28 April 2019, 14:30 – 16:00

R160 – R180

Twee van die bekendste musikante in Suid-Afrika werk vir die heel eerste keer saam in hierdie vertoning: André Schwartz en Coenie de Villiers span kragte saam in die musiekproduksie Grensloos. “Ons dreig al jare lank om iets saam te skep, en ek en André het gewoon besluit dat nóú die tyd is, terwyl ons nog kan,” vertel Coenie.

“Daar is eintlik drie van ons op die verhoog: die derde teenwoordigheid is ’n reuse vleuelklavier, want ons speel álbei tydens die vertoning. Almal weet dat André ’n sanger van internasionale formaat is, maar nie almal besef hy is ook ’n koning agter die klawers nie,” meen Coenie. “Dis ook ’n stiller vertoning wat so effe inwaarts kyk.”

Maar waarom die titel Grensloos? “Ons wou graag iets skep wat oor grense heen strek,” sê André. “Daar is ongelooflike en minder bekende komposisies uit onder meer Frankryk en Nederland, en dan natuurlik ook uit Suid-Afrika. Ons voer van Coenie en my eie komposies uit, en ’n hele paar daarvan sal heeltemal nuut wees vir gehore. Ons wou albei ’n vertoning sonder ’n enkele kompromis saamstel – ’n mens weet nie wanneer jy weer die kans kry nie!”

Tydens die vertoning praat Schwartz en De Villiers ook oor hulle eerste opnames – sommiges strek terug tot en met die sewentigerjare. “Dis ’n bietjie soos om na jou ou matriekafskeid-foto’s te kyk,” lag albei musikante. “Hopelik het ons darem albei deur die jare gegroei; nou kan ’n mens ’n vertoning saamstel waar jy die goed kan doen wat jy nog altyd wou. En dis vrek lekker om saam te werk – ons moes dit lankal prober het!”

Schwartz en De Villiers word vir ’n oomblik ernstig. “En dis ook ’n positiewe vertoning – niemand grens oor sy of haar lot in die lewe nie.  Dis ongelooflik om die spektrum van liedere te sien wat juis hierdie boodskap van leef en laat leef oor alle grense weerspieël – nie net die grense tussen lande nie, maar ook die grense tussen mense, geslagte en kulture.  Aan die einde van die dag is almal maar net méns…”

Kom vier die lewe  in woord en lied, uitgevoer deur twee van ons land se voorste musikante.

Daar is slegs een vertoning by die Atterbury Teater op Sondagmiddag, 28 April 2019. Die vertoning begin om 14h30, en kaartjies is by iTicket of die loket beskikbaar.  Kaartjies kos R 180 en R 160.

Kunstenaars: André Schwartz & Coenie de Villiers

 

28 April 2019, 14:30 – 16:00 Atterburyteater