club-gholfklub in Waterkloof het vandeesweek met nuwe oë na die wêreld rondom hulle gekyk en die glimlagte het van oor tot oor gestrek toe hulle deur Fledge Capital, Atterbury Trust en Brooklyn Optica, van getoetse brille voorsien is.

Louis van der Watt, HUB van Atterbury, het aan die einde van 2020 ’n rondte gholf by die Pretoria Country Club gespeel en agtergekom dat sy gholfjoggie glad nie kan sien waar die bal geland het nie. Louis weet hoe belangrik dit vir ’n gholfjoggie is om behoorlik te kan sien – dit is op stuk van sake presies wat hul werk behels – en het dadelik werk daarvan gemaak. In ’n latere gesprek met Konrad Fleischhauer en Fourie du Preez van Fledge Capital het die gedagte ontstaan om al die gholfjoggies te borg vir oogtoetse en brille waar nodig.

Volgens Fourie du Preez speel die meeste van Fledge se manne weekliks gholf by Pretoria Country Club.

“Ons wou ’n verskil maak en het gevoel niemand anders kyk na die gholfjoggies nie. Sonder goeie sig is dit amper onmoontlik om hulle werk te kan doen en ons het besef dit is ’n aspek waar ons wérklik ’n verskil kan maak.”

Linda Lochner van Brooklyn Optica (ook een van Atterbury se huurders by The Club in Hazelwood) het besef die behoefte vir oogsorg vir gholfjoggies is wesenlik en het dadelik ingekoop in hierdie visie om die toetse te subsidieer.

Marna Pieterse, Praktykbestuurder by Brooklyn Optica, bevestig dat hulle tot op hede 41 manne gesien het waarvan slegs 2 geen korreksie nodig gehad het nie.

Brooklyn Optica is deel van die primêre gesondheidsorg-span. Diabetes en selfs hoë bloeddruk kan opgetel word in ’n oogtoets. ‘n Hele aantal van die gholfjoggies het dus na aanleiding van hul oogtoetse ook verwysings na medici vir verdere mediese ondersoeke nodig gehad.

’n Spesiale dankie aan dr. Kurian van Zuid Afrikaans Hospitaal asook dr. Odendaal van die Pretoria Ooginstituut wat op kort kennisgewing baie moeite gedoen het om verder te help.

Brooklyn Optica is baie dankbaar vir die geleentheid wat aan hulle gebied is om al die gholfjoggies se oë te kon toets, sê Lochner. Hierdie span oogkundiges het verder seker gemaak dat al die gholfjoggies se brille ook getint is en ultraviolet-beskerming het om hul oë genoegsaam te beskerm.

Volgens Patrick “Bruno” Maubane, voorsitter van die Caddie Committee, is dit vir hulle baie belangrik om goed te kan sien.

“As jy dra vir iemand en jy verloor die bal, is dit eintlik net moeilikheid. Dis baie belangrik om te kan sien waar die bal gaan en om dit te kry. Ons is baie bly om die brille te kon kry,” het hy gesê nadat die 39 gholfjoggies die afgelope Woensdagoggend met hul nuwe brille spoggerig vir die kamera geglimlag het.

Pieter Fouche, kaptein van die gholf-afdeling van Pretoria Country Club, het tydens die seremonie sy waardering uitgespreek vir hierdie inisiatief van Fledge Capital, Atterbury Trust, Brooklyn Optica en al die ander betrokke individue. Volgens Fouché is dit ’n diep menslike gebaar wat die lewe van die PPC-joggies op ’n manier geraak het wat baie ander mense maklik as vanselfsprekend aanvaar.

Nie net vir diegene wat die oogtoetse geïnisieer het nie, maar ook vir die deurlopende bystand, leiding en hulp toe die toetse die nodigheid vir verdere mediese sorg geopenbaar het.

“Hierdie toewyding tot die verbetering van ons joggies se lewe, is vir almal van ons ’n inspirasie.”