’n Wêreldklas-teater verdien ’n wêreldklas-klavier … en daar is geen beter klavier as ’n Steinway nie. Charl du Plessis en Matthys Maree het onlangs Duitsland toe gereis om vir die Atterbury Teater ’n top-instrument by die Steinwayfabriek met die hand te gaan uitsoek. Charl, een van slegs vyf Steinwaypianiste in Suid-Afrika, wat boonop in 2010 Suid-Afrika se jongste Steinwaypianis geword het, vertel die storie.

Wat beteken dit om ’n Steinwaykunstenaar te wees; hoe word iemand hiervoor gekies?  Voed ons bietjie op oor die Steinway handelsmerk en die betrokkenheid van pianiste wêreldwyd…
Steinway bou die beste klaviere in die wêreld en is nou reeds 165 jaar die nommer een in die wêreld. Ek het in 2010 ’n Steinwaykunstenaar geword – mens verkry dié eer deurdat iemand in die Steinway sirkel jou nomineer. Jy moet slegs op Steinwayklaviere opneem en speel (waar moontlik) en ook ’n klavier besit. My ouers het ’n Steinway besit en ek het van jongs af ’n passie vir die instrumente gehad. Steinway het in Hamburg, Duitsland begin en later ook in New York ’n fabriek oopgemaak. Tot vandag word die klaviere in beide stede gebou.

Wat maak hierdie instrumente so besonders?
Die vakmanskap maak dit uniek, omdat dit met die hand uit die beste materiaal (beste hout ter wêreld) gebou word volgens die tradisie en kennis van 165 jaar. Gevolglik is die kwaliteit, musikale uitdrukkingsmoontlikhede, stabiliteit en krag van hierdie instrumente onvergelykbaar met enige ander op aarde. Die hoë herverkoopwaarde van hierdie klaviere is net so belangrik.

Waar het die idee ontstaan om vir die Atterbury Teater ’n Steinwayklavier te gaan koop?
Die idee was reeds lank aan die broei maar vroeër vanjaar het die noodsaaklikheid om so ’n wêreldklas instrument vir die teater te koop meer dringend geword. Dit spruit uit die gehalte van opnames en vertonings en veral die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie se standaard wat so ’n kwaliteit-instrument vereis.

So toe moet julle Duitsland toe gaan – was jy al voorheen by die Steinwayfabriek?
Dit is die derde Steinway wat ek uitkies en ek geniet die reise na Hamburg vir dié rede natuurlik mateloos. Om in die Steinwayfabriek te kan uitsoek, bly enige pianis se droom. Ons het ’n toer van die fabriek onderneem nadat ons die klavier uitgesoek het. Daar was ’n hele saal vol klaviere en ek en Matthys Maree het gelukkig saamgestem oor die regte instrument!

Het julle reeds ‘n spesifieke soort klavier/model in gedagte gehad voor die tyd; moes jy huiswerk doen vooraf?
Ja – ons het op ’n konsertvleuel besluit; nie die heel grootste model wat Steinway verkoop nie maar wel die tweede grootste, omdat die verhoog van die teater ook plek moet hê vir ander instrumente. Ek het baie ondervinding van die verskillende groottes; ek is gelukkig blootgestel aan alle soorte Steinways tydens my internasionale konserte en opnames. Hierdie grootte is ideaal vir die Atterburyteater.

Wat was die voordeel daarvan om self na die fabriek toe te gaan? Hoeveel klaviere het julle daar onder een dak gehad om uit te kies? Wat is die mees besondere instrument wat julle daar te sien gekry het?
Die voordeel van die fabriek is die uitsoek en vergelyk van dieselfde model klaviere. Daar was drie van ons spesifieke model en grootte en ons het die middelste klavier van die drie gekies – dit het die grootste klankspektrum gehad met die meeste klankkleurmoontlikhede (timbre) en is ’n baie kragtige instrument. Ons het tydens ons besoek ook die nuwe Black Diamond Steinway gesien wat meer as R20 miljoen kos – ’n ware meesterstuk met spesiale houtafwerking…

daar is net ’n paar sulke klaviere gemaak in ’n beperkte oplaag.

Vertel ons van die model wat jy toe gekies het vir Atterbury? Hoe kies mens ’n klavier?
Om ’n klavier te kies is seker soos om verskillende motors te toetsbestuur – jy probeer kyk na die tegniese aspekte van die model, hantering, krag, klank en natuurlik die gevoel. Elke klavier speel anders en dis soos om ’n dansmaat af te wissel – elkeen dans verskillend. Vanweë die handgemaakte aspek is elke klavier uniek.

Ons verneem die klavier het sommer vinniger as verwag ook al aangekom!
Ja, dit het ons heeltemal verras! Ek is baie bly om te sê hy het veilig hier geland en gaan wonderlik werk in die teater.

Daar word ’n spesiale konsert beplan, verneem ons. Wat kan julle ons daarvan vertel, en wanneer vind dit plaas?
Op Maandag 26 Augustus word die klavier ingewy met ’n spesiale galakonsert waar vier verskillende pianiste gelyktydig op die een klavier gaan speel – ’n ware unieke geleentheid wat nooit weer te siene gaan wees nie. Die besprekings vir die konsert sal binnekort by iTickets oop wees. Ons neem ook tydens die konsert afskeid van die ou klavier en gaan die twee in kombinasie aanwend. Hierdie sal ’n eenmalige gebeurtenis wees.