Skip to content
Menu
Menu

Net soos elke ander maand is Vrouemaand ’n tyd van omgee

Vrouemaand by Atterbury Trust is veel meer as net nog ’n viering. Dit is ’n maand van drome, empatie, aksie en omgee, op elke moontlike vlak van ons vrouwees-reis. Nie dat elke ander maand enigsins anders is nie, maar tog is dit lekker om spesiaal te voel in Augustus.

Daar’s iets besonders aan die manier waarop vroue gee. Dis nie altyd in groot gebare of luidkeelse verklarings nie. Soms is dit stil. Soms amper onsigbaar. Maar altyd, sonder uitsondering, is dit deurspek met omgee. En by Atterbury Trust is dit presies hierdie eienskap van opregte, doelgerigte omgee wat ons vrouespan met mekaar verbind.

Dít is waarom Augustus vir ons Trust ’n maand van onthou is. Ons onthou weer wat dit beteken om vrou te wees. Hier by die trust werk ons vrouespan nie net saam nie. Ons bou saam, droom saam en sorg saam vir diegene wat dit die nodigste het. En só word vrouwees hier daagliks geleef, eerder as gevier. Maar dié maand gee ons ook kans om vir ’n oomblik stil te staan en te vra: Wat beteken dit regtig om ’n vrou te wees in Suid-Afrika vandag?

Empatie as krag

Vir uitvoerende trustee Zahn Hulme is die kern van vrouwees bo en behalwe die belangrikste rol as ma vir haar kinders,  ’n diep vermoë tot empatie en ’n unieke oortuiging om ander te help versterk. “Een van die mooi dinge van vrouwees is om te weet dat ons sóveel mag het om ’n positiewe verskil in ander se lewens te kan maak,” sê sy. En by Atterbury Trust sien sy daagliks hoe vroue met deernis en toewyding families help om die sirkel van armoede te breek, nie net met groot gebare nie, maar met aanhoudende omgee.

’n Droom van hoop en liefde

Vir Jané Roets, kommersiële bestuurder van die Fairtree Atterbury Teater, lê die krag van vroue in hul vermoë om oor grense van kultuur en omstandighede heen te gee. “Ek droom van liefde in Vrouemaand. Liefde vir en van vroue regoor ons wonderskone land,” sê sy. Haar hoop is dat dié innerlike krag van vroue altyd voortleef. “Mag liefde altyd wen, dan sal hoop volg.”

Bemagtiging deur klein gebare

Surisa Schwalb, wat projekte in die Wes-Kaap bestuur, glo dat bemagtiging nie altyd groots hoef te wees om diep impak te maak nie. “ ’n Student wat haar toekoms verander deur verder te studeer. ’n Juffrou wat Startwell-pap gee sodat haar kleuters met ’n vol maag kan leer. ’n Pasiënt wat sorg met waardigheid in aksie voel ná ’n besoek aan Triomf Kliniek. Dít is bemagtiging gedryf deur omgee.”

 

Dit is ook ’n sentiment wat deur studentekoördineerder Bianca Rykaart onderskraag word. Sy glo dat vriendelikheid een van die mees onderskatte maniere is om die wêreld te verander. “ ’n Glimlag, ’n oop deur, ’n opregte kompliment. Dít kan iemand se hele dag omdraai. Ons as vroue het ’n groot invloed op mekaar.”

Kragtig én sag

Vir Chané Hall, ontwerper by OPTOG! Media, is dit presies hierdie dubbele waarheid wat haar trots maak om ’n vrou te wees. “Vrouens is ongelooflik sterk én deernisvol,” sê sy. “Ek is trots om deel van ’n generasie vroue te wees wat strukture uitdaag en verandering dryf, want ons gee om.”

Hierdie gevoel van balans tussen sagtheid en vasberadenheid kom ook sterk deur in die woorde van finansiële assistent Juané Vermaak: “Die vroue in ons span is soos ’n lewende inspirasiebord. Ek leer elke dag by hulle om sterker, slimmer en sagter te wees. Hulle wys my daagliks hoe mooi krag en omgee saamwerk.”

Vroue wat saamwerk én verskil

Vir Danelle Strydom, projek- en bemarkingskoördineerder, lê een van die grootste geskenke van spanwerk juis in die verskille tussen vroue. “Vroue wat anders dink as ek, leer my om buite my eie manier van doen te beweeg. Dis nie kritiek nie, dit is groei. Ons gee almal om, net op ons eie manier.” Bestuurder Ananja Koen stem saam en voeg by: “Ons waarde lê nie net in vaardighede en werksetiek nie, maar in empatie, unieke perspektiewe en balans. Dit bevorder inklusiwiteit en skep ’n gesonder werksomgewing.”

Geloof, hoop en identiteit

Vir Jana Wilbers, finansiële bestuurder, is daar ’n anker van geloof in haar verstaan van vrouwees: “Hoop is nie net ’n gevoel nie, dit is ’n vaste vertroue in God se beloftes. Dit gee jou die krag om aan te hou glo, werk en liefhê.” Suzette Wilbers van Triomf Kliniek dra ’n boodskap oor aan haar jonger self: “Jy hoef nie perfek te wees nie. Jy mag ruimte inneem, jy mag kies wie naby jou kom, jy mag ook vir jouself sorg. Jy is genoeg. Nie eendag nie… nou.”

Die stem van jong vroue

Gemeenskapskoördineerder Liauné Terblanche dra ’n fakkel van bemagtiging vir die jonger geslag: “Ek wil hê elke jong meisie moet glo sy is waardig net soos sy is. Sy dra ’n sagtheid in haar, ’n vermoë om te voed, te genees en te versag. Dit is wat die wêreld nodig het. Haar bestaan maak saak.”

Voorbeelde wat lig gee

Tenile Timmins, strategiese beplanner by OPTOG! Media, se inspirasie kom van die bekende figuur van Prinses Diana: “Sy het nie net ’n platform gehad nie, sy het dit gebruik om te dien. Sy was kwesbaar en eerlik. Haar nalatenskap herinner my daaraan dat ware krag in vriendelikheid lê.” Stefanie Nortier, skakelbeampte van die Atterbury Teater deel haar bewondering vir die emosionele uithouvermoë van vroue: “ ’n Vrou se vermoë om pyn te hanteer is werklik merkwaardig. En, ons gee om!”

Die eenvoudige waarheid: Begin nóú

Vir lewensafrigter Leonie du Preez is die tyd om te gee altyd nou. “As jy ’n verskil wil maak, doen dit vandag. Omgee kan nie wag nie.”

’n Boodskap uit die hart

Wat elkeen van ons vroue bind, ondanks verskillende agtergronde, take en perspektiewe, is dieselfde waarheid: Ons gee om. Nie as ’n leë slagspreuk nie. Nie net op papier nie. Maar in aksie. In ons harte en ons werk. Elke dag.

Daarom, hierdie Vrouemaand, is ons wens aan jou eenvoudig: Mag jy weet jy is genoeg. Mag jy verstaan dat sagtheid nie swakheid is nie en dat jou unieke stem deel is van ’n groter koor van verandering. Mag jy sien hoe jou drome geldig is. Net soos jy. En mag jy altyd onthou: Omgee is ’n werkwoord.

Van ons vroue-familie by Atterbury Trust aan jou, ’n vriendin, ’n moeder, ’n dogter, ’n suster-siel. Ons gee om. En ons weet jy gee ook om.