15 September 2019, 14:30 – 16:00
15 September 2019, 19:00 – 20:30

R170 – R190

(* Die Mzanzi-koor word met trots geborg deur AVBOB en staan onder leiding van James Bathingswaite.)

Beide konserte word aangebied in samewerking met die Atterbury Trust ten bate van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Coenie de Villiers is terug met sy 22ste ateljee-album, ’n jaar ná die vrystelling van die album Pure Coenie, wat die SAMA-toekenning as beste kontemporêre Afrikaanse album vir 2018 gewen het. “Daardie album se  verspreidingsmaatskappy het ongelukkig in duie gestort, en die enigste manier om veld te wen, is om iets nuuts te skep,” vertel hy.

En dis presies wat hierdie kunstenaar gedoen het.

“Ek dink die nuwe materiaal is wérklik nuut en opwindend!” Die album heet eenvoudig Coenie 2.2, en verwys na die twee-en-twintigste vrystelling deur dié kunstenaar.  “Dit verwys ook na ’n volgende generasie van werk – bietjie soos sagteware nuwe weergawes vrystel,” lag hy.

Hy stel graag nuwe werk by die Atterbury Teater bekend, en hierdie album is geen uitsondering nie. “Ek was weer bevoorreg om met die blinkste talent in ons land te kan saamwerk,” vertel Coenie.  “Die Mzanzi-koor sing op die album saam en wel op ’n snit wat ek deel met die ikoniese Judith Sephuma en die ongelooflike Busiswa – sy het onlangs saam met Beyoncé gewerk. Ek moet myself ’n bietjie knyp!”

Dan is daar die duet saam met Kyle Seconna, die verstommende solis van Kaapstad. “Ons het Al lê die Berge nog so Blou in Afrikaans en Polinesies opgeneem – waar hoor jy ooit Afrikaans en Maori saam? Kyle is eenvoudig ’n vonds, en ek is so bly dat hy op die album kan meedoen.”

Die bonus op die album is dat daar twee snitte verskyn vanaf elk van die vier albums wat Coenie oor die afgelope dekade gemaak het.   “Dis moeilik om te glo dat ek die vorige versamel-album Dekade reeds meer as tien jaar gelede vrygestel het.  Mense kry dus die beste van die afgelope tien jaar op een album, plus 8 splinternuwe snitte.”  Die album sluit ’n paar belangrike samewerkings in, onder meer met Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Grammy-wenner Wouter Kellerman en die beroemde Amerikaanse saksofoon-speler Dave Koz.

“Daar is sommige liedere wat mense altyd wil hoor,” sê Coenie. “Ek het nog net een keer Karoonag as ’n solo-lied opgeneem, en dit was in 1980.  Op hierdie album het ek dit vars opgeneem, en dis sekerlik die laaste keer.  Dis ’n baie stil en intieme opname wat ek saam met Jaconell Mouton gedoen het.  En ja, selfs Namakwaland is daar in die weergawe waarop Dave Koz saamspeel.”

Jaconell Mouton het deur die jare saam met Coenie aan sy albums gewerk, en so-ook Mauritz Lotz. “Ek is bevoorreg dat beide musikante weer hulle weg oopgesien het om saam met my aan die nuwe materiaal te werk.  Die vorige album was baie stil en ingekeerd.  Daar is stiller snitte, maar eintlik gooi ek mielies op hierdie album – dis vrek lekker!”

Die eerste albums in die handel sal by die konserte beskikbaar wees. “En dan is dit natuurlik die beste musikante in die land wat op die verhoog meedoen,” sê Coenie. “Die gehoor gaan kennis maak met Kyle Seconna, en dan is daar natuurlik die Mzanzi-koor, wat beslis ’n kaartjie die moeite werd maak.”

Kunastenaars: Coenie de Villiers, Die Mzanzi-jeugkoor, Kyle Seconna, Jaconell Mouton, Mauritz Lotz, Denny Lalouette en David Klassen

15 September 2019, 14:30 – 16:00 Atterburyteater
15 September 2019, 19:00 – 20:30
Atterburyteater