18 Oktober 2019, 19:00 – 21:30

R140

’n Geselekteerde groep van Suid-Afrika se mees belowende jong pianiste neem vanjaar deel aan die 9de Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, wat plaasvind vanaf 14 tot 18 Oktober in die Atterbury Teater in Pretoria. Hierdie kompetisie is in 2011 tot stand gebring deur Claudine van Breda en Dr Willie de Jager, nadat hulle ’n leemte identifiseer het vir jong pianiste om op nasionale vlak op ’n gelyke platform teen mekaar mee te ding. Dit is dus die enigste kompetisie van sy soort in Suid-Afrika.

Die totale prysgeld ter sprake is R115 000, waarvan die kontantprys vir die algehele wenner minstens R35 000 beloop. Die 3 kategorieë waarin pianiste deelneem is : 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Keuring vind plaas deur middel van ’n dvd opname, en streng reëls geld ten opsigte van die vereiste repertorium. Daar is vanjaar ’n rekordgetal van 49 kandidate gekeur, met ’n gelyke aantal deelnemers vanaf beide Pretoria en Johannesburg. Daar is egter ook kandidate vanaf Limpopo, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en selfs so ver as die Wes-Kaap.

Die amptelike opening vind plaas Maandag 14 Oktober om 18h30. Tydens hierdie geleentheid sal Colette du Toit, die algehele wenner van 2018 en tans ’n eerstejaar BMus student aan die Universiteit van Pretoria, ’n kort program lewer Daarna word die deelnemers van 2019 na die verhoog geroep en aan die gehoor voorgestel.

Die kompetisie bestaan uit vier rondtes. Alle kandidate neem deel aan Rondte 1 en 2 op Dinsdag 15 en Woensdag 16 Oktober vanaf 08h00 tot 18h00. Hierna word 18 semi- finaliste aangekondig wat deurdring na Rondte 3 Donderdag middag vanaf 13h00. Na voltooing van hierdie rondte word die 9 finaliste uit die 3 kategorieë bekendgemaak. Die kompetisie word afgesluit met ’n gala geleentheid Vrydagaand 18 Oktober om 19h00. Die beoordelaars vanjaar is Mnr Marius du Plessis, Prof Hubert van der Spuy ( beskermheer) en Prof Wessel van Wyk. Atterbury Trust is die hoofborg van die kompetisie, maar verskeie ander borge dra daartoe by dat die kompetisie suksesvol kan bly voortbestaan.

Alle rondtes is oop vir die publiek. Toegang tot die openingseremonie en die aanvanklike 3 rondtes is gratis. Kaartjies vir die finale rondte Vrydag 18 Oktober is beskikbaar by iTickets

18 Oktober 2019, 19:00 – 21:30 – Atterburyteater