Twee jaar onder nuwe leierskap, en alle aanduidings is dat Aardklop op die regte spoor is, na ’n baie suksesvolle 2017 aflewering. Ons het met feesorganiseerder Alexa Strachan gesels oor die lesse wat sy geleer het, en waarheen sy die fees wil neem.

 

Het jy nou al herstel na die geweldige druk en opwinding van die fees?

Mens herstel nie so vinnig nie, bloot omdat die fees nooit afgehandel is nie, daar is die eindelose klaarmaak, verslagdoening, en dan: oeps, ons moet geld en vennote kry vir volgende jaar, voordat besighede sluit vir die jaar.

Natuurlik is mens van daardie adrenalien-inspuiting af: die Sondag ry jy terug, in gietende reën waarvoor jy as blote aardbewoner in ootmoed staan, maar aan die anderkant wens jy dit was eerder in die Kaap, hulle het dit immers nodiger gehad as ons in Potch. Maar jy arriveer tuis, dankbaar dat die fees ’n sukses was, dankbaar vir jou eie bed, en vir die feit dat jou huismense jou nog skynbaar liefhet.

Hoe het dit vergelyk met die vorige fees?

Aardklop 2017 sou altyd ’n groter uitdaging as 2016 wees. Laat ek verduidelik: almal hou van bietjie sensasie, almal hou van die “underdog”, en in 2017 het die logiese en vir my voorspelbare wanopvatting ontstaan: Aardklop is mos nou gered – dis besigheid soos normaalweg. Die onvoorwaardelike welwillendheid het verdwyn. Maar ’n ware kunstefees is nooit “gered” nie, dit bly ’n voortdurende uitdaging: ons wil die kunste bevorder midde ’n ekonomiese realiteit waar mense in ons land kners om oorlewing, en hou altyd in jou agterkop: ons voorgangers het die fees na 19 jaar gesluit juis omdat hulle gevoel het dis nie ’n finansieel werkbare ding om te bly doen nie.

Die gekerm daar gelaat: Ons het hierdie jaar ’n ongelooflike program aanmekaar gesit, en ons feesgangers voel duidelik dieselfde.

Hoe het Atterbury se bydrae vanjaar ’n verskil gemaak?

Louis van der Watt het ’n opmerking gemaak wat ek (on)gelukkig gehoor het: “Ons is ’n eiland van uitnemendheid.” By die nuwe Aardklop het ons ’n konsep “Intieme teater” begin waar ons kleiner, intieme, kwaliteit produksies aanbied. Hier tree die kunstenaar op met sy rou energie, en kan die klein gehoor met ’n glasie wyn in die hand byvoorbeeld luister na ’n kunstenaar bloot op sy kitaar, geen foefies nie. Kunstenaars soos Jannie du Toit, Mauritz Lotz, Laurinda Hofmeyr, De Klerk Oelofse en Koos van der Merwe en die opwindende vars stem Des-Lee McKenzie is voorbeelde van kunstenaars wie se spesifieke produksies mens nie noodwendig in ’n groot saal wil aanbied nie.

Maar natuurlik kos dit steeds geld, die feit dat die venue net 100 teatergangers toelaat, verminder nie die feit dat ons steeds die venue moet inrig en beman met tegnici nie, dat kunstenaars steeds moet reis, eet en iewers bly nie, en kan Aardklop nie op sy eie hierdie niche-projek befonds nie. Sonder ondersteuning sal hierdie projek, wat ons graag wil behou en uitbou, in die stof byt.

Die konsep binne ons groter prentjie is ook belangrik: Ons wil vir verskillende kustenaars en verskillende gehore iets bied – nie alle feesgangers stel in die groter of meer kommersiële produksies belang nie. En ons glo Aardklop bied ook ’n “eiland van uitnemendheid”.

Wat staan vir jou uit as die suksesverhale van Aardklop 2017?

Die feit dat ons jaar twee oorleef het, ten spyte van wat ek vroeër genoem het is sukses op sigself. Die feit dat die reën waaroor ons in hierdie land nie mág kla nie, ons nie te veel geknou het nie, is ook iets om voor dankbaar te wees: die publiek het ons pogings om die feesterrein feestelik te hou, en ons venues met sinkdakke se klankuitdagings aan te spreek, hoog aangeslaan.

