Die Afrikaanse rock-sanger en kletsprogramaanbieder Karen Zoid gaan probeer om die skat in woordeskat terug te sit, skryf Maroela Media op hul webwerf. Zoid is pas as die beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-projek aangewys en het reeds die woord “republiek” geborg.

“Ons het Karen gevra om beskermvrou te word omdat sy ikoniese status in die Afrikaanse musiekwêreld geniet en wyd gerespekteer word. Sy is buitengewoon begaaf en het aanhangers onder alle generasies,” sê Dr Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT.

Enigiemand kan ʼn woord vir R100 borg, of ʼn woord koop vir R5 000. As jy ʼn woord koop vir R5 000 mag niemand anders daardie woord borg of koop nie. Meer as een persoon kan dieselfde woord vir R100 borg. Elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord wat hy geborg of gekoop het.

Volgens Botha het Borg ʼn Woord Afrikaanssprekendes bewus gemaak van die waarde van ʼn woord en ook van die rykdom en verskeidenheid van die Afrikaanse woordeskat. Mense borg of koop woorde omdat dit ʼn besonder persoonlike bevrediging gee: Dit is jou woord. Dit is ook ʼn gewilde verjaardag- of Kersgeskenk.

Elke deelnemer kwalifiseer outomaties vir die prystrekking vir ʼn Sanlamprys van R25 000. Almal kry ook gratis toegang tot die aanlyn-WAT vir ses maande as jy ʼn woord borg of vir vyf jaar as jy ʼn woord koop.

Die volgende bekendes het onlangs betrokke geraak:
Hulle  het gekoop:

  • Steve Hofmeyr: pampoen en toeka
  • Rudolf en Sonia Gouws: bolyf en slaggereed.
  • Skrywer Wilna Adriaanse: bobbelsee
  • Chris Stals: markekonomie;
  • Skrywer en vorige beskermheer van Borg ʼn Woord Deon Meyer: nugter (vir Bennie Griessel) en spanning
  • Skrywer Ena Jansen: abba
  • Jan Braai: braai
  • Brand Pretorius: dienende leierskap
  • Jannie Mouton: entrepreneur
  • Boet Troskie: filmbaas
  • Johan Krige: Kanonkop
  • Hermann en Anette Giliomee: wispelturig, snotklap, pantoffel, skattebol en kolwyntjie vir hul vyf kleinkinders

Hulle het geborg:

  • Joan Hambidge: goegeloer en vuisboek
  • Skrywer, avonturier en dosent Johan Bakkes: karnallie en karnuffel vir sy vrou Nanna, pantoffel vir sy seun Mark, spookasem vir sy dogter Cara, kabouter vir sy skoonseun Gallie en pallieter (“lewensgenieter”) vir homself.
  • Skrywer Riëtte Rust: emoji vir Coenie de Villiers
  • Die skrywer Winnie Rust: ramkat en gedamasseerd ter herinnering aan haar pa (Boerneef se broer)
  • Oud-ambassadeur Albert Nothnagel: parasitokrasie
  • Skrywer Anzil Kulsen: tirk (woord wat in Upington en omgewing vir ʼn padda gebruik word) en poenankies.

Die staat het die WAT se subsidie in die afgelope tyd drasties ingekort. Borg ʼn Woord is een van die wyses waarop die maatskappy die voltooiing van die grootste projek ooit in belang van Afrikaans wil verseker. Volledige inligting oor deelname aan Borg ʼn Woord is te kry by www.wat.co.za (http://www.wat.co.za).

Die storie het oorspronklik op maroelamedia.co.za verskyn.