Juvan Maritz se familie woon al sedert 2005, toe hy 10 was, net buite Dublin in Ierland, maar toe hy verlede jaar Junie klaarmaak met hoërskool, het die jong man gekies om manalleen terug Suid-Afrika toe te kom. Sy ouers het gesê as hy so maak, moet hy in Suid-Afrika sy eie studies betaal, en so het Juvan by Atterbury aangeklop vir ’n studiebeurs.

Die kranige sportman woon nou by sy ouma in Pretoria en het hierdie week begin met sy graad in Sportwetenskap aan Tukkies. Die twintigjarige mis sy familie, veral sy tweelingbroer Christivan van wie hy nog nooit voorheen so lank weg was nie, maar in Suid-Afrika wil hy wees, en hy geniet behoorlik die lekker somerweer.

“Ek wou ’n bietjie werk aan my Afrikaans, en al hou ek van Ierland, is dit nie mens se huis soos Suid-Afrika is nie,” vertel hy. Die kranige krieketspeler, wat graafskapkrieket gespeel het van onder-dertien tot op onder-19 vlak, het reeds in Ierland begin om ook krieket af te rig, en nou is dit hoe hy nou sakgeld maak tussen sy studies deur – hy rig laerskoolspanne af.

Tans is hy afrigter vir die eerste span van St Paulus, en geniet dit baie. “Afrigting is ’n groot passie vir my, om mense te help om hulle liggame te ontwikkel; dis hoekom ek Sportwetenskap wil doen. Ek geniet dit om met die kinders te werk, en dis ’n groot voorreg om reeds ’n eerstespan te kan afrig.” Verlede jaar het sy onder-10s ’n eerste plek en sy eerstespan ’n tweede plek behaal. Hy is omtrent in sy noppies oor die geskenk wat die span hom aan die einde van 2014 gegee het – ’n kolf wat deur almal geteken is.

Terug in Ierland is sy broer se plan om ’n sakerigting te studeer, terwyl sy twee 14-jarige sussies, ook ’n tweeling, nog op hoërskool is. Hy bly met hulle almal in kontak deur Skype en is al ‘n keer of wat weer oor vir ‘n besoek. Toe ons met hom gesels was hy in ekstase oor sy ma en Christivan hom pas kom verras het op ’n blitsbesoek voor hy met sy eerste akademiese jaar begin het.

Hy onthou nog baie goed die opwinding van trek na ’n nuwe land. “Ons was so opgewonde… en ek sal nooit vergeet hoe koud dit was toe ons by die vliegtuig uitgeklim het nie! Ons was in gewone jeans aangetrek, warm klere het ons gedink, maar Ierland se weer was baie anders as wat ons gewoond was!”

Wat het jy die meeste geniet van skool in Ierland?
Om die enigste Afrikaners te wees en om Afrikaans te kon praat met Christivan en niemand kon ons verstaan nie.  En om nuwe vriende te maak, want ek was in ’n klein laerskool met net nege in ons klasjaar. Toe ons in Ierland aangekom het is ons in ’n klas laer as ons ouderdom geplaas omdat ons nie Engels geken het nie. So ons maats was almal ‘n jaar jonger as ons.

En die minste?
Ek was baie alleen, want ons was anders wat kultuur en godsdiens betref.  Ons was maar net altyd as die “foreigners” gesien, die buitestaanders.

Tweelinge het altyd so ‘n sterk band; wat mis jy die meeste so sonder jou broer? Is julle identies?
Ek mis om net met hom te kuier en gesels; hy is soos ‘n deel van my. Ons dink nie ons is identies nie, maar ander mense sê ons lyk dieselfde. Ons het beslis poetse gebak op mense wat ons nie uitmekaar kan ken nie, selfs ons meisies ook! En ons het eenkeer in mekaar se klasse ingegaan en gekyk of hulle iets sou agterkom…hulle het nie!

Toe jou ouers vir jou sê as as jy terugkom SA toe moet jy vir jou eie studies betaal, wat doen jy toe?
Ek het begin uitkyk vir beurse of dalk ‘n lening, en my ouma het baie gehelp. My broer werk ook in Ierland en betaal die helfte van sy studies.

Hoe het jy toe van die Atterbury Trust beurs te hore gekom?
My ma-hulle het daar van Ierland af ook maar gesoek, en toe spoor my ouma dit op die webwerf op.

As jy nie die beurs gekry het nie, wat was Plan B gehad?
Plan B was terug Ierland toe, want ek het daar ingekom vir BSc Physics. Plan C was ‘n studielening….

Ons is bly ons kon help om jou hier te hou! Hoe hanteer jou ouma dit om weer ‘n jong man onder haar dak te hê?
Soos enige groeiende jongman eet ek haar uit die huis uit! Ouma bederf my baie; ek help haar met takies in die huis, en nou dat ek ’n lisensie het, kan ek haar rondry.  Ek verdien my eie geld met die krieketafrigting, so ek het darem sakgeld. My pa en ma stuur af en toe, as hulle kan, ‘n geldjie…

Waarna sien jy die meeste uit wat studentelewe betref?
Om nuwe vriende te maak, om te leer en om ‘n ander tipe studentelewe te hê.

En wat vermoed jy gaan die grootste uitdaging vir jou wees?
Mmm, om alles te balanseer tussen my afrigting-werk, my krieket-akademie, die swottings asook die sosiale lewe…

Aansoeke vir 2016 se studiebeurse is nou oop. Klik hier