Wat gebeur as jy ’n Karookind van ’n stowwerige, droogtegeteisterde plattelandse dorpie verplaas na lowergroen Stellenbosch, om haar toekoms te begin? Danksy die groothartige skenkers aan Atterbury Trust se beursfonds, kan ons vanjaar weer 40  nuwe jongmense help om hul horisonne te verbreed en hul toekomsvooruitsigte te verbeter. Die storie van eerstejaartjie Janke Bruwer, ’n nuwe onderwysstudent by Maties, skets hierdie verhaal in helder kleure

Waar het jy grootgeword, en matriek geskryf?
Ek is ’n Karookind met hart en siel! Ek het in Loxton grootgeword, ’n klein dorpie in die Noord-Kaap, en ek het skoolgegaan in Beaufort-Wes. Ek was daar in die koshuis en het ook daar gematrikuleer.

Vertel ons iets van jou gesin – wat doen Ma en Pa, het jy broers/susters, en waar pas jy in die gesin in?
Ek is die oudste van drie kinders (dus is ek mos die proefkonyn). Ek het nog ’n jonger boetie en sussie. My pa is ’n veebemarker, maar boer ook op klein skaal en my ma is ’n kleuterskoolonderwyseres; naas haar is ek die eerste in ons gesin wat die geleentheid gekry het om verder te studeer.

Hoe het jy by die Atterbury Trust uitgekom? Het jy ander opsies vir befondsing gehad as jy nie hierdie beurs gekry het nie?
Dit was alles te danke aan my tannie en Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo Suite, Vanweë Deon Meyer se verbintenis met my oupa, Ben Bruwer, kon ons saam met my familie Karoo Suite by die Oude Libertasteater in Stellenbosch gaan kyk. Gelukkig het dit saamgeval met Universiteit van Stellenbosch se Opedag en ons was daardie tyd in Stellenbosch. Daar word ons voorgestel aan Zahn Hulme van die Atterbury Trust en kom toe so te hore van die beursgeleentheid. Ek het ook aansoek gedoen vir Funza Lushaka en NSFAS befondsing.

Nou studeer jy onderwys by Maties – is dit wat jy altyd wou doen, van kleinsaf?
Wel, dis eintlik ’n snaakse storie, want ek kan onthou hoe ek altyd vol entoesiasme geantwoord het dat ek ’n “perderuiter” wou word (en nee, ek het nie ’n jokkie bedoel nie –  net doodeenvoudig iemand wat perdry vir ’n lewe!) Maar nou studeer ek onderwys… ver van ’n “perderuiter”, ek weet. Ek het nooit gedink ek juis BEd sou studeer nie; ek was nog nooit een vir die “gewone” nie, maar toe ek gaan sit en besluit wat ek vir die res van my lewe wil doen, was ek net oorweldig deur al die keuses. Ek het ’n lysie gemaak van waarvan ek hou en wat ek dink my sterk punte is. So eindig ek toe op by onderwys, want ek het nog altyd ’n liefde vir kinders, kuns en drama gehad en ek voel net by onderwys kan ek al hierdie belangstellings uitleef!

Waar woon jy op Stellenbosch? En mis jy die lewe in die Karoo?
Ek woon in Isa dameskoshuis, ’n plek waar ek al klaar hartsvriendinne ontmoet het. Maar sjô, mens se hart verlang maar terug. Wat ek die meeste van die lewe in die Karoo mis is die eenvoud daarvan; ek mis die mense se vriendelikheid en selfs ons sterrehemel, my familie natuurlik, maar ook die reuk van reën op ons stofpad… hier ruik reën anders.

As jy een bord kos van die huis af kon bestel, wat sou dit wees? J
Goeie griet, nét een? Definitief ’n bord met my pa se ribbetjies op én van my ma se lasagne (ek het al klaar vir my ma die spyskaart vir die Aprilvakansie gestuur!)

En wat is vir jou die heel lekkerste deel van studentewees, sover (ons weet dis nog baie vroeg in die proses)?
My lysie groei nog elke dag. Ek geniet die pragtige strate van Stellenbosch, al die nuwe mense wat ek al ontmoet het, die unieke ervarings en geleenthede en dan ook my Afrikaans-en-Nederlands klas!

Is daar enigiets omtrent studentelewe of die lewe op Stellenbosch wat jou verras of verbaas het?
Ja, definitief! Dan ook bygesê, ek dink nie dis baie moeilik om ’n Karookind op dié stadium te verbaas nie! Ek is verras deur die massas mense – ek meen, een van my klasse nou is so groot soos my hele skool in Beaufort-Wes was. En ek moet sê dat ek nog elke dag verbaas is oor al die mooi plekke in Stellies.

Deel van Atterbury Trust se ondersteuning is die Gro-mentorsessies met Leonie. Het jy al een gehad, en hoe het jy dit ervaar?
Ja, ek het al ’n mentorsessie gehad. Dit was baie lekker om vir Leonie te ontmoet en net met haar te kon gesels oor ’n koppie koffie. Dit het so baie beteken, want ek kon vir haar van al my verse, sowel as waaroor ek opgewonde was, vertel.  Sy het my ook gehelp met doelstellings, en haar positiwiteit en lus vir die lewe was sommer aansteeklik.

Wat beteken dit vir jou om ’n Atterbury Trustbeurs te hê?
Ek sou tien teen een nie kon gaan studeer het as dit nie vir die beurs was nie. Ons dorpie is een van die plekke wat baie erg deur die droogte geteister word en dus trek ons hele omgewing swaar. Die beurs beteken meer vir my as wat woorde ooit sal kan oordra. Dit is as gevolg van julle dat ek my droom kan nastreef. Dankie, Atterbury Trust!

Waar hoop jy sal ons in 2030 vir Janke Bruwer sien?
Ek droom groot! Miskien loop ek julle oorsee raak waar ek in Nederlands skool gee, of miskien begin ek my eie skool, net hier in Suid-Afrika, vir kinders met spesiale behoeftes. Ek besef die wêreld is groot, en ek het nie vlerke gekry om dit net dop te hou vanuit die naaste boom nie!

Elke bydrae tot die Atterbury Trust beursfonds help om ’n jong talent wat andersins nie verder sou kon studeer nie, die kans te gee om sy of haar volle potensiaal te bereik, tot die voordeel van ’n beter wêreld. As jy kan skenk, kliek hier en vind meer uit.