Pretoria se tweejaarlikse guerrilla kuns-ekstravaganza is na twee aflewerings nog maar in sy kinderskoene as mens dit met ander biënnales in die wêreld vergelyk. En tog het dit reeds ’n enorme impak op die stad, en het selfs al ’n internasionale draai gemaak. Wie sou kon raai dat dit grootliks die breinkrag van net drie mense is? Ons het gaan aanklop by Pieter Mathews en sy spannetjie om agter die kap van die byl te kom…

Nee dit kan nie wees nie – net drie mense? Eerstens, wie is elk van julle en hoe het julle by Cool Capital uitgekom?
Pieter M: Ek het die idee gekry vir Cool Capital tydens die Venesiese Biënnale in 2012 nadat ek ’n plakkaat gesien het wat gesê het: “We expect the discussion to go beyond Venice.” Ek het besluit om te ’n guerillafees in Pretoria te probeer.
Carla Taljaard: Ek het na ek my studies voltooi het vir ’n “gap year” die Cool Capital projek aangepak in 2014.
Jana Kruger: Ek het in ’n breuk tussen my honneurs- en meesters-studies vir ’n internskap by Mathews & Genote kom werk en so by die projek betrokke geraak.

Hoe bestuur mens iets so groot soos Cool Capital? Is daar ’n basiese beginsel wat julle inspan?
Dit is belangrik om te noem dat dit nie slegs ons drie is nie – daar is onsettend baie mense wat ons op informele wyse daarmee help. Die beste illustrasie hiervoor is Wikipedia: daar is mense wat die “servers” en webwerf van Wikipedia administreer (dis ons drie en almal wat ons bystaan in die Mathews & Genote kantore), maar die inhoud van Wikipedia word beslis nie slegs deur hulle geskryf nie! Dit is die harde werk van almal wat op ’n klein manier tot Wikipedia bydra, of dit nou is om inhoud te skryf, te vertaal of taalkorreksies te maak. Daar is te veel mense om op te noem wat gratis hul tyd en vermoëns gee om die projek suksesvol te maak. Mens is bang om iemand uit te los, maar daar is ’n paar staatmakers waarsonder ons Cool Capital nooit sou kon aanpak nie. Hulle sluit in ons borge: die Departement van Kuns en Kultuur, die Atterbury Trust, PPC Cement en Strauss & Co. Dan is daar mense soos Elani Willemse en die mense by Dionysus Sculpture Works wat elke jaar die gietery-dag reël, beeldhouers Izanne Wiid en Sybrand Wiechers, en eintlik die hele beeldhougemeenskap en verskeie toonaangewende kunstenaars van Pretoria wat projekte aanpak om ons te help. Ons goeie vriende by TUT – Pieter Greyvensteyn en die argitektuurdepartement, en Renier le Roux by die beeldhoukundedepartement. Ons vriende in die Middestad City Property en Adriaan Louw wat die staptoere aanbied, asook die wonderlike lektore Fatima Cassim (en Tukkies se department vir visuele kunste), en Prof. Chrisna du Plessis en haar kollegas by boukunde.

Hoe verdeel julle die werk – wie doen wat?
Dit hang af van waarmee die ander tans besig is. Ons probeer soos ’n Formule Een span werk, waar enigiemand kan los en iemand sal oorvat soos nodig is. Ons hou daarvan om te dink dat ons hande vir geen werk verkeerd staan nie.

Die biennale is net elke twee jaar, maar hoe lank voor die tyd begin julle werk?
Dit hang af van projek tot projek. Vir party projekte moet mens lank vooruit befondsing begin soek en planne begin beraam, ander projekte gebeur amper spontaan en in die oomblik. Ons probeer wel ten minste ’n halwe jaar rus voor ons beplanning vir die volgende fees aanpak.

Dit was ’n groot eer om verlede jaar by die Venesiese Biënnale uit te stal – was daar enige uitvloeisels daarvan?  Wat is die kanse dat dit weer gebeur?
Om SA in Venesië by iets so eksklusief soos die Biënnale te kon verteenwoordig het natuurlik vir Cool Capital baie beteken. Nie net het dit ons stad en sy inwoners se fantastiese projekte aan ’n internasionale gehoor bemark nie, maar dit het Cool Capital ook plaaslik meer gesag gegee. Ons is baie bly dat Cool Capital in die amptelike katalogus van die Biënnale opgeneem is, en dat ons katalogus- dokumentêre film in die baie gesogte Sterlingbiblioteek in die Giardini opgeneem is. Die Biënnale kies elke jaar ’n nuwe tema, en Cool Capital het in 2016 baie goed by daardie spesifieke tema ingepas. Daarom dink ons nie dat dit sommer gou weer sal gebeur nie. Ons wil graag ook vir ander organisasies dieselfde geleenthede gun as wat die Biënnale vir ons gebied het.

Wat is julle droom vir Cool Capital – wil julle internasionaal erken word?
Ons droom vir Cool Capital is gesentreer rondom die inwoners van die stad waar ons bly en werk. Natuurlik is internasionale erkenning ’n bonus, maar as gewone inwoners van Pretoria geïnspireer voel om eienaarskap en verantwoordelikheid vir hulle omgewing te neem, is ons werk gedoen.

Julle het pas verlede maand die pragtige Cool Capital 2016 tydskrif bekendgestel. Hoe lyk die terugvoering? Hoe kan mense ’n kopie in die hande kry?
Die tydskrif was ’n groot sukses en daar was byna 350 mense by die opening – dit op ’n vakansiedag! Ons het nie meer baie kopieë oor nie – dit is werklik gewild! Dis beskikbaar by Graffiti Boeke in Menlyn Maine en ons hoop om dit ook binnekort in Exclusive Books in Pretoria te hê.

Wat is die grootste les wat julle in 2016 oor die projek geleer het?
Eerstens dat ons dit nie sou kon doen sonder ons staatmakers nie, en ook dat mens jou energie moet fokus en eerder minder dinge baie goed doen, as wat mens halwe werk op te veel dinge doen.

En is daar reeds planne vir 2018?  Het jul al begin dink aan ’n tema?
Nee! Ons rus nog en probeer by ’n paar ander dinge uitkom voor die Cool Capital-koors ons weer pak. Jana is terug by die universiteit om haar meestersgraad te voltooi, en Carla en Pieter is weer voltyds besig by die argitekspraktyk  – ons “regte” werk…