Atterbury se nuwe alumniprogram beoog om huidige beursstudente in aanraking te bring met dié mense wat in die beginjare van die beursfonds in hulle skoene was, en vandag reeds hul plek volstaan in die arbeidsmark. Le Roux Esterhuyse is só iemand – nadat hy as ingenieur gekwalifiseer het met beurshulp van Atterbury, beklee hy ’n dekade later ’n uiters verantwoordelike pos op ’n platinummyn. Ons het gaan aanklop om te hoor op watter draaie die lewe hom geneem het.

Hoe het jy destyds by Atterbury se beursprogram uitgekom; en hoekom dink jy het jy gekwalifiseer vir die beurs? 
In my matriekjaar, 2004, het ek en my ma oral aansoek gedoen vir beurse. Ek dink sy het op die radio van Atterbury Trust gehoor… In die skoolvakansie het julle laat weet ek moet kom vir ’n onderhoud. Ons het in Carnarvon in die middel van die Karoo gebly en ek het op die bus geklim om Pretoria toe te reis vir die onderhoud. Ek reken julle het seker my toewyding gesien en besluit om my te help! Die rentevrye lening het die helfte van my studiegeld gedek vir die eerste twee jaar van my kursus by die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom­.

As jy terugkyk, wat het die beurs vir jou beteken? Was dit een van baie opsies, of ’n enigste opsie om verder te gaan studeer? 
Ek het in matriek gebid en myself voorgeneem ek sal slegs gaan swot as ek ’n beurs of ‘’iets” kry. Wel, toe kry ek “iets’’. Al was dit nie ’n vol beurs nie, het die hulp van Atterbury Trust dit vir my moontlik gemaak om te gaan swot, en dit was ook op die einde my enigste opsie. Die feit dat ek verder kon studeer het verseker dat ek vandag in ’n baie beter posisie is as wat ek ooit sou kon dink.

Kortliks, hoe het jou beroepspaadjie ná jy gegradueer het, verloop?
Nadat ek aan die einde van 2009 my graad gekry het, het ek as ’n junior ingenieur by Anglo American Platinum in Thabazimbi begin werk. Ek was vir drie jaar daar totdat ek my GCC-eksamen (“government competence certificate”) afgelê het, wat ’n mens kwalifiseer om op die myn te kan werk as ingenieur. Met dié kwalifikasie het ek by Mogalakwena-myn in Mokopane begin werk, waar ek steeds is. Op die oomblik is ek verantwoordelik vir die grootse enkel-stroom platinum-konsentreerder in die wêreld.

En jou persoonlike lewe?  Vertel ons bietjie meer oor Le Roux as hy by die huis is…
Ek en my vrou, Susan, hou baie van reis en ons was al in ’n hele paar lande. Ons het twee dogtertjies – Elné is drie and Rolene is een jaar oud. Hulle hou ons goed besig, so op die oomblik is dit maar redelik moeilik om te reis …

Jou maatskappy het ook ’n beursprogram – as iemand wat self gebaat het by ‘n beurs destyds, moet dit jou warm om die hart laat voel!
Ja, ek is regtig baie trots op ons maatskappy; en veral omdat hulle sterk glo in die waarde van opleiding. Hulle help elke jaar ’n hele paar mense met vol beurse om voltyds te gaan studeer en bied ook intern ’n verskeidenheid opleidingskursusse aan.

As jy vir jou 18-jarige, pas gematrikuleerde self kon raad gee met die perspektief wat jy vandag het, wat sou jy vir jong Le Roux sê? 
Ek sou vir hom sê om net aan te hou; om nie moed op te gee nie, want alles sal op die einde uitwerk.

Wat dink jy is die belangrikste voordele van die Atterbury Trust se nuwe program om bande tussen alumni soos jyself, en die huidige studente te versterk?  
Ek hou daarvan dat dit mense bymekaar bring, want so ’n platform maak dit moontlik vir dié van ons wat reeds begin werk het om ook te kan bydra. So kan ons die beursfonds verder versterk en dalk nog meer mense help.

As iemand wil aansoek doen vir ’n beurs by Anglo American Platinum, wat moet hulle doen?
Dis baie amper sluitingstyd, so gaan kyk vinnig op die webwerf! Beursaansoeke sluit op 15 Mei 2018.  Al die inligting oor die studierigtings waarvoor die maatskappy beurse toeken, en hoe om aansoek te doen, is op die webwerf: http://www.angloamerican.co.za/careers/graduates-and-bursaries.aspx

Atterbury Trust se beursfonds administreer die donasies van ons gewaardeerde skenkers, om soveel verdienstelike studente as moontlik die geleentheid op verdere studie te bied. Alle bydraes is welkom, en om te skenk is baie maklik – kliek hier vir details. Skenkers ontvang ’n A18-sertifikaat, met die gepaardgaande belastingvoordeel.