Maar dan is daar ook nuwe projekte wat ons so ewe ambisieus aangepak het, waaroor ons heel spoggerig voel:

  • Met die hulp van Centurion Akademie en die ATKV is ons eerste Pronk Podium aangebied: meer as 30 tienertoneelproduksies het deelgeneem aan uitdunrondtes by Hoërskool Eldoraigne en Hoërskool Noordheuwel se toneelfeeste, waarvan die top drie produksies by ons opgetree het, saam met die NWU Potch-kampus se top drie studente-toneelproduksies. Die publiek en teaterkenners was gaande oor die kwaliteit werk wat hierdie jongmense gelewer het.
  • Nog ’n nuweling op die fees was die Aardklop Atrium – ’n venue waar ons minder konvensionele produksies vir die meer avontuurlustige feesganger aangebied het. Daar was DEURnis, wat kortliks opgesom kan word as een-tot-een teater. Slegs een gehoorlid is saam met een akteur in ’n vertrek in ’n huis, waar die toneel hom dan afspeel. Die gehoorlid weet natuurlik nie wat op hom wag, of wat van hom verwag word nie, hy word bykans deel van die toneel. Die ander produksie was Splinterster, ’n multimediaproduksie waar die klein gehoor vanaf woord- tot videokuns en hologramme kon beleef.
  • Omdat Aardklop ook voel dat ons ’n verantwoordelikheid teenoor die bedryf en sy toekoms het, het ons ’n reeks produksiebestuurwerkswinkels aangebied. Hier het jonger en nuwe teatermakers die geleentheid gekry om praktiese raad rondom vele aspekte van ons bedryf te kry: vanaf kontrake, tegniese aspekte, bemarking, tot befondsing en begrotings.
  • Ons uitgebreide “Rede-kabel” gesprekkereeks het vir warm debat gesorg: 44 deelnemers het gedebatteer oor onderwerpe vanaf TV-sepies se rol in die samelewing tot millenniërs se geldsake tot grondhervoming. Die uiteenlopende opinies, feesgangers en geredekawel was presies wat ons wou hê – niks soos ’n bietjie “verskil van mekaar nie”
  • Die teaterproduksies wat by ons gedebuteer het hou ek met trots dop, en dinge lyk goed… produksies soos Melk & Vleis, Manne, Weerkaats en Mike en Mavis gaan volgende jaar die land vol toer, en dit het by ons begin.

Wat sal jy volgende jaar anders aanpak en hoekom? 

Ons is nog in ons kinderskoene, en gaan nie te veel karring aan ’n ding wat ons redelik regkry nie. If it ain’t broke, don’t fix it.

Ook het ons steeds nog te veel verfyning om te doen. Hierdie jaar was ons eerste werklik volwaardige jaar, met sy uitdagings rondom personeel en strukture wat op langer termyn daargestel moes word. Personeel wat verlede jaar op tydelike basis die fees help gebeur het, moes vervang word. ’n Bedryfsmodel wat oor ’n hele kalenderjaar strek moes in plek gestel word, en voor begroot word. ’n Fees kan nie op langtermyn voortbestaan op “kom ons doen dit gou in vier maande met chutzpah en ’n bietjie hulp” nie.

Maar as ek spesifiek moet raak: Ons wil Taxi Teater nog meer verfyn. Soos met alle projekte van dié aard wat poog om grense te skuif, opvattings aan te spreek, maar ook gewoon goeie vermaak te verskaf, is hierdie nie ’n korttermyn-ding nie. Die publiek is gaande oor die Taxi-trippie na Ikangeng en Promosa – die vreemde kosse en wonderlike talent van ons plaaslike inwoners. En saam met mense soos Frazer Barry en Terence Bridgett as mentors, is van ons plaaslike talent ontwikkel en gevorm, maar ons wil dit regtig nog meer uitbou, daar is soveel werk wat gedoen kan word, en dis deksels vervullend!

Hoeveel mense het die fees bygewoon – kaartjies verkoop?

Ons is op ’n lekker opwaarste kurwe: 45 000 terreinbesoekers en 33 000 podukusiekaartjies is verkoop. Gegewe die algemene moeilike finansiële tye is ons baie tevrede.

Wat is die terugvoering van deelnemende kunstenaars/venues? Deel een staaltjie as jy het!

Kunstenaars is Aardklop baie goedgesind, en met rede. Ons doen moeite om terugvoer te kry vanuit alle oorde, want ’n mens moet in voeling bly en kyk waar jy kan verbeter. Die meer as 700 kunstenaars is veral baie gelukkig met hoe gou ons hulle inkomste oorbetaal het, van hulle was heel onkant betrap, omdat hulle nie noodwendig gewoond daaraan is nie.

