Atterbury Trust beursalumni Elrinda Rost het nie net ʼn buitengewone naam nie, sy maak ook ʼn spesiale en betekenisvolle bydrae tot ander mense se lewens by die Assmang Khumani Ysterertsmyn naby Kathu. Dis ’n lang pad van Potchefstroom af waar sy in 2004 as een van Atterbury se nuwe beursstudente aangemeld het by die Universiteit van Potchefstroom om uiteindelik ’n B.Com. Kommunikasiebestuur en ʼn Honneurs in Bemarkingbestuur en Entrepreneurskap (cum laude) te verwerf. Terwyl ons terugkyk op twintig jaar van die beursfonds, is dit heerlik om te hoor waar in die wêreld een van ons uitblinkers haar deesdae bevind…

Gee vir ons ’n oorsig van hoe jou paadjie verloop het sedert jou studentedae en hoe jy uitgekom het waar jy vandag is.
Ons bly tans in Kuruman, maar ek werk 30km buite Kathu. Ek ry elke dag sowat 80km werk toe en 80km terug! Ek het grootgeword op ʼn klein plattelandse dorpie, Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, het gaan swot in Potchefstroom en in Desember 2007 begin werk by die ingenieursfirma Aurecon in Kimberley. Ek is verplaas na Aurecon se Kurumankantoor in 2010, en ons het soontoe verhuis. In 2014 het ek by Assmang Khumani Ysterertsmyn begin werk, net buite Kathu. Ons bly tans baie lekker in Kuruman en het ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk met familie wat ook hier bly, en het wonderlike vriende gemaak.

Kan jy ons iets oor jouself vertel?
Ek sien myself as ʼn baie energieke persoon en leef my passie uit om ander te ontwikkel. Ek het ʼn kreatiewe kant wat ek graag stimuleer deur ontwerpprojekte aan te pak in my vrye tyd. Ek is ook betrokke by my kerk as organiseerder van ons jaarlikse Ogiefees (ʼn basaar en pretlopie). Ek is getroud en ons het twee pragtige kinders, ʼn dogtertjie (vyf jaar) en ʼn seuntjie (twee jaar). Ons is baie lief vir die buitelug, braai graag saam met vriende, en geniet dit om te kamp. Ek het nooit juis daarvan gehou om te lees nie, maar deesdae lees ek graag motiveringsboeke. Ek lees tans “Droom Jy Groot Genoeg?” Die kinders verg heelwat aandag en hulle is ook maar ons ontspanning. Ek doen pilates as deel van my oefenprogram.

Wat presies behels jou werk?
My posbenaming is bestuurder van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid (corporate social responsibility manager).  Ek is tans verantwoordelik vir twee subafdelings – sosio-ekonomiese ontwikkeling, die myn se gemeenskapsontwikkeling, asook ʼn strategie om ekonomiese groei te bevorder en armoede te verlig. Ons help omliggende gemeenskappe as deel van ons maatskappy se sosiale verantwoordelikheid. Dit sluit projekte in soos die ontwikkeling van infrastruktuur, opvoedkundige ondersteuning, gesondheidsdienste en beursprogramme.

Hoe bly jy gemotiveerd?
Nuwe uitdagings motiveer my, om ʼn idee te omskep in iets sinvols, en om die resultate te kan sien en hoe dit ʼn positiewe impak op ander maak. Dit is belangrik dat ek my kreatiewe talent voortdurend stimuleer sodat ek nie verveeld raak met wat ek doen nie.

Vertel ons hoe jy destyds deel van die Atterbury Trust-familie geword het. Hoe het dit jou lewe verander?
Huisvriende van ons het familie wat in Pretoria gewoon het. Annatjie Meyer van Talent Profiles het werk gedoen vir die Atterbury Trust en ons van die beursprogram vertel. Ek sou nie verder kon gaan studeer het as dit nie vir die beursfonds was nie, en tien teen een sou ek nie vandag in die posisie wat ek is, gewees het nie…

Ons wil graag ons alumni aan ons huidige studente voorstel, omdat hulle so baie van julle kan leer. As ’n student jou nou sou vra hoe jy die terugslae wat die lewe na jou toe gooi, hanteer, wat sal jy antwoord?
Glo en vertou in die Hemelse Vader, Hy loop saam met jou al die pad, opdraande, asook die lekker afdraande tye. Om te bid het ongelooflike krag. Probeer elke terugslag in ʼn positiewe lig te sien en as ʼn ervaring waar jy uit die gebeurtenis leer en sterker word. Alles gebeur met ʼn rede, soms verstaan jy eers die ware rede baie later in jou lewe, dan maak dit eers sin.

Hoe reken jy kan alumni soos jy die mees betekenisvolle bydrae lewer tot die Atterbury Trustbeursprogram?
Dit kan bepaald ʼn goeie netwerkplatform wees!

Ons verwelkom alle bydraes aan die Atterbury Trustbeursfonds, sodat ons mense soos Elrinda ʼn hupstoot in die lewe kan gee. ’n Artikel 18A-sertifikaat sal aan jou uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking. Om te skenk, kliek hier.