Sowat 120 vriendinne van Atterbury Trust, insluitende’n groep van 30 van die Trust se huidige vroulike beursstudente en alumnae het verlede Saterdag by die Atterbury Teater bymekaargekom om Vrouedag en die bekendstelling van die Omgee Vriendskapgroep te vier. ’n Baie besondere oggend het ontvou, met stories, musiek, mandalas, ’n lag en ’n traan… en nuwe vriendskapsbande.

Een van Atterbury Trust se heel waardevolste bates is die netwerk van mense met groot harte en gewillige hande wat die Trust se werksaamhede al vir meer as twee dekades lank ondersteun. En die honderde studente wat danksy die Trust se beursfonds deur hierdie jare bemagtig is om hul studies aan te pak, te voltooi, en hul plek in die samelewing en die ekonomie in te neem, is beslis die Trust se grootste trots.

Saterdag se Vrouedag-viering was ’n lekker ontspanne manier om hierdie twee sleutelaspekte van die Trust bymekaar te bring en sommer ook die nuwe Omgee Vriendskapsgroep bekend te stel, vertel uitvoerende trustee Zahn Hulme. Die inspirasie vir die dag was ’n behoefte wat die beurspaneel raakgesien het onder baie van die studente, aan emosionele ondersteuning van iemand wat soms net kan luister en raadgee as die uitdagings van studentwees ’n bietjie oorweldigend raak.

“Baie van ons beursstudente is die eerste persoon in hul gesin wat verder swot, en kom uit huise waar baie van hulle ouers geen ervaring van universiteitslewe, eksamendruk of kampuskwessies het nie,” verduidelik Zahn. “Danksy die beursfonds is studente geholpe met die universiteitsfooie wat hul nodig het, maar daar is soms ook ’n behoefte om net raad te vra of gerusgestel te word deur iemand wat die druk van die universiteitsomgewing ken, en wat self daardeur is. Daar is ook baie ander behoeftes soos sakgeld, data en so af en toe ’n klein bederfie. Hul ouers kan in meeste gevalle nie hiermee help nie, en as die druk erg is, beteken dit so baie om net die foon te kan optel en te kan gesels met iemand wat ’n oor kan verleen en kwellings in konteks plaas.”

Aan die ander kant van die spektrum is daar die vriendinne van Atterbury Trust, wat so baie lewens- en professionele ervaring het… boonop is baie van hulle se kinders groot en uit die huis, en het nie meer ma se aandag elke dag nodig nie; en hul sou met groot graagte ’n vertrouelingsfiguur vir ’n student word.

Saterdag is sulke deure oopgemaak en stories en nommers uitgeruil, met twee studente as eregaste aan elke keurig gedekte tafel in die foyer van die Atterbury Teater, waar lekker gekuier is met vonkelwyn en heerlike happies.

Die sangeres Lize Beekman het sielskos vir die dag verskaf deur haar persoonlike reis van herstel na ’n persoonlike tragedie met die gehoor te deel in vertellings, liedjies en geprojekteerde foto’s. Almal het ’n hartseer storie in hul lewe, en ’n mens weet nooit wat ’n ander persoon met haar saamdra en in haar gebalde vuiste styf vashou nie; en Lize se verhaal was diep roerend en inspirerend. Haar wens vir elkeen vir “oop hande”, en al die potensiaal en hoop, en berusting wat daarmee gepaardgaan, het behoorlik aan die hart gevat.

Daar was lekker pryse vir algemene kennis, en vir die mees onverwagse item in ’n handsak (gewen deur die twee gaste wat almal laat skaterlag het toe die een ’n opgefrommelde lemoensakkie en die ander ’n hele groot grimeerspieël uit haar handsak te voorskyn gebring het!) Daar was ’n pamperlang-hoekie waar gaste kon gaan sit vir ’n ontspannende nekmassering of gemanikuurde naels deur Isa Carstens se talentvolle terapeute.

Dit was die perfekte manier om Vrouemaand in te lui, met gesels en gekuier aan elke tafel; studente het vertel van hul uitdagings, die lekker en swaar van hul kursusse, hul toekomsplanne; en kontakdetails is aangevra en uitgedeel en in fone ingepons. Planne is sommer net daar al gemaak vir ’n koffie hier, ’n maandelikse bederfie daar, en mees belangrik, die studente het ’n netwerk van ouer vriendinne leer ken wat emosionele ondersteuning kan verskaf, en op wie se nommers hulle vorentoe kan druk.

“Ons stoutste verwagtings is oortref,” sê Zahn. “Die eerste byeenkoms van Omgee Vriendskapgroep was presies waarvoor ek gehoop het: warmte, oopheid, en die gewilligheid om te help en te ondersteun. Die studente wat hierdie oggend kon meemaak se lewens is beslis verryk. Ons sien uit om nog vele sulke kuiersessies aan te bied en ons Vriendskapgroep aan te hou uitbrei.” Met die oog op die Rugby Wêreldbeker word iets soortgelyk ook vir die manne beplan, so hou hierdie spasie dop!

Om seker te maak jy ontvang ’n uitnodiging vir die volgende byeenkoms van die Omgee Vriendskapsgroep, stuur gerus ’n epos na [email protected]. Om Lize Beekman te bespreek vir ‘n unieke inspirasionele praatjie, kontak [email protected]