Skip to content
Menu
Menu

’n Nuwe omgee-netwerk word gebore

In Mei vanjaar het ’n unieke netwerk-projek op die stoep by Atterbury se hoofkantoor gestalte ingeneem, toe die eerste Mengnet-byeenkoms plaasgevind het. Stigterslid Leah Warmenhoven vertel meer.

Vertel ons hoe Mengnet ontstaan het – wat was die inspirasie daaragter, en wat presies behels dit?
Mengnet het nie ontstaan uit maande se strategiese beplanning nie, maar eerder uit ’n spontane vonk – ’n behoefte om werklik sinvolle netwerke tussen jong en opkomende besigheidsmense in Pretoria (as beginpunt) te skep. Dit het gegroei uit ’n oortuiging dat ware netwerke onvervangbare waarde dra – nie net vir persoonlike vooruitgang nie, maar vir volhoubare impak in ons gemeenskappe.

Atterbury Trust het reeds toe ek op hoërskool was op my radar gekom toe ek vir Zahn ontmoet het vir advies oor my voorgenome studierigting. Die Atterbury Trust doen al vir jare ongelooflike werk vir minderbevoorregte mense – van beursprogramme tot kosondersteuning. Noudat ek self ’n jong werkende is, het die gedagte by my ontstaan om ook iets terug te begin gee aan diegene wat al vir jare betrokke is by die Trust, sowel as aan die Trust-alumni en kinders van die ondersteuners van die Atterbury Trust. Die kern van ons gastelys is dus saamgestel uit hierdie mense en is eksklusief op uitnodiging – mense wat reeds in hul eie reg draers van impak is.

Die doel is eenvoudig: om ’n ruimte te skep vir skakeling, samewerking en ondersteuning. ’n Ruimte waar ons by mekaar leer, mekaar versterk, en uiteindelik saam begin bou aan iets groter. Dis ’n eerste tree – dalk klein, maar doelgerig – in die rigting van iets wat eendag volhoubare besighede, vaardigheidsoordrag en aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid moontlik kan maak.

Hoe het Atterbury Trust betrokke geraak, en wat wou julle as stigters bereik deur saam met die Trust hieraan te werk?
Die Atterbury Trust was van die begin af ’n hoeksteen van hierdie projek – nie net as ondersteuner nie, maar as voorbeeld en fondament. Die mense agter die Trust leef daagliks die waardes waarop Mengnet gebou is uit: om ’n verskil te maak, nie net vir hulself nie, maar vir ander.

Vir my persoonlik, en vir Mengnet as inisiatief, gaan dit oor meer as net professionele sukses. Dit gaan oor hoe ons, elkeen wat deel is van ’n netwerk, ons vaardighede en geleenthede kan omskep in hoop vir ander. Die Trust gee jaarliks talle studente die kans om te studeer – hierdie kinders toon al van die begin af die potensiaal om suksesvol te wees, en daarom is dit juis een van die belangrikste beginsels om hulle te betrek en in te sluit by netwerkgeleenthede. Só bou ons aan ’n waardegedrewe siklus van groei.

En behalwe die Trust, wie is die ander mense wat by die projek betrokke is?
Lood Bester is sonder twyfel die hartklop agter hierdie projek – sy passie vir die jeug en sy geloof in Suid-Afrika se potensiaal is aansteeklik. Hy is ’n mentor, ’n bouer en ’n draer van hoop.

Die volle Atterbury-span was onmisbaar – nie net in ondersteuning nie, maar in uitvoering. My vriendin, Louise van Wyk, het met haar oog vir detail die eerste geleentheid visueel lewendig gemaak.

Ons eerste geleentheid is met trots geborg deur Fledge Capital – Konrad Fleischhauer, Louis van der Watt en natuurlik ook Lood – wie se geloof in die visie dit moontlik gemaak het om te begin.

Hoe het julle Mengnet afgeskop, en hoe het daardie eerste geleentheid verloop?
Ons het op 28 Mei 2025 ons eerste Mengnet-geleentheid by die Klubhuis in Hazelwood op Atterbury se stoep gehou. Dit was intiem, maar intens betekenisvol – ongeveer 70 gaste het ’n aand van inspirerende gesprekke en skakeling beleef.

Die hoogtepunt was ’n paneelbespreking gelei deur Lood Bester, met Faan van der Walt (uitvoerende hoof by WeBuyCars), Danie Matthee (uitvoerende hoof by OUTsurance) en Edgar Rathbone (uitvoerende hoof by Blue Bulls Company) as paneel. Elke gas het voor die tyd ’n netwerkprofiel ontvang van almal wat Mengnet sou bywoon, om betekenisvolle gesprekke aan te moedig. Die vloer was oop vir vrae en die gesprekke was werklik insiggewend. Daarna het ons saam gekuier , idees gedeel en – soos die naam sê – gemeng.

Wat word volgende beplan?
Vir 2025 beoog ons ’n Mengnet-geleentheid in die Wes-Kaap – daar was reeds in die verlede ‘n soortgelyke mentorskapgeleentheid gehou en ons wil dit verder uitbou onder die Mengnet vaandel . Daarna bring ons Mengnet weer terug na Pretoria vroeg volgende jaar met nog ’n paar lekker idees in die pyplyn om die kern van verhoudingsbou te vorm. Elke geleentheid bou op die laaste – altyd met dieselfde doel: skep ruimte vir netwerk, gemeenskap en impak.

Wat is die langtermyn droom vir die projek; wat hoop julle sal hieruit voortvloei?
Die langtermyn droom is nie in beton gegiet nie – en dis doelbewus so. Ons wil hê Mengnet moet sy eie vorm aanneem, afhanklik van die behoefte, die impak en die momentum wat dit opbou. Maar as ek mag droom: ek sien ’n platform wat op ’n klein skaal ’n groot verskil maak.

Ek droom van ’n netwerk van jong mense wat kies om in Suid-Afrika te bly – nie net uit gemak nie, maar uit oortuiging. Mense wat mekaar aktief ondersteun, besighede bou, en hulle kundigheid gebruik om terug te ploeg in ons gemeenskappe. Mense wat verstaan dat hoop iets is wat jy oordra. Mense wat die toekoms vat in hul eie hande, en dit vorm met karakter.

En ons wil ook aanhou om ruimte te skep vir dié wat alreeds vir jare aan die bouwerk deelneem – die lojale ondersteuners van die Trust, die alumni, en hul nageslag. Hierdie projek is vir hulle net so belangrik soos vir enige ander jong entrepreneur of leier. Ons wil hê hulle moet saam met ons Meng – en saam met ons bou.

Hoe kan mense betrokke raak en ook hulle netwerke en hulpbronne deel?
Mengnet werk tans in gefokusde sirkels – dit verg baie tyd, nadenke en sensitiwiteit om die regte mengsel van mense saam te stel. Ons is tans steeds besig om te leer en vorm te gee aan dié proses.

Maar vir enigiemand wat dalk hulle netwerke en hulpbronne wil deel, is die Atterbury Trust die beste kontakpunt. Hierdie projek is gebou op die waardes wat hulle reeds leef – en ons verwelkom enige bydrae wat ons kan help om hoop, vaardigheid en ondersteuning verder te versprei.