Met Paasnaweek agter ons, beteken dit Atterbury se splinternuwe beursstudente is amper nie meer nuwelinge op universiteit nie! Vanjaar is daar in totaal 188 belowende jongmense in die beursprogram, en 64 van hulle het vanjaar by ons aangesluit, danksy die ruimhartige skenkings van al Atterbury se wonderlike donateurs.

Kyk mens na die getalle, sien jy die volgende patrone: die skone geslag is in die meerderheid, met 114 meisies teenoor 74 ouens. Die Universiteit van Pretoria is waar die meeste van hulle ingeskryf is – 70 in totaal – en die res swot by Noordwes Universiteit, Unisa, Stellenbosch Universiteit, Universiteit van die Vrystaat, AROS, CPUT, Belgium Campus, Isa Carstens en nog ‘n handvol ander instansies… Ons het ook twee hoërskool-leerders, een in Graad 10 en die ander in Graad 11.

Onderwys is by verre die gewildste studierigting, met 42 van ons studente wat besig is om hulle as onderwysers te bekwaam. Met opvoeding so hoog op Atterbury se prioriteitelys voel ons besonder trots om te dink aan die wonderlike bydrae wat hierdie groep eendag gaan maak deur terug te ploeg in die onderwys.

Wetenskapsrigtings kom tweede, met 32 studente wat ingeskryf is vir B.SC-grade, in ‘n verskeidenheid van rigtings van Veeartsenykunde en Aardwetenskap tot Spraakterapie en Genetika. Die ander grootste groepe is B.Com met 32 en ingenieurswese, met 27 studente, hoewel regte ook gewild is – daar is 11 LLB studente. Ses studente swot medies, en die kunste word ook verteenwoordig, met fotografie en ontwerp, teaterproduksie en skone kunste.

So hoe gaan dit met die nuwelinge nou dat ‘n kwart van die eerste jaar verby is? Derik Venter, ‘n BCom student aan UJ en Stephano Roodt, wat BSc by Stellenbosch swot, deel hulle eerste indrukke:

Hoe het julle by Atterbury uitgekom?
DV: Ek het na matriek begin werk omdat ek nie kon bekostig om dadelik te gaan studeer nie. Ek het ‘n bietjie deeltyds geswot, en die laaste werk wat ek gedoen het was om ekstra wiskundelesse aan te bied vir hoërskoolkinders. My ma het uitgevind van Atterbury Trust se beursprogram en ek het dadelik aansoek gedoen. Ek het baie geluk en dankbaarheid in my hart dat ek deel van die Atterburyfamilie kan wees!

SR: My suster, Suné, het een van Atterbury se beurse, so dit is hoe ek geweet het van die program. Ek het styf duimvas gehou dat ek ook so gelukkig sou wees!

En as die beurs nie gematerialiseer het nie, wat was Plan B?
DV:  My Plan B sou wees om aan te hou werk en later te probeer om my studies deeltyds te voltooi.

Hoekom het jy jou vakrigting gekies?
DV: BCom Finance interesseer my omdat finansies so ‘n belangrike deel is van elke individu en alle besighede se bestaan. Ek sal graag mense en besighede wil help om hulle finansies beter te bestuur. Ek vind dit verskriklik interessant hoe verskillende faktore finansiële besluite kan verander. Dis ‘n veld wat gedurig verander en ontwikkel en dit sal mens op jou tone hou!
SR:  Ek het besluit op BSc Veekunde omdat ek graag met diere werk, en graag buite is. Dis ‘n veld met baie werksgeleenthede, wat ook my besluit beïnvloed het.

Wat was die grootste aanpassing tussen skool en universiteit?
DV: Die werk is baie meer as op skool en mens het nie iemand wat heeltyd kyk of jy wel jou werk doen nie. Dis moeiliker werk, wat nogal ‘n aanpassing is, maar as mens bybly en jou deel doen, maak jy sake makliker vir jouself
SR: Ek stem! Die hoeveelheid werk, en die feit dat jy self moet verantwoordelikheid neem daarvoor is beslis die grootste verskil tussen skool en universiteit.

En wat is die lekkerste deel van studentwees sover?
DV: Ek reken dis die tyd wat jy het om saam met vriende en familie deur te bring, mits jy natuurlik bybly met jou studies! En dis so lekker om so baie verskillende soorte mense te ontmoet.  Die lang Desembervakansies is ook nie te versmaai nie!
SR: Alles is nuut, en dis so ‘n avontuur! En ek geniet dit om so baie nuwe mense te ontmoet.

Waarna sien jy uit vir die res van die jaar?
SR: Ek swem vir Maties se nasionale span, en ek sien geweldig baie uit na my swemtoekoms dié jaar… Ek oefen twee tot drie keer per dag, en het onlangs eerste gekom by ‘n swemkompetisie by die V&A Waterfront in Kaapstad, so ek kan nie wag om te sien wat ek vanjaar gaan bereik nie!

Om by te dra tot die Atterbury Trust se beursfond, kliek hier.