19 November 2019, 20:00 – 22:00

R150

Elna van der Merwe en Zorada Temmingh het sedert 2006 bekendheid verwerf as die Blondes, ’n unieke klavierduo wat ewe gemaklik treffers van die groot klassieke meesters as dié van ligtemusiek-legendes verwerk tot tweeklavier-keurspele. Hulle is bekend daarvoor dat hulle klassieke musiek op ’n ligte manier, en ligte musiek op ’n klassieke manier na gehore te bring. Die Blondes het reeds 4 CD’s vrygestel en tree landwyd op. Hulle het ook internasionale optredes in London en Israel gehad. Elke jaar kies hulle nuwe komponiste: vanjaar s’n is Chopin en Liszt. Hierdie twee 19de-eeuse Paryse pianiste se bekendste melodieë word deur die twee Stellenbosse pianiste in vindingryke keurspele op twee vleuelklaviere uitgevoer.

Chopin, die “digter van die klavier” se mooiste melodieë uit sy walse, nokturnes, preludes, etudes, polonaises en klavierconcerti, vorm ’n keurspel van uiterstes: delikate grasie tot heroïese grootsheid. Liszt, die “Paganini van die klavier”, se hoogdrama, virtuositeit en speelsheid word vervat in ’n keurspel uit sy klavierconcerti, sy geliefde Liebestraum en La Campanella, die Consolations en nog meer.

Dan is daar ook nog Boland Blues, ’n keurspel waarin twaalf volkswysies in twaalf verskillende toonsoorte aangebied word – die bekende woorde verwys almal na iets in die Boland. Tussendeur word die draak gesteek met bekende klassieke musiek tot groot vermaak van kenner en liefhebber.

Die ABBA-keurspel sluit van hul grootste treffers in, soos Money, Money, Money, Waterloo, Fernando, Voulez-Vous, Thank you for the Music, SOS en ander. Met twintig vingers wat rock op twee klaviere kan dit nie anders as ’n tintelende ervaring wees nie.

Kunstenaars: Elna van der Merwe en Zorada Temmingh

 

19 November 2019, 20:00 – 22:00 – Atterburyteater