Skip to content
Menu
Menu

Elvis ry (weer!) vir skoolgeld

Die Elvis Ry vir Skoolgeld-inisiatief het in 2024 die lig gesien toe gewilde sanger Elvis Blue besluit het om met sy fiets aandag te vestig op ’n saak wat hom na aan die hart lê. In samewerking met Atterbury Trust, wat die bestuur van die projek behartig het, het hy ’n tasbare verskil gemaak en R870 000 ingesamel. Ons hoor by hom en by Danelle Strydom van Atterbury Trust van vanjaar se ambisieuse plan…1500 km se trap van Stellenbosch tot Windhoek!

Elvis, hoekom het jy oorspronklik besluit om so ’n veeleisende projek aan te pak?
Elvis Blue: Ek wonder dikwels hoe ek ’n verskil kan maak, maar is nie altyd seker watter bydrae ek kan lewer nie. Ek wil ook weet dat as ek ’n bydrae maak, dit die regte plekke bereik. Ek is bevoorreg om elke aand kos op my tafel te hê, ek kon ’n goeie skool bywoon en daar was mense wat my padlangs ondersteun en in die regte rigting gehelp het. Baie mense kry egter nooit daardie kans nie – en dit pla my. Daarom hoop ek dat hierdie fondsinsameling ’n werklike verskil kan maak.

Van waar die besluit om vir Atterbury Trust te betrek?
Elvis: Die Trust is ’n toporganisasie met ’n bewese rekord. Hulle maak reeds ’n groot verskil en ek kan met gemoedsrus vertrou dat die fondse wat ingesamel word, verantwoordelik bestuur sal word.

Verlede jaar het jy gery van George tot in Nelspruit. Hierdie jaar vat jy dit nog ’n stap verder – van Stellenbosch tot in Namibië. Hoe het jy op dié roete besluit?
Elvis: Ek hou baie van Namibië. Ek het ook goeie vriende daar. Dit het vir my gelyk na ’n waardige uitdaging. Die afstand is omtrent dieselfde as verlede jaar – 1 500km!

Hoe kan mense betrokke raak of die projek ondersteun?
Elvis: Dis eenvoudig. Besoek net die Donasiewinkel op Atterbury Trust se webtuiste – en jy kan dadelik ’n verskil maak.

Elvis ry (weer!) vir skoolgeld

Danelle, hoekom het Atterbury Trust besluit om betrokke te raak?
Danelle Strydom: Elvis stap al ’n geruime tyd saam met die Trust én met die Atterbury Property-groep. Die Atterbury Trust se mandaat is opvoeding en die opheffing van behoeftige gemeenskappe en daarom is Elvis Ry vir skoolgeld so reg in ons kraal. Met dié opwindende projek help ons om die administrasie en logistiek agter die skerms te hanteer sodat Elvis net op die fietsry kan fokus – dis klaar soveel harde werk!

Hoe gaan die projek hierdie jaar werk?
Danelle: Elvis vertrek op Saterdag 30 Augustus vanuit Stellenbosch en ry vir die volgende amper twee weke reg deur tot in Windhoek. Ons is ongelooflik dankbaar vir ons hoofborge, Atterbury Property en We Buy Cars, wat dit moontlik maak.

Hierdie jaar doen ons dit effens anders: omdat die pad lank is, het ons besluit om vir elke dag ’n borg aan boord te kry. Elke dag word dus aan ’n spesifieke borg toegewy – dit skep geleentheid vir korporatiewe borge om ‘n doelgemaakte boodskap oor te dra. Elvis is ook bereid om op daardie spesifieke dag ‘n uitdaging te aanvaar – prettig (en dalk stout!) vir ekstra sigbaarheid van die borg. Party van die borge gaan selfs ’n gedeelte van die dag saam met Elvis ry.

2025 Roete

Stellenbosch – Windhoek

Elvis ry (weer!) vir skoolgeld
Map_Mobile
Elvis ry (weer!) vir skoolgeld

Wat kon julle verlede jaar met die opbrengs van die projek uitrig?

Danelle: Verlede jaar het ons R870 000 ingesamel, wat so ’n wonderlike bydrae was tot Atterbury Trust se talle opvoedingsprojekte en hulp aan behoeftige kleuterskole. Ons kon met die opbrengs, danksy Elvis se harde trappery, onder meer die volgende regkry:

  • Daar is bygedra tot die Trust se Startwell-voedingsprojek wat daagliks ’n voedsame bord pap verskaf aan bykans 3 000 kleuters in 63 kleuterskole regoor die land.
  • Infrastruktuurprojekte is by verskeie kleuterskole befonds.
  • Basiese behoeftes soos skryfbehoeftes, onderklere, skoene en baadjies is aan leerders by verskeie skole verskaf.
  • Speelgoed en basiese toerusting is vir behoeftige kleuterskole verskaf.
  • Verblyfkostes van drie Atterbury Trust-studente wat andersins geen heenkome sou gehad het nie, kon gedek word vir die jaar.

Vir meer inligting oor Elvis Ry Vir Skoolgeld, of om betrokke te raak, besoek: https://atterburytrust.org/projek/elvis-ry-vir-skoolgeld/