Aardklop het besluit om ten spyte van die pandemie voort te gaan met die immergewilde tiener- en studente toneelkompetisie, Pronk Podium. Alhoewel dit aangepas moes word, is hierdie waardevolle projek met groot sukses van stapel gestuur.

Meer as 80 tiener- en studenteproduksies het ingeskryf  – alles eenmanstukke. Die semi-finale en finale rondtes is by Atterbury Teater opgeneem en die wenners is op 29 Augustus virtueel bekendgemaak.

Uit die top 11 semi-finaliste het die volgende produksies deurgedring tot die Pronk Podium finale rondte.

Studenteproduksies sluit in:
Skilderlig, Christmas Shopping en Sharrap en eet jou kos!

Tienerproduksies sluit in:
Vry (Hoërskool Noordheuwel), Wentelkind (Hoërskool Parel Vallei), Kou-Vid (Hoërskool Zwartkop), Kollig (Hoërskool Hugenote).

Die wenners is:

  • Beste algehele produksie: Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
  • Beste studenteproduksie: Sharrap en eet jou kos!
  • Beste tienerproduksie: Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
  • Beste algehele aktrise: Diandra Slabbert – Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
  • Beste algehele tegniese versorging: Wentelkind (Hoërskool Parel Vallei)
  • Beste tiener aktrise: Diandra Slabbert – Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
  • Beste studente akteur: Dylan le Roux – Skilderlig
  • Beste regisseur van ’n tienerproduksie: Marista van Eeden en Pieter Alberts (Kou-vid) en Darryl Spijkers (Wentelkind)
  • Beste regisseur van ’n studenteproduksie: Franciska van der Merwe en Pierre-André Viviers (Sharrap en eet jou kos!)

Alexa Strachan, feesbestuurder sê:

“Hierdie jaar se Pronk Podium het die tienerproduksies veral uitgestaan! Die beoordelaars moes regtig kopkrap, daarom dan ook dat dit die eerste keer is dat die toekenning vir die beste regisseur van ’n tienerproduksie tussen Wentelkind en Kou-vid gedeel word. Opvallend was ook dat die jongmense hulle nie deur negatiwiteit laat oorval het nie – komedie is gebruik om die huidige realiteit te verwerk en aan te spreek. Dit is ’n eerste dat soveel komiese werk die finale rondtes bereik het, en dat die wenproduksies in beide afdelings komedies is.

Hoewel die aanlyn manier van deelname gedwonge was, is daar ook positiewe aspekte wat ons in die toekoms kan gebruik. Die grendelstaat het dit moontlik gemaak vir deelnemers wat nie noodwendig sou kon reis ter wille van die kompetisie nie, om wel deel te neem, omdat die uitdunrondtes aanlyn was. So is daar dan tog ’n silwer randjie om die donker wolk. Talle deelnemers met wie ek in gesprek was, was ook bloot dankbaar dat ons ’n manier gevind het om die kompetisie te laat voortgaan – dit het in ’n tyd waar ander aktiwiteite tot stilstand geruk is, ’n waardevolle uitlaatklep en mikpunt gebied en daaroor is ek baie bly, en trots.”

Alle produksies is steeds te koop tot 1 Oktober 2020 by https://www.ticketpros.co.za/portal/web/index.php/home/

Pronk Podium is moontlik gemaak deur NWU-Kunste, NATi en Atterbury Trust.

Navrae:

Alexa Strachan: 083 273 9768

Delmari van Zyl: 084 44 4750