1. Atterbury is baie trots op jou MTN toekenning vir die beste aandprogram. Hoe is jy betrokke by die werk van die Atterbury Trust?

Eerstens, baie dankie met die gelukwense! Dit is ‘n voorreg om beloon te kan word met só toekenning, wat beskryf word as die “Oscars van die Suid-Afrikaanse radiobedryf.” Dit is sekerlik teen die tyd geen geheim dat die Atterbury Trust en GROOTfm 90.5 hande gevat het om saam ‘n GROOT verskil te maak nie! Die platform wat Atterbury Trust skep is van so aard dat GROOTfm 90.5 ‘n spreekbuis kan wees vir sosiale en maatskaplike kwessies. Die feit dat ek deel van die GROOT familie is, maak dat ek deel kan wees van ‘n terugploeg-proses. GROOTfm 90.5 wil betrokke wees by die hartklop van sy gemeenskap, om sodoende die kwessie wat regtig raak, aan te spreek. Tesame met Atterbury Trust kan dié kwessies aangespreek word op so ‘n manier dat daar wegbeweeg word van die “bakhand-

mentaliteit” en waar die gemeeskap nader beweeg aan die mentaliteit dat daar sélf hoop geskep kan word vir ‘n beter toekoms!

2. Wie is Hendri as hy by die huis is?

‘n Mens sou dink dat die pratery iewers sou endkry, maar in my geval is dit nie so nie. Inteendeel, dis juis by die huis waar ek my geselsoefening inkry. Ek is van jongs af betrokke in kultuur. Sang en drama is ‘n passie van kleins af (te danke aan ‘n musikale familie-agtergrond) en dié passie het my loopbaan geword. Wat dit so lekker maak is dat dit nie net passies is wat by die werkplek uitgeleef kan word nie, maar dat dit by enige plek werk. Musiek en drama is deel van my daaglikse lewe.

Ek het Drama en Film geswot by die Tshwane Universiteit van Tegnologie en het dit vir my soms gevoel of dit my huis was, omdat studie en repetisie so ‘n groot deel van my dag opgeneem het. Maar harde werk en ywer het my by die radiowese gebring; ek is nou besig met my Meesters met die Suid-Afrikaanse radio-bedryf as fokus.

Ek spot altyd met luisteraars dat die skoene uitgeskop moet word en die voete net daar in die lug op die bank gesit moet word… Vandag kan ek bieg, ek doen dit graag by die huis! Verder is my hart vir familie en is dit altyd spesiaal om tyd saam met vriende en familie te kan deurbring (sien, die pratery kan ek net nie van ontsnap nie!)

3.Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?

Ek is gebore en getoë in Pretoria, Centurion, en my hart het nog geen ander plek geken nie! Ek het aan Hoërskool Zwartkop gematrikuleer…so ek kan eerlik sê, my bloed is blou.

4. Voltooi die sin: Ek weet ek is ’n Afrikaner, want…

… ek hou van braaivleis, boerewors en ‘n lekker koppie boeretroos!

5. Hoe lyk jou droom-Sondagmiddagete?

Sondag is kookkos dag. Daar is niks so lekker soos ‘n warm gekookte bord kos, voorberei met moederlike liefde nie! Belangrik om te noem is die groente: dit moet soet-pampoen en fyngemaakte boontjies wees. Wat vleis aan betref, is daar nie spesifieke voorkeure nie, want vleis is vleis, en vleis sal daar geëet word.

6. Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?

As kind kon ek nie lank stilsit nie, so dit was nie wys om lang afstande met my te ry nie. Ons het as gesin op ‘n stadium jaarliks na ‘n vakansie-oord net buitekant Pretoria gegaan vir vakansie. Ek onthou die vakansieprogramme nog goed: ‘n mengelmoes: van sportaktiwiteite, tot inkleurkompetisies. Ek en my broer het elke jaar ons fietse saamgevat en vroeg-vroeg uit die bed gespring om te gaan rondry in die natuur. Ons perfekte ontbyt was die ham-en-kaas broodjies by die oord se kafee, waarmee ons gereeld ons ouers in die bed verras het (net nie met ons geld gekoop nie…)

7. Noem drie bekendes, lewend of nie, wat jy graag sal wil nooi om ‘n lekker bord boerekos met jou te geniet? Hoekom hulle?

