1. Wat het die Atterbury kompetisie se eerste plek vir jou beteken?
Dit gaan nie oor wen nie. Die standaard is baie hoog, so vir my is die wen van Atterbury se kompetisie net ‘n groot beloning vir my harde werk. Die prysgeld het ek in die bank gesit en dit gaan handig te pas kom as ek volgende jaar BMus begin studeer. Die eerste plek het wel deure vir my oopgemaak waarvoor ek baie dankbaar is; ek is byvoorbeeld uitgenooi om ‘n uitvoering te gee op Mozart se persoonlike klaviere in Homburg in Duitsland, en ek het ook in Praag gaan deelneem aan ‘n internasionale kompetisie, waar ek vierde gekom het.

2. Wie is Lezanti by die huis?
Ek is die laatlammetjie na twee ouer broers, Rudo en Jean Pierre. Albei is al getroud en uit die huis. Ek is in matriek en woon saam met my ma, Hannelie, pa, LP, en my katjie. (Ek het vir 14 jaar n miniatuurpoedeltjie, Mozart, gehad, maar hy is oorlede). Ek oefen elke dag klavier. Ek is altyd besig, maar as ek ‘n gaatjie oop het gaan doen ek die kardioklasse by die gim. Dit laat my ontspan, so ek geniet dit vreeslik baie. Ek is ook mal oor klerewinkels en inkopies doen.

3. Waar gaan jy skool? Hoe het die skool op jou Atterburyprys gereageer?
Ek is in matriek aan Hoërskool Wonderboom. Die aand van die finaal het die skoolkoor in die omgewing opgetree en was toevallig agterna by ‘n restaurant buite die teater, so almal het my nuus gehoor en my kom gelukwens. Die skoolhoof het ook ‘n gelukwensingboodskap via sms gestuur. En by die skool het hulle dit aangekondig by die saalopening en by die kultuurdinee.

4. Voltooi die sin: Ek weet ek is’n Afrikaner, want…
Nog elke keer wat ek van oorsee af teruggekom het, het ek besef hoe baie ek die reuk van braaivleis daar oorkant gemis het!

5. Hoe lyk jou droom Sondagmiddagete?
‘n Groot familie-ete om ‘n mooi gedekte tafel met lekker gekookte kosse en vars vrugte en slaaie.

6. Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?
Elke Desembervakansie op Stilbaai! Ons het n groot familie-huis daar, waar my hele familie aan my pa se kant elke Desember bymekaarkom. Al die nefies en niggies (12 altesaam) kuier altyd lekker saam en ons het elke aand groot aandetes. Kersaande is ook ‘n groot familiegebeurtenis in ons familie.

7. Noem drie bekendes, by wie jy graag vir ‘n week ‘n huisgas sou wou wees.

  • Yeol Eum, ‘n bekende Koreaanse pianis. Ek bewonder haar en sal soveel by haar kan leer oor klavier.
  • Jamie Oliver, want ek is mal oor gesonde, lekker kos.
  • Prins William en Kate; ek dink hulle lewe is baie interessant en ek sal hou van die koninklike leefstyl!

8. Jy speel klassieke musiek, maar is dit al wat jy in jou vrye tyd luister?
Nee! Musiek bly musiek in my oë. Ek is mal oor Coldplay, en ek luister gereeld baie verskillende musiek afhangende van hoe ek voel..

9. Terug by  Atterbury. Behalwe om te wen, wat was die lekkerste aspek van drie jaar van die kompetisie?
Ek het nooit gevoel asof ek in ‘n kompetisie speel nie. Elke optrede het soos ‘n konsert gevoel. Almal is vreeslik vriendelik en ek voel die kompetisie is baie regverdig. Mens stap agterna met tevredenheid weg.

10. Jy het elke jaar deelgeneem van die begin van die kompetisie af en jy is nog nie 19 nie, so hoekom het jy nie weer vanjaar vir oulaas ingeskryf nie?
Ek sou verseker weer wou meeding! Ongelukkig mag die algehele wenner nie weer inskryf nie.

 10489642_789328191088176_2365127353179526022_n[1]