Die feestyd is ’n tyd om te vier, maar vir so baie mense is dit ’n moeilike tyd omdat geld knyp en daar nie sprake kan wees van geskenke en bederf nie. Atterbury Trust reik graag in hierdie tyd uit om iets spesiaal te doen vir die mense in ons gemeenskap. Atterbury Trust staatmaker Karin Dercksen vertel meer.

Kindertjies is baie na aan Atterbury Trust se hart; julle het sekerlik besoek afgelê by ’n skool?
Ja, inderdaad. Dit was ’n besige jaar, maar ons kan nie die feestyd laat verbygaan sonder om te kuier by die jongspan van die Beyers Bytjies kleuterskool nie. Ons is al omtrent 11 jaar by die skool betrokke deur onderwysersalarisse te subsidieër en die skoolhoof, Frances Delport, is ’n wonderlike vrou wat saam met haar span so baie vir die kinders beteken. Die skool het middel-November ’n “gradeplegtigheid” gehou vir die 107 Graad R’e wat volgende jaar groot skool toe gaan, en die Atterbury Trust-span was daar om die sertifikate te oorhandig en saam te kuier.

Hoe het die dag verloop?
Dit was so ’n mooi geleentheid. Die kindertjies was almal so mooi aangetrek en die skool het die dag baie spesiaal gemaak vir hulle. Dit was vir ons ’n voorreg om vir elke kind sy of haar sertifikaat te oorhandig en die opgewondenheid van groot skool in hulle ogies te sien.

Beyers Bytjies verskaf mos ook maaltye, in baie gevalle is dit die enigste gereelde maaltyd wat hierdie kinders kry omdat hul uit uiters behoeftige gesinne kom. Herinner ons gou hoeveel kinders daar skoolgaan, en wat die maandelikse behoefte is wat voedsel betref?
Daar is 170 kinders in die skool en elke dag word daar vir 76 van hulle maaltye verskaf, so die skool se behoefte is baie groot. Vakansietye is ook ’n uitdaging, want die daaglikse maaltyd wat baie van die kinders by die skool ontvang, is nie daar as die skool gesluit is nie.

Indien mense oor die feesgety iets wil bydra, wat is die heel nodigste, en hoe sal hulle te werk gaan?
Soos ek genoem het, het die kos-begroting altyd hulp nodig, en dan het die kleintjies ook skryfbehoeftes nodig vir die nuwe skooljaar. As mense wil bydra om skryfbehoeftes te borg of vir ’n gesin ’n kospak vir die vakansie te verskaf, kan hulle my kontak by [email protected]; dan fasiliteer ons dit.

Atterbury Trust het ook ’n dankiepartytjie by die Triomfkliniek gehou – vertel ons meer daarvan.
Dit was ook ’n baie spesiale dag – almal wat deur die loop van die jaar betrokke was by die kliniek was daar – die vrywilligerdokters, kliniek-ondersteuningspersoneel en die verwysende organisasies. Op die dag is Dr Marc Roscher se dermatologiekliniek gehou en Dr Gys de Necker, die tandarts, was ook daar, en ons kon vir elke pasiënt wat die dag daar was ’n worsbroodjie en ’n koeldrank gee. Dit was hartroerend om eerstehands te kon sien en ervaar watter impak die Triomfkliniek se sorg met waardigheid op die gemeenskap in die weste van Pretoria het. Bykans 1 800 pasiënte is oor die afgelope vyf jaar by Triomf gehelp.

En natuurlik is die beursstudente nie vergeet nie! Hoe het julle die einde van die jaar saam met die studente gevier?
Ons Gro-Life mentor Leonie du Preez het sommer twee “jaar-eind funksies” gereël om meer studente wat vanjaar graad kry, te kon akkommodeer. Die Trustspan het hulle uitgeneem vir burgers en ietsie om te drink om hulle toetrede tot die grootmenswêreld en die arbeidsmark te vier. Almal het baie lekker gekuier; ons is so trots op hierdie groepie wat soveel gegroei het en wat nou as nuwe belastingbetalers met waardevolle vaardighede die hele land gaan bevoordeel!

Heelwat van die ongeveer 54 studente wat vanjaar hulle studies voltooi, het ook al in die afgelope paar weke by Die Klubhuis ’n draai gemaak. Dit is hartverblydend om hierdie groot  “graadvang” mylpaal met ons graduandi te deel. As daar van die Trust-medewerkers is wat weet van potensiële werksgeleenthede en internskappe, laat weet gerus; aangesien ons ook behulpsaam is om afgestudeerde studente te help werk kry. Van ons ander studente is ook op soek na vakansiewerk, so laat weet gerus as daar enige geleenthede beskikbaar is.