Atterbury Property het sedert 2016 ’n kantoor in Dorpstraat in Stellenbosch, en nou is Zahn Hulme as Atterbury Trust se uitvoerende trustee ook permanent daar by die historiese La Gratitude Herehuis gebaseer. Sy vertel ons meer oor die groter plan.

 

Wat beteken hierdie skuif vir die Atterbury Trust?
Die Atterbury Trust se raad van trustees het vroeër vanjaar ’n strategiese besluit geneem om die trust se bedrywighede in die Wes-Kaap uit te bou en ’n fisiese Atterbury Trust Wes-Kaap tak te vestig. Atterbury Trust is reeds vir baie jare aktief betrokke met werksaamhede in die Wes-Kaap – ek dink spesifiek aan ons jaarlikse Versnitkonsert by Rust en Vrede, finansiële ondersteuning van studente aan universiteite en kolleges in die Wes-Kaap, ons betrokkenheid by Richmond Park Treasury Trust asook oprigtertrustee Francois van Niekerk se Mergon- en ander netwerke en projekte. Atterbury Property het reeds ’n sterk teenwoordigheid in die Wes-Kaap gevestig met ontwikkelings soos Richmond Park, King Air Industria, Mediclinic Stellenbosch, Trumali, en so meer.

Die oogmerk is om die bestaande netwerk van Atterbury en Atterbury Trust se sakevennote en ondersteuners te gebruik om nuwe Kaap-gebaseerde donateurs asook liefdadigheidstrusts met ’n sterk Afrikaanse fokus aan boord te kry en sinergieë te ondersoek en uit te bou. Daar is ook baie invloedryke en welvarende besigheidsleiers wat in die Wes-Kaap gebaseer is en ons wil hulle graag as potensiële donateurs betrek.

Dit is ook betekenisvol om weer nouer te kan saamwerk met Francois van Niekerk wat Atterbury in 1994 saam met Louis van der Watt begin het. Francois, wat ook saam met Louis Atterbury Trust se oprigtertrustee is, se filantropiese ingesteldheid en groot visie bly na soveel jare steeds vir my ’n bron van inspirasie en dis ’n voorreg om op ’n gereelde basis met hom te kan saamdink en saamwerk.

Is daar planne om nog mense aan te stel om handjie by te sit in die Wes-Kaap? Hoe groot is die kantoor en die span daar?
Francois het drie jaar gelede die Mergon Ontwikkeling Inisiatief geloods. Die naam is sedertdien verander na die Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) en is een van die beursfondse wat nou geïnkorporeer word onder die vaandel van die Atterbury Trust. MOI is gerig op behoeftige bruin Afrikaanssprekende leerders met sterk akademiese potensiaal, karakter en die wil om te leer en presteer. Jenene Petersen is MOI se koördineerder en sy en Simonet de Villiers as MOI projekbestuurder, het by die Atterbury Trustspan in die Wes-Kaap aangesluit.

Surisa Schwalb sluit ook op 1 Augustus by die span aan – sy gaan fokus op finansiële bestuur, gaan verder Terugploeg- en studenteaktiwiteite koördineer en ook fokus op eksterne fondswerwing.

Watter projekte is tans bo-aan die prioriteitslys vir die Trust, en is daar spesifieke Wes-Kaapse projekte waarop jy wil fokus?
Die vestiging van Terugploeg in die Wes-Kaap is beslis ’n prioriteit. In oorleg met bestaande Atterbury Trust-medewerkers, soos ondere andere die eienaar van Rust en Vrede, Jean Engelbrecht, wil ons potensiële Wes-Kaapse donateursboere wat skenkings van vrugte, groente en wildsvleis sal maak, identifiseer en deelmaak van Terugploeg. Die groter droom is om ’n tweede Terugploeggebou op te rig vanwaar die verspreiding van kos aan gemeenskapsorganisasies in die Wes-Kaap gedoen kan word.

Daar word verder beplan om bystand te verleen aan Atterbury Property se Wes-Kaapkantoor om projekgerigte sosiale verantwoordeliksheidsprojekte te dryf. Richmond Park Treasury Trust word reeds deur die Atterbury Trust bestuur en daar word beoog om ook ’n impak op omliggende gemeenskappe rondom King Air Industria naby die Kaapstad Internasionale lughawe te hê.

MOI is ’n deurlopende projek waar intensiewe ondersteuning en leiding aan die leerders verskaf word. Daar is tans 60 hoërskoolleerders van Graad 8 tot Graad 10 in die program. Hulle woon 13 van die beste hoërskole in en om Stellenbosch, Durbanville en Kaapstad by. Die keuring van Graad 8-leerders wat 2023 in die program opgeneem word, is ook tans onderweg.

Verder is Startwell ’n voedselverskaffingsprojek wat spesifiek gerig is om groeibelemmering van kleuters te stuit. Daar is saadkapitaal vir hierdie projek in oorleg met die InVia Village-projek bewillig en die bestuur van hierdie projek in samewerking met die Inani Startwell Foundation gaan ook deur die Atterbury Trust Wes-Kaap tak gedoen word.

Stellenbosch is ’n dorp met groot bekoring; wat kan jy uitsonder as ’n aspek wat jy besonder baie geniet?
Sjoe, dis moeilik om net een aspek uit te sonder! Stellenbosch is een van die mooiste dorpe in ons land – ryk aan kuns, kultuur en geskiedenis en natuurlik die majestieuse bloue berge oral rondom. Ek geniet die energie van die studente en dat daar altyd iets interessants in die mooie dorp aan die gebeur is! Dis ook wonderlik om vinnig te kan stap waar ek wil wees.

Gee vir ons ’n groot droom vir die Wes-Kaapse been van Atterbury Trust – watter suksesverhaal sal jy graag oor vyf jaar wil kan vertel?
Ek was amper 25 jaar gelede betrokke by die oprigting van die Trust en sou nie toé in my wildste drome kon dink dat ons eerste ses beurshouers van 1999 sou groei tot die 731 van vanjaar nie. Om nie te praat van ’n Triomf Kliniek, Atterbury Teater en Terugploeg nie! Ek het eerstehandse ondervinding van die oop harte en hande van die vriende en medewerkers van die Atterbury Trust en sien uit daarna om dit hier in die Wes-Kaap uit te bou. Ek sal graag ’n Terugploeg-gebou buite Stellenbosch wil sien – naby genoeg aan die N1 dat al die vrugte- en groenteboere uit Ceres, Grabouw, Elgin en so ver as Robertson en George op pad mark toe ’n paar ton vars produkte kan kom aflaai en ons dit dan verder onder behoeftige gemeenskappe kan versprei en ook in die proses werk skep. Ek sien ook uit daarna om nuwe vennootskappe met donateurs en vrywilligers te smee en hande te vat om hoop aan ons land te gee.

Indien jy op enige manier by die Atterbury Trust se aktiwiteite wil betrokke raak, as donateur, skenkerboer of medikus, kontak asseblief vir Zahn by 082 325 9225 of stuur ’n e-pos aan [email protected].