Die España produksie keer terug na die Atterbury Teater later hierdie jaar! Helena en Maria Lorca Montoya sal te sien wees in September saam met hul dansleerlinge, professionele dansers en ‘n kitaarduo.

España 2014 is die gesamentlike geesteskind van Helena en haar dogter Maria Lorca en beloof om verskillende reekse van Spaanse dans met nuwe, opwindende choreografie te vertoon. Hierdie jaar het hul twee kitaarspelers naamlik Mischief Guitar Duo wat sal bydra tot die meesleurende melodieë van Spaanse musiek. Helena sal ook weer haar briljante cheografie spel verken deur Ravel se ‘BOLERO’ te choreografeer – ‘n musiekstuk wat baie na aan haar hart lê.

Dit is Helena Montoya se laaste aand op die verhoog! Sy het besluit om afskeid te neem van die verhoog omdat sy haar energie en vaardighede wil toespits op choreografie, dans-onderrig en produksie.

Rosa Jiminez – onderwyseres, danser en choreograaf van Sasolburg sal weereens as gaskunstenaar optree. Sy en Maria Lorca het onlangs by die Busan Internasionale Dansfees in Suid-Korea opgetree. España 2014 sal een van die werke van dié fees vertoon asook ‘n nuwe duet, wat spesiaal vir Espana 2014 uitgewerk is.

Hierdie vertoning beloof ‘n fees van moderne en tradisionele Spaanse dans, vurige ritmes en betowerende musiek. ‘n Fees vir die sintuie en kos vir die siel!