Foto: Prysoorhandiging by Pretoria Boys High School. V.l.n.r. Zahn Hulme (Atterbury Trust), Werner Bronkhorst (pryswenner), Gerhard van Huyssteen (VivA)

Werner Bronkhorst, ʼn veertienjarige leerder van Pretoria Boys High School, is aangewys as die eerste weeklikse wenner van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se skolekompetisie. Sy naam is op 24 Julie 2015 op Tjailatyd aangekondig, terwyl sy inskrywing en ʼn foto van die prysoorhandiging op RSG se webwerf vrygestel is.

Vir dié kompetisie moet leerders Afrikaanse idiome op kreatiewe, visuele wyse uitbeeld en dan op Instagram plaas met die merkers @viva_afrikaans, #viva_afrikaans, #idioom, #skoolnaam en #graad. Inskrywings word dan deur die VivA-span en die bekende kunstenaar, Diek Grobler, beoordeel.

Oor Werner se weninskrywing skryf Diek Grobler onder andere: “Die tegniese uitvoering daarvan is knap, en ek hou van hoe hy die teks integreer in die ontwerp. Die visuele beeld lewer ook kommentaar op sigself – die aap hou sy eie oë toe, asof hy hom van sy eie lelikheid wil weerhou, ten spyte van die goue ring. Die leerling toon beslis belofte om eendag ʼn knap grafiese ontwerper te word.”

strip

Met sy inskrywing slaan die jong Werner Bronkhorst ʼn BlueTek Computers-geskenkbewys ter waarde van R10 000 los. Die kompetisie duur tot 4 September voort, waarna ander groot pryse op 18 September aangekondig sal word. Dit sluit onder andere ʼn Atterbury Trust-studiebeurs ter waarde van R150 000 vir ʼn graad 11- of 12-leerling in, asook ʼn prys van R15 000 vir die wenskool.

VivA se stigterslede is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, Dagbreek Trust en Noordwes-Universiteit.

Vir meer inligting rakende VivA, skakel met Marlie Coetzee by 018 299 1020, of stuur ʼn e-pos na [email protected]

Viva