Atterbury Trust se beursfonds is in 1999 gebore, net voor die draai van die millennium. Daardie eerste jaar is ’n klein groepe van net ses behoeftige studente onder die Trust se vlerk geneem. Dit was ons belegging in die toekoms met die hoop dat ons ’n netwerk van vasberade, talentvolle presteerders kon help bou wat op die lang duur ons land en ekonomie sal bevoordeel. Vir byna 20 jaar is hierdie netwerk stadig maar seker aan die groei. Vandag begin ons met ’n reeks waarin ons gaan besoek aflê by ons beursalumni, om te sien hoe ver hulle gekom het. Ons skop af met Jacomien Rousseau, een van daardie Eerste Ses.

Kan jy onthou hoe jy destyds by die beurs uitgekom het? Het jy destyds enige ander opsies gehad vir tersiëre studie?
Dit was soos enige gewone dag by Hoërskool FH Odendaal, toe Juffrou Febe Streicher die briefie in my hand stop en sê: “Bel dié maatskappy; hulle kan dalk vir jou ‘n beurs gee om te gaan studeer.”

Die kans moes ek aangryp met beide hande – my familie kon my ongelukkig nie universiteit toe stuur nie en ek sou my eie potjie moes krap….

Met die onderhoud was ek natuurlik op my senuwees, maar dit het goed gegaan en was uit my vel toe na die tyd in kennis gestel word dat ek gekies is!

Ons was die eerste groep Atterbury Trust beursstudente; en ek was een van daardie heel eerste ses wie se lewens vir altyd verander is.

Wat was jou studiedroom destyds, en hoe het die beurs jou gehelp?
My mikpunt was om ’n geoktrooieerde rekenmeester, GR(SA) te word. Om dit te behaal het ek in in 1999 begin met BCom Rekenkundige Wetenskappe by die Universiteit van Pretoria, wat ek opgevolg het met ’n  BCom Honneurs in Rekeningkundige Wetenskappe, en ’n sertifikaat in die Teorie van Rekeningwetenskappe (STR). Ek was vir al vier jaar ’n beursstudent, wat my in staat gestel het om voltyds te swot. Daarna was die eindstreep in sig met die drie jaar klerkskap en twee raadseksamens wat voorgelê het!

En op watter draaie het jou beroep, en die lewe,  jou sedertdien geneem? Waar bevind jy jou vandag?
In 2003 het ek met my klerkskap begin by Logista GR(SA) Ingelyf, ’n medium-grootte praktyk in Brooklyn. Na my drie jaar klerkskap is ek getroud, en Logista het my ook die kans gegee om vir ’n paar maande in Boston, Massachusetts te gaan werk. Ek is na bestuurder bevorder, en ’n jaar later na assosiaat, en het baie geleer oor die beplanning en bestuur van die praktyk. In 2008 het ek ma geword van ’n seuntjie.

Ek het die firma, die mense en die werk geniet, maar teen 2009 wou ek ’n nuwe uitdaging hê, so ek het Logista verlaat en as hoofrekenmeester begin by my eerste publieke entiteit, Council on Higher Education. Publieke entiteite is semi-staatsorganisasies wie se mandaat met wetgewing te doen het. By CHE is ek later bevorder na hoof-finansiële beampte (CFO). In 2010 het ons gesinnetjie ook gegroei – dié keer met ’n dogtertjie.

In 2012 het ek as senior bestuurder aangesluit by die Council for Medical Schemes, waar ek sommer dadelik welkom gevoel het omdat een van my mede-beursalumni reeds daar gewerk het! Dit was ’n besonderse professionele span en ek het aan groter projekte gewerk as as ooit tevore.

Ek is sedert 2016 by Umalusi, die Raad vir die Versekering van Kwaliteit in Algemene en Verdere Onderrig en Opleiding, eers as finansiële direkteur en tans, hoof-finansiële beampte (CFO).

Ek voel ek maak ’n bydra tot die ekonomie van Suid Afrika. Ons entiteit streef na koste-effektiewe dienslewering van ons mandaat met goeie korporatiewe bestuur in plek. Met ’n liefdevolle eggenoot wat jou ondersteun in jou doelwitte en ambisie is alles moontlik!

As jy terugdink, wat het die Atterburybeurs vir jou persoonlik beteken?
Vir vier jaar kon ek voltyds studeer om my mikpunt te bereik. My opinie is steeds dat Tukkies se GR(SA) studieprogram een van die bestes in Suid Afrika is. Ek is van jaar een af voorberei om ’n geoktrooieerde rekenmeester te wees.

Die Atterburybeurs het my doel ’n werklikheid gemaak. Ek kan my lewe nie indink sonder hulle hulp nie. Op ’n persoonlike vlak het ek my man ontmoet deur ’n gemeenskaplike vriendin wat saam met my in 1999 in dieselfde kursus begin het. Sy is vandag ons twee kinders se peetma.

Die beurs het vir my ontsettend baie beteken. Dit het my lewe professioneel en persoonlik verryk. Ek is verskiklik dankbaar vir al die seëninge wat die Here vir my gegee het!

Atterbury Trust wil begin met ’n gestruktureerde alumni-program, om voormalige studente die geleentheid te gee om betrokke te raak by die huidige studente en om die mense wat deur die beursprogram is, saam te snoer in ’n waardevolle netwerk wat mekaar in die sakelewe agterna kan ondersteun.  As jy terugdink aan jou studentedae, dink jy dit sou jou gebaat het om ’n mentor te hê?
Ek dink dis ’n wonderlike konsep. Ek glo ’n gereelde gesprek met iemand wat al reeds dieselfde paadjie as jy gestap het, is baie waardevol. Dit gee ons, die beursalumni, ook die kans om terug te gee met ons tyd. Ek glo vas ek sou baie gebaat het om met iemand te kon identifiseer wat voor my deur die hele proses gegaan het. Familie en vriende het my ondersteun, maar ’n mentor sou meer professionele waarde gebring het.

Hoe reken jy kan julle alumni die mees betekenisvolle bydrae lewer tot die Atterbury Trust beursprogram?
Die mentorskap-program is definitief ’n begin, en dit sal beslis waardevol wees om in te skakel by ’n professionele netwerk wat mekaar in die sakelewe kan ondersteun. As beurs-alumni formeel op datum gehou word van die projekte waarby die trust betrokke is, kan ons ook moontlik bydra waar en wanneer dit relevant is.

Het jy nog kontak met mense uit jou beursstudent-dae? Wat is jou indruk van die beursprogram – destyds en vandag?
Ek het ongelukkig nie kontak met die ander beursstudente nie, behalwe vir die voormalige kollega. Die mense van Atterbury was altyd vriendelik om ons terug te verwelkom by funksies.

Ek weet die beursprogram groei steeds, maar dis amper ongelooflik om te dink dat dit kon groei van ons ses in 1999 tot volgende jaar waar daar meer as 70 nuwe studente gehelp word…

Jy kan deel word van ons netwerk van mentors en skenkers deur geleenthede vir internskappe aan Atterburybeursstudente te gee, of geldelike bydraes te maak. Om te skenk, kliek hier, en om te gesels oor internskapgeleenthede, kontak vir Zahn Hulme by [email protected]