Die Atterbury Trust beursleningsfonds het oor die afgelope 20 jaar al 615 studente gehelp om befondsing vir tersiêre studies te kry en daar is tans 221 van hierdie studente wat nog besig is met hul studies. Uitvoerende trustee Zahn Hulme is al van dag een af betrokke by die fonds en staan elke jaar nederig voor die wenresultate wat hierdie hardwerkende, dankbare studente lewer as hulle net ’n kans gegun word. Dit word weerspieël in die uitsonderlike slaagsyfer van 97% van Atterbury Trust se beursstudente. Danksy die Trust se splinternuwe “Neem ’n Student Aan”program is daar nou ’n nuwe, maklike manier vir mense wat wil help, om by te dra. Zahn vertel meer…

Wat was die idee agter “Neem ’n Student Aan”?
Dit is gebore uit die besef dat, hoewel party skenkers gelukkig is om ’n anonieme finansiële bydra te maak, sommige mense graag meer persoonlik wil betrokke raak by die proses, en meer invloed wil hê op hoe hulle skenkings aangewend word. Ons vind dat mense graag spesifiek ’n onderwyser, of ’n ingenieur, of ’n dokter wil help en as deel van hierdie nuwe program wil ons skenkers en studente by mekaar uitbring sodat albei baat. Die Trust hanteer die administrasie en monitering sodat dit vir almal pynloos is. Ons wil dit vir skenkers moontlik maak om soveel betrokke te wees soos wat hulle wil – deur byvoorbeeld ’n spesifieke student se boeke te borg, vakansiewerk of werk-skadugeleenthede aan te bied, of selfs vir die student ’n eerste werk aan te bied as hy of sy afstudeer.

Is die program gemik op spesifieke kategorieë van borge?
Ek moet eerstens benadruk dat ons groothartige en vrygewige skenkers die lewensbloed is van die fonds – dit is hulle wat dit vir ons moontlik maak om elke jaar nog ’n groep leergierige jongmense ’n hupstoot tot in die tersiëre opvoedingsstroom te gee. Die fonds se langtermyn voortbestaan is afhanklik van skenkers, en dan behartig Atterbury Trust steeds die administrasie van die beursfonds en bestuur ook die ondersteunende dienste soos mentorskap van studente. Saam skep ons ’n broodnodige platform, en die wonderlike suksesverhale en hoë slaagsyfer van Atterbury Trust beursstudente bewys die werklike waarde van dit wat ons saam doen as ’n gemeenskap van mense wat omgee.

Met die Neem ’n Student Aan-program teiken ons individue, maar ook maatskappye, wat deur te kies om spesifiek by te dra aan die Atterbury Property Foundation NPC se bemagtigingsbeurse vir swart kandidate, BBSEB punte kan verdien.

En word spesifieke kategoriëe van studente geteiken?
Ons het wel spesifieke pakkette vir sekere gewilde studierigtings saamgestel, maar daar is ook ’n ope kategorie waarin die skenker ’n rigting kan bepaal. Daar is soveel leergierige en talentvolle jongemense daarbuite wie se families dit net nie self kan bybring nie, en wat potensieël so baie waarde tot ons land kan toevoeg in die toekoms. En as ons dit kan verhelp, sal niemand wat bereid is om alles in te sit, die kans ontneem word om sy of haar volle potensiaal te bereik nie.

Vertel ons meer van die verskillende pakkette
Ons het vier verskillende beursborgpakkette vir spesifieke studierigtings ssamgestel. Die vier spesifieke pakkette is aangepas tot die studierigting en maak dit maklik om studente individueel te borg in die finansiële veld, die mediese veld, die wetenskappe, insluited landbou en tegnologie en in kultuurverwante velde. ’n Maatskappy kan byvoorbeeld besluit op ’n R75 000 AttFinansies borgskap, wat ’n student se hele graadkursus in die wetenskap van besigheid sal dek. Met ’n AttKultuur borgskap van R50 000 – die kleinste van die vaste pakkette – word ’n student wat drama, tale of ’n ander BA-rigting studeer, “aangeneem”. Soos voorheen genoem is daar ook die opsie om ’n eie, pasgemaakte beurspakket te borg in ’n studierigting wat die borg self kan bepaal.

Hoe betrokke is die skenker by die bepaalde student?
Die Trust gee gereeld terugvoer oor die vordering van die studente, en borge word op hoogte gehou oor die akademiese resultate sowel as die emosionele welstand van die student wat hul “aanneem”.

Die ondersteuning kan ook doelgemaak word in ooreenstemming van donateurs se vereistes. Daar kan byvoorbeeld vereistes vanaf die kant van die donateur wees vir vakansiewerk of moontlike internskapgeleenthede. Borge wil dalk hê dat studente ’n aantal ure gemeenskapsdiens moet verrig of bepaalde kursusse bywoon.

Hoe gaan mense te werk as hulle ’n belangstel om ’n student “aan te neem” met ’n beursborgpakket?
Vir meer inligting oor al die detail van die program, klik hier. Kontak my gerus direk by [email protected] of 012 471 1600.

VINNIGE BEURSFEITE

Top drie gewildste graadkursusse (sedert 1998)

  1. B Com (120 studente)
  2. B Ed (110 studente)
  3. B Sc. (90 studente)

Top drie huidige kursusse

  1. B Ed (43)
  2. B Sc. (38 studente)
  3. B Ing (34 studente)

Top drie instellings in 2018

  1. Tukkies (68)
  2. Noordwes Universiteit (37)
  3. Unisa (35)