Die trane het gevloei toe ‘n bejaarde ná jare weer kon hoor, en Adéle Changuion was daar om die oomblik vir Maroela Media se webwerf vas te vang.

“Nou kan ek vanaand 7de Laan luister,” sê Magdalena Ludick (73) nadat sy ʼn gehoorapparaat ontvang het en weer vir die eerste keer in jare kan hoor.

Solidariteit Helpende Hand het onlangs in samewerking met Impact Hearing talle bejaardes weer die gawe van gehoor gegee. Hierdie projek is tans in sy tweede jaar en vanjaar het Impact Hearing 150 gehoorapparate geskenk wat 75 bejaardes in staat stel om weer te kan hoor. Die groep, verlede maand getoets is, het op 30 Junie by Impact Hearing se kantoor in Pretoria hul apparate ontvang.

“Dis so ʼn voorreg om betrokke te wees by hierdie projek, want dit verander mense se lewe op ʼn tasbare manier,” sê René du Preez, projekorganiseerder van Helpende Hand.
Yentel Vorster, wat die passing gedoen het, het aan elke bejaarde stap vir stap verduidelik hoe om die apparaat te gebruik en in stand te hou, en met soveel deernis dié emosionele oomblik hanteer.

“Toemaar, dis mos trane van blydskap, ek is net bly dat ons kon help.” Só het Vorster getroos wanneer die oomblik vir sommige ontvangers net te groot was.
Dis ongelooflik om te sien hoe mense reageer wanneer hulle weer kan hoor. Die stilte en afwagting terwyl die passing gedoen word, is amper ondraaglik, en dan, wanneer die persoon weer kan hoor, is daar absolute ekstase. Geen woorde sal ooit dié oomblik kan opsom nie.

Kyk na die video om te sien hoe Magdalena Ludick gereageer het toe sy weer die eerste keer in jare kon hoor:

Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.