1. As medewerker van die Atterbury Trust, wat beteken die trust vir jou?
Ek het self vir ‘n hulporganisasie gewerk vir amper 5 jaar en is by GROOTfm 90.5 ook verantwoordelik vir die gemeenskapsprojekte. Ek is gretig om met elke projek en aksie te leer hoe om beter en slimmer te help.   Atterbury Trust se werk en inisiatiewe getuig van ‘n baie gesonde benadering en balans tussen ‘n opregte belangstelling, liefde en omgee vir hulle “kliente” terwyl hulle met groot versigtigheid en sensitiwiteit mense se waardigheid bou en behou maar ook projekte, insamelings en terugvoer aan hulle donateurs met deursigtigheid en uitnemendheid doen.

2. Vertel ons van jou familie.
Ek is al 12 jaar lank dolgelukkig getroud met Johann Strydom en ons het 3 kinders, Paul (9) en ‘n tweeling, Hugo en Nina (7). My pa het as onderwyser afgetree in 2009 en my ma is steeds ‘n sekretaresse by ‘n Laerskool in Port Elizabeth.  Ek en my ousus, Debbie, verskil 11 maande. Sy werk ook in Port Elizabeth as ‘n CFA.

IMG_1580

3. Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is in Oudthoorn gebore en het in Hartenbos groot geword vir 9 jaar. Ek was bevoorreg om een straat van die see af te kon woon in Hartenbos.  Ek en my ousus, Debbie, het geboer op die strand.  Ek was in Laerskool Park in Mosselbaai tot in Standerd 1 en toe 9 jaar in Port Elizabeth (Laerskool Lorraine en Hoërskool Framesby) voordat ek op 18 vir die rol van Karin in die sepie Egoli, na Johannesburg verhuis het.  Nou, is ek al so lank ‘n Gautenger, ek is ook ‘n volbloed Blou Bul!

4. Voltooi die sin: Ek weet ek is’n Afrikaner, want…
…ek is lief vir my taal, lief vir my land en lief vir my Skepper! Ek hoort en behoort hier aan die Suidpunt van Afrika. Ek staan regop en trots, breëbors en geanker met flukse hande wat nie bang is om te werk nie. Ek is hier geplant vir ’n rede en sal my alles gee om hoop en hoop vir ons land en al sy mense te verseker!

5. Hoe lyk jou droom Sondagmiddagete?
Ek gee nie om wat ek eet nie, solank daar ‘n slapie vir “poeding” is. J

6. Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?
Oe, daar is so baie!  Seevakansies saam met my span, alleen toer saam met my man in die vreemde waar net ons twee mekaar verstaan en my eerste toer in Europa saam met my vriendin, Faith.

7. Noem drie bekendes wat jy graag sal wil nooi om ‘n lekker bord boerekos met jou te geniet.
Is my man Johann en kinders Paul, Hugo en Nina “bekend” genoeg om die gastelys te haal? Ek is nie ‘n goeie kok nie so as ek hulle kan bederf met ‘n bord boerekos, sal dit my groot vreugde gee!  Ons kosbare tye om die etenstafel is beslis van die hoogtepunte in my dag!  Al eet ons net een keer ‘n dag saam, staan die tyd vir daardie oomblik bietjie stil en gesels ons sommer net oor die ops en afs van die dag, dis lekker lag en laf tye, ek koester hierdie kuiertye en is baie suinig op my tyd weg van my gesin…

8. Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Ek is so ver agter met alles wat reeds op die mark is.  As hulle miskien vir my ‘n klok kan ontwerp met 26 uur, sal dit baie help!

9. Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende impak op jou gehad?
Jesus Christus se kruisiging en opstanding. Dit beteken dat elke dag met Hoop en verwagting vir die toekoms kan leef.

10. Terug by die Atterbury Trust. Hoe het die Atterbury Trust jou lewe hierdie maand geraak?
Ek lees hulle tweet en sien hoe opgewonde hulle is oor die eerste 40 pasiënte wat die Triomf Kliniek besoek het en dan dink ek aan die effens holrug-geryde “een-vir-een” see-ster storie.  Wie weet hoeveel pote het die seuntjie wat die see-sterre in die see terugslinger dalk afgebreek omdat hy so vasberade was om een vir een te red?  Een vir een gaan dit oor die hoe eerder as die hoeveelheid.  Atterbury Trust werk gefokus en slaag in die groot aksies en baie van dit, maar sonder om die klein, menslike detail te laat vaar en daarvoor het ek groot waardering!