Vier dae in die saal van ’n fiets sit nie in almal se broek nie, maar vir een van Atterbury se projekbestuurders, Evert Kleynhans, is hierdie avontuur ook ’n manier om terug te gee. Trap vir Hoop is ’n wonderlike inisiatief wat pas vir die tweede keer plaasgevind het. Evert vertel meer oor die hard trap na Durban…

Hoe en wanneer is die idee vir Trap vir Hoop gebore, en wanneer het julle dit die eerste keer aangebied?
Ek en Leon Olivier, ’n wiskunde-onderwyser by Nuwe Hoop Skool, het jare lank gepraat oor die idee om saam fiets te ry af Durban toe. In April verlede jaar, het ons toe uiteindelik op ’n datum besluit… gelukkig het Leon dit al tevore gedoen so die roete en beplanning was die minste van ons probleme. Ons het sommer ’n paar fietsry-vriende bymekaar gekry vir die eerste toetslopie, en die eerste Trap vir Hoop het in September 2018 plaasgevind.

Wat beoog julle met die projek?
Van die begin af wou ons ’n teruggee-element hê, en het besluit ons sou geld insamel vir organisasies na aan ons harte. Die begunstigdes is Nuwe Hoop Skool en die Atterbury Trust; wat albei steun op donasies en baie baat vind by hulp van eksterne donateurs.

Hoeveel ryers het vanjaar deelgeneem teenoor verlede jaar?
Verlede jaar was ons tien en vanjaar 14. My Atterbury-kollega Pieter Olivier het ook vanjaar saamgery. Ons het ryers met dieselfde fiksheidsvlak en belangstellings gekry om saam te ry. Dis vier lang dae op die fiets en dis belangrik om as groep saam te ry; niemand mag vooruit ry of agterbly nie, ons beweeg as ’n groep saam. Dis belangrik vir almal se veiligheid. Nuwe Hoop Skool het hul skoolbussie gegee om saam te ry, so daar was heeltyd ’n voertuig voor en agter ons.

Wanneer het vanjaar se Trap vir Hoop plaasgevind, en hoe ver het julle gery?  Kan jy ons meer oor die roete vertel?
Ons het nou van 19 September tot 22 September gery, oor ‘n totale afstand van 707km. Dag een het in Alberton begin en in Reitz geëindig – 194km. Dag twee was van Reitz tot Harrismith, 151km. Dag drie was van Harrismith tot by Loxley House in Nottingham Road, 210km; en die laaste dag van daar tot in Amanzimtoti, 152km verder.

Wat dra ’n mens by jou op so ’n lang rit?
Ons water, energiedrankies en kos vir die pad was in koelbokse in die voertuie wat ons gevolg het. Ons het so elke drie, vier uur gestop om vars drinkgoed te kry en iets te eet.

So julle is almal ervare ryers – enige beroemdes onder julle?
In fietsrykringe verseker! Ons het vanjaar twee vorige SA kampioene en ‘n ryer van Switserland gehad wat saamgery het.

Gaan julle dit weer volgende jaar doen, en sal julle dit oopgooi vir ander mense om ook saam te ry?
Ja ek glo ons sal. Ons sal volgende jaar die details vroegtydig bekendmaak; sodat meer mense kan inskryf. Ons sal na gelang van wie inskryf in groepe indeel as die fiksheidsvlakke nie dieselfde is nie. Ons inskrywingsgeld vanjaar was R7 000, wat die verblyf op pad, en kos ingesluit het.

Wat was vir jou die hoogtepunt van vanjaar se rit?
Die hele rit en saamkuier vanjaar was baie lekker – en die weer het goed saamgespeel, wat ‘n bonus was!

Hoeveel geld het julle vanjaar ingesamel?
Donasies is steeds besig om in te kom, maar ons hoop om meer in te samel as verlede jaar, toe ons ongeveer R80 000 gehaal het.