Woorde Open Wêrelde (WOW) is ’n bemagtigingsprojek van die Universiteit van Stellenbosch Woordfees, wat ’n verskeidenheid van kreatiewe programme insluit wat gerig is op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste onder die jeug uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Vanjaar het Atterbury Trust ’n groep leerders uit die Karoo befonds om ook deel te hê aan hierdie wonderlike inisiatief. WOW-projekbestuurder Fiona van Kerwel vertel meer…

Hoe lank bestaan WOW reeds, en hoe het dit destyds ontstaan?
WOW is vanjaar 16 jaar oud. Dit het ontstaan as ʼn projek van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en onder die destydse leiding van Prof Dorothea van Zyl, met die oogmerke om leerders vanuit minderbevoorregte gebiede van boeke te voorsien, maar ook om ʼn bydrae te lewer tot die diversiteitsprofiel van die US.

Hoe het WOW en Atterbury Trust se paaie gekruis?
My kollega Leslie van Rooi het Zahn Hulme aan ons bekend gestel, en na ʼn gesprek of twee het ons samewerkingsmoontlikhede ondersoek, en kon reeds in 2019 ʼn groep studente vanaf Beaufort-Wes, Laingsburg en Murraysburg na Stellenbosch bring vir die jaarlikse WOW-dag vir Graad 12 leerders. Twee van hierdie leerders het reeds hul Graad 11 rapporte aangestuur en ons is in die proses om die ander leerders ook op te volg.

Wat is vandag die belangrikste aspek van die projek – waarop is julle die heel trotsste?

Ek dink dis die moontlikheid dat leerders van ʼn baie jong ouderdom reeds van die US as tersiêre inrigting bewus gemaak kan word, en dat hul dwarsdeur hul skoolloopbaan nog steeds hiervan bewus kan wees (juis as gevolg van ons verskeie projekte vir die skole). Sodra leerders Graad 11 en 12 bereik, raak ons sterk betrokke met ondersteuning om as US student aanvaar te word. Hierdie leerders wat uiteindelik ʼn Matie word, word tydens hul studiejare ook op ander terreine deur WOW ondersteun. Een van die grootste oomblikke vir ons is om hierdie eens skugtere WOW-leerders te sien ontwikkel in ʼn professioneel-gekwalifiseerde jongmens met soveel selfvertroue en hoop om ʼn beter toekoms vir hulself en hul gemeenskappe teweeg te bring.

Wat is die grootste uitdaging vir die projek vandag? Dalk borgskappe? Vertel ons van julle borge?
Kapasiteit en fondse is definitief ons grootste uitdagings. WOW is 100% afhanklik van eksterne fondse, en ons word tans deur die volgende filantropiese trusts en borge ondersteun:

  1. US ondersteun ons op verskeie maniere (finansieel en bestuur), ook as deel van die groter Woordfees
  2. Trust vir Afrikaanse Onderwys
  3. Millennium trust – (spesifiek vir Sanlam WOW Spelfees)
  4. Het Jan Marais Nationale Fonds
  5. ATKV – (spesifiek vir projekfondse)
  6. Sanlam – (spesifiek vir Sanlam WOW Spelfees)
  7. kykNET – mediavennoot en produkborge
  8. Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die Wes-Kaap (produkborge en 10 internskappe)
  9. Verskeie ander kleiner produkborge

Julle bring elke jaar duisende kinders na die US Woordfees toe – hoe kies julle skole/dorpe en hoe word die kinders se besoeke befonds?
Die skole is almal deel van ons jaarprojekte. Skole en dorpe het oor die jare organies gegroei; die meeste skole is in die Wes-Kaap, maar ons bereik die hele land met ons spelfeeste. Ons subsidieer ʼn gedeelte van die vervoerkostes vir sekere projekte, maar slegs soos begrotings dit toelaat.

Hoeveel kinders kon jul vanjaar op hierdie manier Woordfees toe bring?
WOW het vanjaar 2 522 leerders en 794 opvoeders na die Woordfees gebring.

Vanjaar het julle ook kinders van die Karoo genooi, na aanleiding van Atterbury Trust se KarooSuite-insamelingsprojek. Vertel ons hoe julle dit bewerkstellig het?  Waarvandaan het hierdie kinders gekom, en wat het hulle alles by Woordfees ervaar?
Die moontlikheid het ontstaan deur ʼn gesprek met Zahn Hulme, en daarna het ons het ʼn program en begroting deurgestuur en dit is goedgekeur deur die Atterbury Trust. Die leerders het die WOW-dag vir Graad 12 leerders en Onderwysersdag bygewoon, ook die Woordfees karnaval; hulle het die dorp, die universiteit en die feesterrein besoek en ‘n kampustoer gedoen.

Wat was vanjaar se WOW-hoogtepunt by die Woordfees?
Elke produksie is vir ons ʼn hoogtepunt, maar die uitgewers van LAPA en die skrywer Marieta van der Vyfer was so beindruk met die leerders tydens hul skrywersprogram dat LAPA onderneem het om ook ʼn kletsrymboek saam met die WOW-leerders te doen.

Die ontmoeting met ons WOW-onderwysleiers was ook ʼn hoogtepunt, want die moontlikheid om meer studente na die US te bring, kon goed bespreek word.

Dit was ook ’n hoogtepunt vir ons om die drie skoolgroepe, Karoo-span, Gouda Primêr en Bissersdrift Primêr daar te hê; dis ons droom om hierdie toere uit te brei vir meer skole.

Wat is die toekoms van die WOW-projek? Wat hoop jy om vorentoe te bereik?
WOW het ‘n fantastiese toekoms indien ons donateurs en borge ons altyd sal ondersteun soos die afgelope 16 jaar reeds die geval is. Ek hoop dat ons uiteindelik die WOW-projek-aksies na veel meer dele van ons Afrikaanse landskappe kan neem en dat leerders, onderwysers en ander rolspelers die waarde van WOW sal besef. Ons kan vir soveel meer mense nuwe moontlikhede skep en letterlik en figuurlik nuwe wêrelde open.

Ek neem aan dat donasies welkom is. As mense wil bydra tot hierdie projek, hoe doen hulle dit? Gee asseblief kontakdetails. 

Alle donasies is altyd welkom, mense kan ons kantoor kontak by [email protected]. Ons kan ʼn skenkingsfaktuur stuur, wat ook belastingvoordele het (voorwaardes geld). Individue kan ook skenkings en donasies aan ons kantoor doen, deur dieselfde epos te kontak, ons kan dan alle inligting vir hulle aanstuur. Alle fondse word in ons kostepunt bestuur en WOW is onderhewig aan die reëls van die US finansiële bestuur.