’n Persoonlike hoogtepunt vir my was om my mede-kunstenaars te sien “stress-kap” net voor ons huldeblyk PG: ’n Lewe Vol… Daar staan van die land se mees gesoute kunstenaars agter die verhoog en in die parkeerterrein voordat die gordyn lig, en nie een van ons kyk die ander in die oog nie, almal is oor-en-oor besig met sy eie monoloog, stukkie teks, stukkie liriek… in ’n totale toestand van angs vanwee die grootsheid van die oomblik, niemand wil die Oom teleurstel nie, en repetisie-tyd was bitter min. Van Coenie de Villiers, Frank Opperman, Pietman Geldenhuys, Milan Murray, Christo Davids en Pierre Breytenbach, tot Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Anna Davel, en Laurinda Hofmeyr, wat net smeek vir twee minute op die klavier se note onder haar vingers. Ek dink PG het hom vir oulaas verkneukel…

As organiseerder as jy nou terugkyk, hoekom dink jy is Aardklop so belangrik vir Afrikaanse kultuur?

Aardklop is weens twee redes veral baie belangrik:

  • Geografies is dit die enigste fees van sy skaal na aan Gauteng: ons bied dus ’n platform vir kunstenaars uit ’n wye verskeidenheid genres om by hierdie belangrike mark uit te kom. En dieselfde geld natuurlik feesgangers vanuit Gauteng.
  • Sonder Aardklop is daar ’n gat in kunstenaars se kalenderjaar – die ander feeste gebeur almal in die eerste helfte van die jaar. Die kunste is nie ’n stokperdjie nie, mens het heeljaar lank ’n inkomste nodig.

Dink jy Aardklop is wesenlik anders vandag as vroeër (wanneer was die eerste een)? Hoe reken jy het dit oor die jare verander itv oogmerke en uitkomste?

Sjoe, altyd moeilik, veral omdat ek nog twee jaar terug bloot as teatermaker deelgeneem het aan Aardklop – (ek dink ek het slegs twee feeste nie meegemaak nie). Ek wil my dus nie daaroor uitspreek nie, en dis nie omdat ek probeer aangenaam wees nie, dis bloot oor ek nie weet nie. Wat ek wel kan sê is die volgende: Die beste stuurman staan altyd aan wal, dis so maklik om fout te vind – ek was een van dié wat die vorige Aardklop gekritiseer het – en nou weet ek bietjie beter, en het ek meer empatie. Maar miskien, bloot miskien, het die vorige bedeling effe uit voeling geraak met realiteit – wat goed werklik kos, en wat dit werklik werd is. Dis mos ’n besigheidsbeginsel: watter waarde kan ek toevoeg, en waarvoor kan ek dit verruil? Ek hoop nie hierdie stelling byt my aan die stert nie, want ek weet ook baie goed hoe kwesbaar alle besighede is, en die kunste as gevolg van ander (soms duistere) faktore des te meer.

Wat het jy persoonlik baie geniet van die fees?

Terugvoer soos dié vanaf ’n feesganger: “Ek wil u graag gelukwens met die beste Aardklopprogram ooit. Ek is reeds van die begin af ’n gereelde besoeker, maar hierdie jaar se program het alle voriges oortref, gekroon deur die pragtige program oor PG. Ek het 16 produksies bygewoon, en nie een teleurstelling gehad nie. Doen so voort!!”

En dan was daar klein pêreltjies, soos Elize Cawood wat nie haar voete iewers kan sit nie, want een of ander iemand gaan haar vra: “Waar’s die stalletjies?”

Behalwe Aardklop, na watter kulturele gebeurtenis sien jy die meeste uit?

Hier ter plaatse is ek heeltemal te bevooroordeeld om verby Aardklop te sien, hoewel ek natuurlik al die ander feeste probeer bywoon.

Maar eendag as ek groot is wil Edinburgh toe gaan, natuurlik. Cannes se filmfees sal ook nie sleg wees nie, maar in alle eerlikheid sal ek eerder saam met die Proteas ’n reeks teen die Windies dáár wil bywoon… maar dit tel seker nie as kultuur nie. Hoewel mens dit moontlik oor die boeg van Bob Marley sou kon gooi J