“In skakerings van kohesie”

Verkort uit Beeld se Cool Capital bylae, 26 Augustus

Die Cool Capital logo is in 2013 deur die bekroonde ontwerp – en kommunikasiemaatskappy Sunshinegun ontwerp as ‘n geskenk aan Cool Capital. Die logo beeld die stad uit soos gesien van bo, met al die punte van belang aanmekaar verbind met ‘n komplekse web van reguit lyne wat die konnektiwiteit van die “koel hoofstad” simboliseer as ‘n katalisator vir sosiale kohesie. Die lyne verteenwoordig dus die nuwe samewerking en verhoudings wat die biennale graag wil skep.

Die logo se verskillende inkarnasies het reeds ‘n besprekingspunt geword, met verskillende mense wat dit verskillend interpreteer. Vir party bied dit geleentheid om hul eie kreatiewe werk ten toon te stel, vir ander verteenwoordig dit ‘n kollektiewe herverbeelding van ons stad. Nog ander sien dit as ‘n simbool dat die administratiewe hoofstad homself vir ‘n verandering nie te ernstig opneem nie.

Wat die kleurskema van die logo betref, is dit geinspireer deur die hoofindruk wat mens kry as jy Pretoria in Google Images soek – en natuurlik is die prominentste kleur dié van die jakarandabome. Pers is ‘n neutrale kleur sonder spesifieke politieke affiliasie of godsdienstige vooroordeel, en dit versterk Cool Capital se standpunt dat kreatiwiteit ‘n samebindende krag kan wees wat die verskeidenheid van kulturele rykdom wat in ons stad is, kan saamsnoer.

Bronwen Rautenbach is kreatiewe vennoot by Sunshinegun, en het die ontwerpproses gelei. “Die logo is in essensie ‘n helikopter-uitsig van die stad wat mens herinner dat wanneer jy ‘n probleem van bo af bekyk, die antwoord dikwels na vore kom.” Sy vertel dat die logo aan die begin van die biennale-beplanningsproses ontwerp is en dat dit ‘n baie gepaste simbool geword het van sowel die gees van die beweging en die dinamiese span mense wat dit laat gebeur het.

“Dis bedoel om ‘n lewende logo te wees met talle variasies…soos die skeppende proses spreek dit van verskillende oplossings vir ‘n probleem, verskeie kreatiewe ingrype en ook die ryke verskeidenheid van die stad self.”