Die Atterbury Teater is opgeknap ná amper agt suksesvolle jare en 2 450 uitvoerings, produksies en opvoerings, wat deur sowat 731 630 mense geniet is.

Die nuwe Atterbury Teater het op Vrydag 1 Februarie geopen met ’n uitverkoopte bekendstellingsgeleentheid met Karen Zoid en haar groep, kompleet met vonkelwyn en verrassings.

Die Atterbury Teater is ’n belegging van die Atterbury Trust, wat 25 jaar gelede opgestel is met die stigting van Atterbury Property in 1994, en sluit kultuur as een van sy fokusareas in.

“Die opgradering bou voort op die voortdurende innovering en verbetering wat sinoniem geword het met die teater,” sê Zahn Hulme, die uitvoerende trustee van Atterbury Trust, wat verantwoordelik is vir die opgradering van die gewilde Atterbury Teater.

Die opgradering het die teater se binnekant ’n briljante nuwe kleurpalet en ’n splinternuwe tapyt besorg, wat spesifiek vir die teater ontwerp is.

Die 400 stoele daarin is nuut in drie nuwe kleure oorgetrek. Veranderings is aan die teatersitplekke gemaak om aan teatergangers meer beenruimte te gee.

Die klankkamer is omskep om optimale klankingenieursfasiliteite in te sluit. Die teater se foyer is nou groter, wat meer plek toelaat vir konferensies en geleenthede, en daar is meer ruimte om die kroegarea.

In die foyer sal kunswerke van drie nuwe kunstenaars hulle voeg by dié wat reeds in die teater vereer is. Karen Zoid, Coenie de Villiers en Steve Hofmeyr sal aansluit by die groep betekenisvolle Afrikaanse kunstenaars wat reeds daar verskyn.

“Die teater het al te veel hoogtepunte gehad om te noem, maar elke kunstenaar en lid van die publiek het van die Atterbury Teater gemaak wat dit vandag is. Dit het al gasheer gespeel vir groot uitvoerings, klankopnames, DVD-opnames, fenomenale vertonings, ballet, maatskappygeleenthede, kompetisies en selfs bekendstellingsgeleenthede,” sê die teaterbestuurder, Paulette Reyneke. “Die teater is ongelooflik aanpasbaar en die opknapping sal dit net verbeter.”

Die opgradering gaan ook verder as net voorkomsveranderinge en sluit ’n nuwe besprekingstelsel – iTickets – in. “Die Atterbury Teater is baie opgewonde oor sy toekoms met hierdie aanlyn besprekingstelsel wat opwindend is en maklik om te gebruik. Kaartjies vir alle vertonings sal by iTickets te koop wees,” sê Reyneke.

Ander opwindende inisiatief wat deur die Atterbury Teater in samewerking met die Atterbury Trust bekend gestel word, is Optog! 2019. Met Nataniël as die gesig van Optog!, word meer as 60 musiek- en teaterproduksies in 40 venues regoor Suid-Afrika en Namibië aangebied. Optog! 2019 sal in Februarie vanjaar afskop. Van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, soos Laurika Rauch, Nataniël, Coenie de Villiers, Jo Black, Stef Bos en baie ander vorm deel van hierdie projek wat beloof om die land te verower.