Michael Bublé: Ek is mal oor sy musiekstyl en die manier waarop hy met sy gehoor kan kommunikeer. Ek sal ook nie omgee om sy versameling aandpakke te besit nie.

Barack Obama: Hy is een van die invloedrykste mense in die wêreld… Dalk het hy ‘n paar wenke?

Deon Opperman: Hy’s ‘n raakvatter! Hy spreek kwessies aan wat ander nie altyd bereid is om aan te raak nie. Sy patriotisme, eerlike opinies en diversiteit van werke het my reeds van universiteitsdae beïnvloed. Sy teaterproduksies trek gehore en sy televisie-reekse kykers. Wanneer Deon aan tafel by my sou sit met ‘n hoenderborsie in sy mond, sou my vraag wees: “Hoekom was ek nog nie in een van jou produksies nie?”

8. Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?

Neem die vraag my nou terug na my kinderdae. Ek onthou hoe The Jetsons my altyd gefassineer het met hulle vlieënde motors. Dink net hoe handig sal dit wees in ‘n samelewing waar ons so jaag na ekstra tyd. Sit in die verkeer neem so baie van ons tyd in beslag; dit sou so gerieflik wees om letterlik deur die verkeer te kan vlieg!

9. Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende indruk op jou gemaak?

Ek was nog ‘n kind ten tyde van die terreuraanval op die World Trade Centre op 11 September 2001, maar elke televisie-kanaal en radiostasie het gegons daaroor en ek onthou ek hoe jammer ek was vir families wat deur die tragedie geraak is. Die jaar daarna sou ek op die 10de September terugkeer van Finland na ‘n Jakaranda Kinderkoor-toer en gerugte het versprei dat daar ‘n moontlikheid was van ‘n soortgelyke aanval oor dieselfde tyd. Wat kan ek sê? ‘n Mens is naïef en word maklik bang gepraat. Dit was op die uiteinde net gerugte.

10. Terug by Atterbury. Hoe het die Atterbury Trust jou lewe die afgelope ruk geraak?

Hulle sê ‘n mens is nooit te jonk of te oud om ‘n verskil te maak nie. Met genade van Bo het ek na twee jaar in die radiowese ‘n MTN Radiotoekenning vir Beste Aandprogram en is ek ook genomineer vir Beste Musiekprogram. Ek het nog baie om te leer van die radiobedryf, maar wat ek beslis weet is dat die impak wat radio op ‘n gemeenskap het nie onderskat kan word nie! Hoe lank ‘n mens in die radiowese is, is nie eintlik ter sprake nie. Dit gaan oor wat jy met die oomblik maak wanneer jy agter die mikrofoon inskuif. Jou woorde kan inspireer of kan de-motiveer, woorde kan afbreek of kan help bou aan ‘n beter toekoms! Ons almal het die ondersteuningsbasis nodig om iewers te kom! Ek kan net die Here dank vir ‘n familie wat altyd ondersteunend is, ‘n verloofde wat moed inpraat, vriende wat net wil help, ongelooflike werkskollegas en Atterbury Trust wat my visie kan verstaan en ondersteun en help najaag! Walt Disney het nie verniet gesê: “If you can dream it, you can do it.” En ek is gelukkig dat baie van my drome reeds waar geword het; ek was bevoorreg om deel te wees van As jy Sing, Pandjieswinkelstories, ek was gasaanbieder op kykNET en Homebrew Films se BRAVO! En as deel van Atterbury familie kom daar nog groot dinge in 2014! Hou hierdie spasie dop!