Daar was nog nie in ons leeftyd presies so ’n uitdagende akademiese jaar nie… Atterbury Trust se afstuderende beursstudente wat vanjaar hul welverdiende grade sou ontvang, het hulself in teenstelling in grendeltyd bevind. Maar die dinamiese jongmense in ons beursfamilie laat hulle ook nie terughou nie, en so het ons foto’s van ’n paar “virtuele” gradeplegtighede ontvang! Pas gekwalifiseerde mediese dokter, Etienne Roberts, het sy storie met ons gedeel…

 

Watter graad het jy verwerf, by watter universiteit, en wat was die plan vir 2020 voor die pandemie getref het?
Ek het deur die genade van God my MBChB verwerf by die Universiteit van Pretoria en is tans besig met my internskap-periode by Tembisa Hospitaal.

Waar was jy was toe die grendeltyd aangekondig is… en hoe het dit jou lewe geraak?
Ek was met verlof in Clarens toe grendeltyd aangekondig is. Dit het my verlofplanne so ’n bietjie omver gegooi, want ons moes dadelik terugkeer Gauteng toe voor die inperking op Vrydag 27 Maart ingeskop het.

Vertel ons alles omtrent jou virtuele gradeplegtigheid… waar is jou foto geneem?
Toe die gradeplegtigheid uitgestel is, het ek sommer aangebied om ’n 24-uur skof vir my departement te doen die dag voor die plegtigheid sou gebeur het. Die foto is geneem deur my kollegas by die hospitaal pas nadat ek die vorige 24 uur op my voete was. Ek het dit sommer as ’n grap afgeneem om te stuur vir my familie en vriende wat saam met my opgewonde was oor die dag se gradeviering wat ons sou gehad het. Ek het my baadjie oor my skouers getrek, ’n maatband om my bolyf vasgehou en een van die pasiënte lêers op my kop gebalanseer, vir die pret daarvan.

Die res van die dag het ek slaap ingehaal en my liggaam laat herstel na die harde skof!

Wat was die hoogtepunt van jou “gradeplegtigheid-dag” vir jou, en wat het jy gemis?
Die hoogtepunt was beslis die lekker warm stort na die skof, en die gevoel toe my kop op die kussings neergesak het! Wat ek meeste gemis het van ’n regte gradeplegtigheid, was die kans om al ons vriende wat saam klaargemaak het en tans reg oor die land versprei is, weer te kon sien en hulle stories te kon hoor oor hoe hulle ervaring van hul hospitale is. Ek sou ook graag die dag saam met my ouers en meisie wou geniet en vier!

Jy’t reeds begin werk – vertel waar jy jou bevind en wat jy doen? Het jy blootstelling aan Covid-pasiënte en maak dit jou ervaring erg stresvol?
Ek is baie bevoorreg om my eerstejaar internskap by Tembisa Hospitaal te kan doen. Dit is harde werk, maar ek kry baie ervaring, wat die doel van hierdie tydperk is. Ek werk nie direk met Covid-pasiënte nie, hoewel daar wel nou soos in enige ander hospitaal in Gauteng, pasiënte is wat daarvoor behandel word. Ons doen maar ons beste om onsself te beskerm in hierdie tyd. Sommige dae is daar minder hande omdat kollegas wel siek word – nie noodwendig net aan Covid nie – en dan werk ons maar langer ure om deur die werk te kom. Gelukkig is ek nie alleen in die “vuur” nie en word ek elke dag beskerm en gedra deur ons Hemelse Vader.

Dink jy mense sal weer teruggaan na hoe dinge was voor die pandemie? Wat reken jy sal verander en hoe gaan dit jou lewe beïnvloed?
Ek glo wel ons sal terugkeer na die lewe soos voor die pandemie, dit gaan net ’n ruk vat. Wat ek wel dink, is dat mense hierna baie meer aandag gaan gee aan hulle fisiese gesondheid, wat nie ’n slegte ding is nie.

Persoonlik reken ek die finansiële effek van hierdie pandemie gaan ons land vir die res van my lewe affekteer. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie, maar ons kan net aanhou bid en weet dat God in beheer is al lyk die situasie vir ons asof dit baie donker en hopeloos is.

Die Trust se beursfonds ondersteun tans ongeveer 180 talentvolle, toegewyde studente soos Etienne, in baie gevalle jongmense wat sonder hierdie hulp nie verder sou kon studeer nie. Ons het al amper 700 in totaal al gehelp, en 500 graduandi gelukgewens. Donasies van ons groothartige vriende van Atterbury maak dit vir ons moontlik om die volgende generasie toe te rus vir ’n blink toekoms – en ons reik ’n uitnodiging aan almal wat kan bydra, om meer uit te vind deur hier te kliek.