Dit was ’n aanhouer-wen triomf toe Affies matriekleerder Colette du Toit verlede Vrydag by die Atterbury Teater die prys ingepalm het as algehele wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie… in haar agtste jaar van deelname! Uitvoerende trustee Zahn Hulme sê dis verblydend dat die kompetisie elke jaar groei in statuur wat ook weerspieël word in die aantal inskrywings wat ontvang word.  “En hoe wonderlik dat Colette in die middel van haar matriekeindeksamen sukses gesmaak het nadat sy sedert 2011 elke jaar deelgeneem het!” Ons het by die meisie van die oomblik gaan hoor presies hoe haar paadjie haar tot by hierdie indrukwekkende prys gelei het.

Laat ons eerstens sê: baie geluk! Hoe voel dit om die algehele wenner te wees?  Het jy gereken jy het ’n kans om te wen?
Ek is diep gelukkig en dankbaar om die algehele wenner te wees, alhoewel dit nog nie werklik ingesink het nie! En nee, ek neem al van 2011 af deel, so ek het nie vooraf gedink ek gaan wen nie; ek het maar my beste gegee en die optree-geleentheid geniet.

Hoe lank het jy voorberei hiervoor, en was daar vanjaar ook ander kompetisies waaraan jy deelgeneem het?
Ek het nie spesifiek net vir hierdie kompetisie voorberei nie; ek leer elke jaar nuwe stukke en gebruik dit waar ek kan in kunswedstryde of kompetisies en konserte. Vanjaar was hierdie egter die enigste kompetisie waarvoor ek ingeskryf het.

En presies hoe groot was jou prys-oes?
Behalwe die hoofprys, het ek ook dié vir Beste Uitvoering van ’n Romantiese Werk en die eerste prys as kategorie-wenner in my ouderdomsgroep gewen; en ook die John Roosprys.

Jou bankrekening moet breed glimlag! Weet jy al waarop jy jou prysgeld wil uitgee?
Ja, my totale prysgeld beloop R47 750, maar ek gaan dit alles spaar!

Vertel ons van jou huislewe – het jy nog musikale broers of susters? En het jy enige stokperdjies of neem die klavier al jou vrye tyd op?
Ek is die jongste in ons gesin. My ouers is albei lief vir musiek en het vroëer jare verskeie instrumente gespeel. My broer is twee jaar ouer as ek; hy speel ook klavier en sing baie mooi. Wat my vrye tyd betref, is ek lief vir kosmaak en eksperimenteer graag in die kombuis. Ek is ook lief vir die natuur en plaaslewe… en diere, veral honde! My Schnauzertjies kan allerhande toertjies doen…

 Hoe oud was jy toe jy begin klavierspeel het?
Op vyf jaar het ek by tannie Claudine van Breda begin met lesse.

Is jou musieksmaak gefokus op klaviermusiek of nie noodwendig nie?
Nee, tog nie. My gunstelinge is nou Afrikaanse groepe soos Spoegwolf, Bittereinders en Joshua Na Die Reën.

 Wat beplan jy om na matriek te doen – is musiek deel van jou planne?
Ja, beslis. My plan is om te begin met my BMus graad by Tuks.

Die volledige lys van kategoriewenners is as volg: 

Algehele wenners
Algehele 1ste plek  – Colette du Toit
Algehele 2de plek – Beate Boshoff
Algehele 3de plek – Leo Huan

Ouderdomskategorie-wenners
18 jaar en jonger – Colette du Toit
15 jaar en jonger – Leo Huan
12 jaar en jonger ­– Tanya Zhu

Kategoriewenners
Beste uitvoering van:
’n Barokwerk – Erin Daniels
’n Klassieke werk – Leo Huan
’n Romantiese werk – Colette du Tloit
’n Moderne werk – Beate Boshoff
’n Suid-Afrikaanse werk – Alida Esterhuizen