Die land se beste skrywers, digters en dramaturge is onlangs by die ATKV se Woordveertjies-toekenningsgeleentheid in Stellenbosch vereer, berig Maroela Media op hul webwerf.

Dit is die elfde keer dat die ATKV-Woordveertjies aangebied is en vanjaar se geleentheid is by die H.B. Thom-teater gehou. Volgens Nita Cronjé, bestuurder van kunste en produksies by die ATKV, lewer al die ontvangers van vanjaar se Woordveertjies ʼn enorme bydrae tot die letterkunde-landskap.

“Ons wil uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woord bekroon,” sê Cronjé. “Ons vereer bydraes oor ’n breë spektrum, van woordeboeke tot prosawerke.”

Sy sê die hoofdoel van die toekennings is om ’n liefde en passie vir lees by mense te kweek. “Dit moet vir skrywers bemoedigend wees om werk te kan skep en mense aan die lees te kry. Dit is ook wonderlik om te sien hoe baie werk verlede jaar die lig gesien het.”

Volgens Cronjé is 12 digbundels vanjaar ingeskryf. “Dit is verblydend om agter te kom dat so baie skrywers woeker met hul woorde – ook as jy kyk na die 23 nuutgeskepte dramatekste wat ingeskryf is. Die ATKV-Woordveertjies moet skrywers motiveer om aan te hou om tot die Afrikaanse letterkunde- omgewing by te dra.”

Cronjé het ook spesifiek verwys na die ATKV-Woordveertjie vir Leesbevordering wat sy meen ’n inspirerende kategorie is wat bewys watter verskil ’n unieke leesprogram kan maak in die lewens van kinders en bejaardes.

“Met PAT Suid-Afrika se Lees-Ukufunda-Read-program word honde spesifiek ingespan om ondersteuning te bied aan kinders wat sukkel om te lees. In die program lees sulke kinders hardop vir opgeleide honde voor en verbeter so hul lees- en kommunikasievaardighede. Die honde praat nie terug nie, raas nie met die kinders nie en lag ook nie as woorde verkeerd uitgespreek word nie.” Volgens Cronjé word hierdie unieke metode om ’n liefde vir lees en boeke te bewerkstellig met sukses in ’n aantal skole aangewend, en met hierdie toekenning sal die kollig hopelik opnuut op die werksaamhede van hierdie wonderlike organisasie val.

Die ATKV het ook vanjaar besluit om vier baie besondere rolspelers in die Afrikaanse uitgewersbedryf te vereer vir hul uitsonderlike bydrae tot die Afrikaanse boekbedryf. Hulle is Marietjie Coetzee, Cecilia Britz, Alida Potgieter en Hettie Scholtz.

Vanjaar se wenners sluit in:

ATKV-Prosaprys:
Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden (Tafelberg)

Prys vir Liefdesroman: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert (LAPA Uitgewers)

Prys vir poësie: Uittogboek deur Johan Myburg (Protea Boekhuis)

Prys vir romances: Alles is perfek deur Dina Botha (Romanza)

Prys vir spanningslektuur:
Kamikaze deur Rudie van Rensburg (Queillerie)

Prys vir dramateks: DEURnis deur Henque Heymans, Corné Joubert, Johann Smith, Shareen Swart en Braam van der Vyver

 Vir die volledige lys wenners, lees die artikel by https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/atkv-woordveertjies-hier-is-die-wenners/