Om met voormalige Atterbury beurshouer Tamaryn du Preez te gesels, is om te besef watter waardevolle hulpbron die volgende generasie is, en hoe belangrik dit is om sulke jongmense te identifiseer en te help om hul volle potensiaal te bereik. Ons is geïnspireer deur hierdie briljante wiskundige met die groot hart en baie planne om die land se fondasie van onder af te versterk.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond?
Ek het in Pretoria grootgeword en skoolgegaan by Pretoria Tuine. Ons is vyf kinders in die gesin, ek is tweede. My pa het weer getrou en drie kinders by my stiefma (ek en stiefma kom baie goed oor die weg, uit my hele gesin dink ek sy verstaan my die beste!) Ek is nie net die eerste een uit my gesin wat op universiteit is nie, maar die eerste aan beide my ma en pa se kant, my ooms en tannies het meestal vroeg begin werk of het later eers diplomas gekry, soos hulle meer gevestig was.

Hoe het jy van die Atterburybeurs gehoor? En vir hoe lank het jy ‘n beurs gehad?
My LO juffrou, Juffrou Joubert, het ons vertel van Atterbury Trust. Ek dink in my jaar was daar drie leerders van my skool wat die beurs gekry het.  Ek het die beurs van 2010 tot 2016 gehad.

Ons hoor jy is ’n wiskundefundi wat selfs jou honneursgraad gecum het! Wat wou jy geword het toe jy klein was – was dit altyd ’n wiskunderigting?
Ek wou seker alles onder die son geword het; ek dink dit het halfjaarliks verander tot en met Graad 10 se kant! Ek was nog altyd lief vir wiskunde, dit was soos tweede natuur vir my.  Ek het dit altyd geniet om iets vir my klasmaats te verduidelik en te sien hoe hulle ‘n konsep snap as gevolg van my verduideliking – dit was regtig ‘n “kick”.

En wat doen jy nou?
Ek is tans besig met my Meesters in toegepaste wiskunde.  Ek werk vir die universiteit as ‘n assistentlektor en dit is ‘n droom! Ek moet op my tone bly, maar ek sal my beste gee om seker te maak my studente is voorbereid.  Ek doen privaat “tutoring”, as ekstra lesse vir leerders wat regtig sukkel.  Ek het ‘n leerder gehad wat al op Graad 6 gesukkel het met wiskunde, haar punt was maar iets in die 20 persent, en na twee kwartale se ekstra lesse het haar wiskundepunt verbeter na in die 60.  Maar die beste van alles – sy is nou ook lief vir wiskunde en dit maak my blyer as enigiets anders.

Ons verneem jy wil graag eendag wiskundesentrums begin. Vertel ons meer?
Die sentrums gaan gebeur so ‘n paar jaar na my PhD. Ek wil baie graag ‘n pos agter die skerms kry in die Departement van Onderwys, verkieslik laer onderwys.  Dit is daar waar mens moet ingryp wanneer leerders begin sukkel. Hoekom sentrums? Ons onderwysers werk klaar hulle vingers flenters.  Die leerders en die onderwysers kort hulp.  Die kurrikulum is ook ‘n groot problem, want die “higher ups” wil goeie resultate sien, asook goeie kwaliteit, maar hulle maak die kurrikulum groter in plaas van om te fokus op die basiese dinge.

Het jy al ’n idee van hoe dit sal werk? As mense hiermee wil help, wat kan hulle doen?
Op die oomblik dink ek nog aan die skole waar ek dit sou wil begin. Wanneer die tyd kom, sal ek raad kry by mense met ondervinding in onderwys. Wanneer ek ‘n skool het en ‘n plek naby die skool om die sentrum in te rig, sal ek hande nodig hê, en ‘n paar rekenaars. Dink hoe lekker sal dit wees om ‘n klompie skootrekenaars te hê wat jy vir die leerders kan leen – amper soos ‘n handboek wat jy vir ‘n jaar leen en dan gaan dit die volgende jaar na iemand anders wat dit benodig…Op die oomblik voel dit meer soos ‘n dagdroom as realiteit, maar elke dag stap ek nader aan daardie realiteit.

Suid-Afrika het sulke treurige wiskunderesultate.. wat dink jy is die oplossing? As jy die Minister van Opvoeding was, wat sou jy gedoen het om dit te verbeter?
Statistiek van 2007 wys dat vir elke 100 leerders wat in Graad 1 ingaan, slegs twee van daardie leerders skool klaarmaak met wiskundepunte bo 50 persent. Dit beteken dat ons geletterheid van die arbeidsmark nie groei nie, want ons produseer te min mediese doktors, ingenieurs, argitekte, rekenmeesters, ekonome en so voorts.  Sonder wiskunde kan ons nie die land groei nie. Maar die probleem is nie net wiskunde nie, die probleem is taal.  Ek was in n Afrikaanse skool waar wiskunde in Afrikaans aangebied is. Maar iemand wat byvoorbeeld uit ‘n Venda huis kom moet wiskunde in Engels leer. In my eerste jaar op universiteit moes ek skielik wiskunde in Engels doen, en dit was soos ‘n nuwe taal.  Ons sal óf wiskunde in elke liewe taal moet gee óf net in een. Daardie is ‘n saak vir n ander dag. Maar soos ek voorheen genoem het, die kurrikulum moet aangepas word om relevant te wees vir ‘n bepaalde ouderdom kind. Nou byvoorbeeld begin finansiële wiskunde in Graad 6; maar watter Graad 6 kind het enige behoefte om te weet hoe om ‘n huislening op huurkoop af te betaal? Nee, die praktiese aspek van wiskunde moet gebruik word om dit meer toepaslik te maak vir elke ouderdomsgroep.

Waarheen hoop jy sal jou graad jou lei, en waar wil jy graag oor 10 jaar wees?
Op die oomblik kan ek begin werk en baie geld verdien – ek kan, maar ek wil nie; ek wil mense help, ek wil die passie van wiskunde oordra na ander leerders en studente.  Ek wil ontslae raak van die storie van “hoekom het ek wiskunde?”  Ek glo my graad en PhD sal my daarmee help, want ek sal bewyse hê van my kennis, maar ek wil gaan help op ground zero. Ek wil nie ‘n “higher up” wees nie. Ek wil ‘n werker-by wees wat saam met die ander bye goeie heuning lewer. Oor 10 jaar wil ek by so ‘n sentrum werk en help om soortgelyke sentrums op te rig. Ek glo die sentrums sal eksponensieël groei, soos mense sien watter sukses dit behaal.

Wat is jou raad vir vanjaar se eerstejaars? Wat weet jy nou wat jy wens jy het geweet toe jy die eerste keer op kampus aangeland het?
Leer hard deur die semester; ‘n goeie semesterpunt maak die eksamen soveel makliker. As jy kan, bly in jou ouerhuis, jy gaan mamma se kos mis, glo my. Dosente het konsultasietyd vir die studente om te kom vra, en jy sal nie glo hoe baie konsultasie jou kan help nie. Ek het eers in my tweede jaar na my dosente toe gegaan want ek was bang vir hulle.  Maar elke dosent was ook op ‘n tyd ‘n eerstejaar, hulle verstaan waarvandaan jy kom.

Help ons om nog jongmense soos Tamaryn, wat ’n daadwerklike verskil aan ons land kan maak, ’n hupstoot te gee met ’n studiebeurs. Word ’n skenker aan Atterbury Trust se beursfonds, dis een kliek weg.