Aardklop is vir nog ’n jaar verby, en die jeug-platform Pronk Podium wat deur Atterbury Trust geborg is, het vir die jong deelnemers ‘n wonderlike ervaring gegee. Ons het gesels met een van die feeskoördineerders, Delmari van Zyl, oor die lekker, en die lesse…

Wat is die eerste orde van besigheid vir julle feesorganiseerders as die fees klaar is?
Ons trek al die los draadjies bymekaar, doen betalings en rekonsiliasie van alle departemente en begin dan verslag doen aan vennote, direksie en borge.

Hoe het vanjaar se fees verloop in vergelyking met vorige jare?  Is julle gelukkig met die opkoms en die gehalte van al die aanbiedinge?
Vanjaar was vir ons ’n bogemiddelde jaar! Ons besef die impak van die ekonomie en stel dus nie onbereikbare doelwitte nie. Ondanks die ekonomie en die stygende brandstofpryse was die opkoms baie goed. Wat die gehalte van die aanbiedinge betref, is ons baie trots op

die program! Feesgangers het dit ook opgemerk. Hulle waardeer die feit dat die program so omvattend was en regtig iets vir almal gebied het. Dit was een val ons doelwitte: om ’n stoel te bied vir elke feesganger om op te sit! Terugvoering soos “dit was die beste fees van die jaar” en “ons fees al vir 20 jaar en hierdie was die beste een nóg” laat ons lekker breëbors rondloop.

Wat was die terugvoering van die borge?
Terugvoering vanaf borge is vir ons baie belangrik. Hierdie mense en organisasies dra die fees en wat hulle sê of ervaar is  uiters waardevol. Die terugvoering sover was wonderlik! Borge besef die waarde van ’n belegging in Aardklop – die teikenmark, omvang en impak maak dit vir hulle die moeite werd. Ons is byvoorbeeld baie trots en opgewonde oor Standard Bank se groot nuwe borgskap. Ons het ook borge wat spesifieke projekte vir die fees moontlik maak. Die Atterbury Trust se borgskap vir Pronk Podium is baie waardevol, en maak dit vir ons moontlik om hierdie noodsaaklike platform vir tiener- en studente produksies by die fees aan te bied. Ons belê hierdeur in jong talent, die teatermakers van môre en ontwikkel gehore vir die toekoms – iets wat Aardklop baie na aan die hart lê!

Hoeveel kaartjies is verkoopWatter produksie was die feesgunsteling?
Ons is nog besig met die rekonsiliasie-proses, maar kan wel uitlig dat die volgende produksies en vertonings onder die gunstelinge was: Susters, Nataniël, Parlotones & Kie, My Seuns, Toutjie en Ferreira, en Elvis Blue.

Wat was vir jou die hoogtepunte van Pronk Podium?
Die jongmense se tasbare entoesiasme oor teater. As deel van die Pronk Podium ervaring bied ons vir die deelnemers die geleentheid om vrae en antwoord-sessies met van die professionele produksies by die fees te hê, en hulle het die kontak met gesoute akteurs en teatermakers so waardeer.  Wat ’n voorreg om hierdie platform vir hulle te kan bied!

Dit was ook ongelooflik dat toe Eden as algehele wenner aangekondig is, al die deelnemers soos een man spontaan opgestaan het en vir hulle ’n staande ovasie gegee het. Mens kon sien hoe opreg dit was. Hulle gun mekaar sukses! As die toekoms van ons land in hierdie kinders se hande lê, kan mens nie anders as om positief te wees nie!

Was daar enige besondere uitdagings by vanjaar se fees wat julle laat skarrel het?
Om nuwe projekte aan te pak bring altyd nuwe uitdagings, maar lekkeres. Nuwe projekte beteken jy pak iets aan waarvan daar geen institusionele kennis is nie. Almal betrokke span kragte saam om iets te bied wat nie voorheen daar was nie. Dit is stresvol, maar dis dié goed op die program wat feesgangers verras en verbaas en wat alles op die einde die moeite werd maak. Ons is wel mal oor hierdie tipe uitdagings.

En wat gebeur volgende… hoe gou begin julle werk aan Aardklop 2019?
Ons is alreeds besig met Aardklop 2019. Ons begin kort na die fees verslae saamstel wat ons gebruik om te rapporteer aan bestaande vennote, maar ook met die oog op nuwe projekte en vennote/ borge. Die gewerskaf is nimmereindigend!