By die Triomf Kliniek streef ons daarna om wêreldklas behandeling gratis te bied aan mense wat vir jare lank op staatshospitale op waglyste is vir noodsaaklike prosedures, en daarom dikwels met gevorderde probleme kom aanklop vir hulp. Dr Odette Koch, een van Triomf Kliniek se staatmakervrywilligerdokters is ’n ortopeed wat spesialiseer in die boonste ledemate, en het haar kundigheid en tyd geskenk om onlangs in samewerking met Dr Helene Basson van Operation Healing Hands (OHH) vyf Triomf-pasiënte se jarelange gewrigprobleme met ’n baanbreker-operasie op te los. Sy vertel ons meer van haar betrokkenheid en die voordele van hierdie tegniek.

Hoe het jy by Triomf Kliniek betrokke geraak, en hoe lank is jy al daar betrokke?
Aanvanklik het die stigterdokter Marc Rocher met my in verbinding getree deur ’n gemeenskaplike kontak. Op daardie stadium was daar nog nie ’n gevestigde ortopedie-diens nie. Later het ek deur Dr Helene Basson en OHH betrokke geraak en help sedert 2019 by die kliniek.

Presies hoe gereeld werk jy met pasiënte daar?
Ek bied elke tweede maand ’n ortopediekliniek aan (ek en Dr Helene wissel die klinieke af). Dit behels basiese behandeling soos infiltrasies vir ortopediese probleme; verwysings na die staatsopset en operasies deur OHH.

Vir watter prosedure/behandeling in jou veld is daar die grootste nood by Triomf?
Groot gewrigsvervangings is beslis die nodigste – heupe en knieë – by mense wat al vir jare en jare op die staatshospitale se waglyste is.

Jy het baie onlangs ’n aantal WALANT-operasies vir Triomfpasiënte uitgevoer om karpale tonnelsindroom te verlig. Vertel ons meer oor hierdie prosedure? Bied dit 100% oplossing vir die pasiënt se probleem?
WALANT is ’n tegniek wat staan vir Wide Awake Local Anaesthesia No Tourniquet, en plastiese sjirurge gebruik dit al jare met sukses vir klein prosedures soos veloorplantings en om klein velletsels uit te sny. Ortopede was aanvanklik versigtig oor die gebruik van adrenalien op die ledemate, en die feit dat ons nie ’n sogenaamde bloedlose veld het met ’n plaaslike prosedure nie en sonder toerniket werk. Die plastiese sjirurge Donald Lalonde van Kanada en Jin Bo Tang van China het begin om die tegniek in die handsjirurgieveld te gebruik en het al meer as 10 000 pasiente met WALANT geopereer. Die hoeveelheid adrenalien per prosedure is baie klein; dit is verdun tot 1:100 000; en die infiltrasiestof bevat ’n plaaslike verdowingsmiddel soortgelyk aan dié wat tandartse gebruik. Die pasiënt ervaar bykans geen pyn tydens die operasie nie. Die WALANT-metode word met sukses aangewend vir probleme soos karpale tonnel-sindroom, sneller vingers en De Quervian se tenosynovitis. Deur die prosedure onder plaaslike verdowing te doen word die probleem op ’n baie koste-effektiewe manier opgelos en pasiënte is baie tevrede met die resultaat. In ’n studie wat binnekort gepubliseer word, het ons getoon dat 100% van die pasiënte as hulle weer kon kies, die prosedure eerder met die WALANT-metode sou ondergaan as onder algemene narkose.

Hoeveel pasiënte kon jy hiermee help, en het alles glad verloop? Was enige van hulle meer ingewikkeld as die ander, was daar enige komplikasies?
Ek dink ons het vyf pasiënte op die dag gehelp. Die prosedures was almal uitdagend, omdat die pasiënte almal al vir meer as twee jaar lank met die probleem geloop het en nie kon behandeling kry nie; so dinge was verder gevorder as wat dit tipies sou wees. Hierdie tegniek bied regtig die potensiaal om heelwat meer behoeftige pasiente op ’n koste-effektiewe manier te kan help.

Dit is wonderlik dat jy op hierdie manier ’n verskil maak in soveel lewens. Wat motiveer jou om gemeenskapsdiens van hierdie aard te doen?
Handelinge 20:35 sê, “Om te gee maak mens gelukkiger as om te ontvang.” Ek het besef gee verwys nie net na geld nie; om tyd te gee; en dit met ’n glimlag; te doen, maak my baie gelukkig. In die staatsopset waar ek voltyds betrokke is (ek is verbonde aan 1 Militêre Hospitaal) is ons WALANT-kamer se leuse “Service with a smile; if you are prepared to wait a while