Nadat duisende mense van regoor die wêreld verlede Saterdag OPTOG! en Atterbury Teater se gratis e-konsert gestroom het, besef ons van voor af die waarde van die samehorigheid wat die kunste skep.

Daar is nie ’n enkele land wat nie tans gebuk gaan onder die realiteit van COVID-19 nie. In ’n tyd soos hierdie, wanneer mens gestroop word van die bekende en gekonfronteer word met die vreemde, word ons genoop om moed te hou en saam te staan. En is daar ’n beter manier as om saam konsert te hou?

Sit terug in jou gemakstoel, in die veiligheid van jou eie huis en skakel in vir nóg ’n e-konsert in jou sitkamer!

Stel jou alarm, vra jou oudste om jou te herinner, maak ’n knoop in jou oor… maar, maak net seker jy is elke Sondag om 17:00 slaggereed om in te skakel.

Maak nie saak waar in die wêreld jy jouself bevind nie, as jy internet het, hou ons vir jou konsert!

Sien uit na konserte op die volgende datums:

29 Maart 2020

5 April 2020

12 April 2020

Wat kos dit?

Die ekonomie knyp tans en daarom bied ons vir jou opsies: betaal R50 om te stroom, maak ’n donasie of skenk geld vir die kunste as individu of besigheid en kry ’n 18A sertifikaat.

Hierdeur bied ons ’n platform vir die publiek om kunstenaars en musikante te ondersteun.

Bekostigbare, kwaliteit vermaak soos min!

Kunstenaars sluit in:

Nataniël, Corlea Botha, Jannie Moolman, Amanda Strydom, Dewald Wasserfall, Joshua na die Reën, Mathys Roets, Anna Davel, Ruhan du Toit, Kevin Leo, Robbie Wessels, Jak de Priester, Ricus Nel, Monique Steyn, Roan Ash en vele meer.

Hoe skakel ek in?

Besoek www.optog.co.za of www.atterburyteater.co.za

Vir meer inligting besoek gerus OPTOG! se Facebook-blad.

E-konsertreeks moontlik gemaak deur King Price Insurance en Atterbury Trust.