Leonie du Preez van GRO nou elke twee weke by Beyers Bytjies in Danville

Beyers Bytjies Kleuterskool in Danville het ‘n hart so groot soos ‘n skoolbus. Daar is altyd plek vir nog een maatjie, maar die behoefte raak al  groter. Tans is daar 163 kinders wat uit Danville, Elandspoort en Philip Nel Park kom. Die gemiddelde huishoudelike inkomste van die ouers is R5 000.00 en daar word daagliks 70 tot 80 kinders by die skool gevoed.

Die kleuters se ouderdomme wissel tussen 4 en 6 jaar. Met blink ogies en vuil handjies droom hulle ook om eendag ‘n prins te ontmoet, om soos ‘n prinsessie in ‘n trourok te lyk… en om ‘n nuwe kar te ry.

BEYERS BYTJIES / GrootFM – Kerspartyjie op 22 November 2013

kerspartytjie

Atterbury en GrootFM het saamgewerk om die naderende Kerstyd by Beyers Bytjies spesiaal te maak. Lindie Strydom van GrootFM het ‘n beroep oor die radio gedoen om nog vennote te betrek en baie vinnig was Santa Shoebox, Shangoni en King Pie aan boord!

Die Kerspartytjie was ‘n bederfdag waartydens vir elkeen van die 180 kleuters ‘n stukkie hemel geskep is. Die mense van Santa Shoebox wat verlede jaar 47 820 soortgelyke geskenkpakke in Gauteng uitgedeel het, het vir elke kind ‘n spesiale geskenkpak gegee – elkeen is by die naam geroep, in die oë gekyk en spesiaal laat voel! Shangoni se span het sommer vroegoggend al met die heerlike geur van braaivleisvure ‘n heerlike atmosfeer op die skoolgronde geskep. As julle by Shangoni die “aarde bewaar” soos julle kan braai, voel ons almal baie veilig!

Die Atterbury familie het vir inkleurboeke en kryt vir die Desembervakansie en skryfbehoeftes vir die nuwe jaar gesorg, terwyl King Pie se gelukbringer pasteie vir die honger magies uitgedeel het.

BEYERS BYTJIES – musiekkonsert 2013

musiek konsert

Beyers Bytjies het op 31 Oktober vir die eerste keer ‘n musiekkonsert op Laerskool Generaal Beyers se verhoog aangebied. Die konsert het bestaan uit verskillende liedjies, klanke en saamsing. Juffrou Liesel het elke Dinsdag die afgelope jaar vrywillig vir die Graad R- en RR-leerlinge ‘n sangklas aangebied. Sy het baie geduld en ‘n groot passie vir musiek. Elkeen van die 180 kindertjies het die geleentheid gehad om op die verhoog te sing. Ongeag die note wat ons gehoor het, was dit ‘n persoonlike oorwinning in elke kinderhartjie. Na afloop van die konsert het die ouers trots hande geklap en ons het besef dat musiek harte aanraak soos woorde nie altyd kan nie.

“Music gives a soul to the universe, wings to the mind, flight to the imagination and life to everything.” – Plato

Daarna kon ons 130 kg droëwors en biltong aan hulle oorhandig wat deur ‘n paar “weldoenerjagters” geskenk is. Hettie, wat in beheer van hulle kosprojek is, se woorde was: “Dit is die eerste keer vandat ek 7 jaar gelede hier begin het dat iemand vir ons biltong en droëwors gee…”

Ons beplan om op Vrydag, 22 November ‘n Atterbury/GrootFM kerspartytjie vir hulle te hou. Ons gaan in samewerking met GrootFM kerskaartjies versier, kolwyntjies maak, geskenkpakkies uitdeel en saamkuier. GrootFM gaan daardie dag van daar af uitsaai. Hou asseblief solank julle dagboeke oop!